Eerstes en laastes, en toe weer ‘n begin!

‘n Tyd gelede het ek oor my aftrede ‘n klompie gedagtes gedeel. En hier sit ek nou – afgetree!

Maar wat ‘n heerlike afsluiting was dit nie! Ek is op die hande gedra, ek is bederf en toe was dit die emosioneel belaaide groetwoord aan ouers, aan personeel en aan kinders. Vir hulle wat hierdie sou lees en nog nie afgelei het in watter beroep ek is/was nie – in die onderwys en meer spesifiek met aftrede – ‘n skoolhoof in die laerskool. Maar aftrede bly aftrede. En elkeen wat by aftrede kom (watter beroep ter sprake mag wees), moet dit op sy/haar manier verwerk. En die verwerking of eerder, gereedmaking hiervan, begin reeds voor die finale groetwoord gebring en die kantoordeur vir die laaste keer toegetrek is. Wat bedoel ek? Kinders kom by die kantoor in en bring getekende prentjies met boodskappies op soos “Meneer moet nie weggaan nie”, of, “Kan meneer nie maar bly nie”. Ouers langs die sportveld of in die skool se gange vra: “En wat beplan jy om na jou aftrede te doen?”, of, “Die tydjie raak nou min”, of tydens ‘n beheerliggaamvergadering word opgemerk dat hierdie ook die laaste een is. Personeel se reaksie was meer ‘n kyk in die oog en in uitdrukkings, of ‘n sug met “Ai, meneer!”

Maar terug na my titel vir hierdie post. Ek is deur ander en ook deur myself herinner, dat ek voor aftrede, ‘n tyd van laastes sou beleef. En dis verseker so. En dit het my laat besef dat daar ook ‘n tyd van eerstes was of ‘n begin. Daar was die eerste aanstelling, die eerste personeelvergadering, die eerste klas, die eerste rugbyspannetjie wat ek moes afrig, die eerste dissiplinêre geval, die eerste skoolkonsert, die eerste boek wat gemerk moes word, die eerste ouergesprek oor ‘n kind se werk en vordering, en so kan ek aangaan. En so het die ervaring begin en die ook die kosbare en nodige lesse wat ek moes leer. Maar die eerstes was nie net in daardie eerste skool waar ek aangestel was nie. Soos die jare gekom en ek by ander skole aangesluit het, het daar verdere eerstes gekom – my eerste teleurstelling oor ‘n kollega se onprofessionele optrede teenoor my en ander, die eerste teleurstelling toe ek nie as bevorderbaar beskou is nie, die eerste ervaring van die betekenis van professionele en kollegiale ondersteuning, my eerste ware mentor en van iemand wat my in die oë kom kyk het en my verder deur geleenthede blootgestel en ontwikkel het, en so my op die pad van bevordering en verdere kwalifikasies geplaas het. En so het die eerste bevorderingsgeleentheid aangebreek, tot daar waar ek as skoolhoof my eerste bestuurspan moes saamstel, my eerste beheerliggaamvergadering moes reël met die eerste agenda en stawende en verduidelikende dokumentasie.

En nou aftrede en weer ‘n eerste en nuwe fase!

Ek glo jy sien in jou gedagtes ‘n chronologiese tydlyn met jaartalle en die begin en einde van ‘n loopbaan. Maar dink en verstaan mooi en kry perspektief. Dit alles is maar net eintlik spikkels in die groot heelal en skeppingswerklikheid. My begin was daar voor ek nog gebore is. My lewenspad is vasgestel deur my Skepper – en so ook jy en ander! Deur alles en met die winde van verandering en die eb en vloed van die lewe, is en was die besef skielik, duidelik en helder vir my, meer en meer en nou nog meer, te midde van al die eerstes en eindes en beginne en laastes, die wete: Daar is die onveranderlike, lewende en heilige God Drie-enig, die Alfa en Omega – die ware Begin en Einde, wie my deur alle situasies geneem en gelei het, en gewys het dat Hy in beheer is; dat ek niks te vrees het nie – ook nie in die nuwe begin en fase nie, “want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”. (Hand 17:28).

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s