Roeping

Wat is ons idee oor “roeping”?

Vir sommige is dit om iets spesifieks te doen of te onderneem; vir ander is dit breedweg ‘n beskrywing van die lewe en wat alles oor ‘n mens se pad daagliks kom om te doen. Soms hoor ‘n mens van iemand die gedagte dat hy/sy vanoggend uit die bed opgestaan het om op daardie spesifieke dag net weer ‘n slag ander te laat goed voel en belangstelling te toon. Voorafgaande voorbeelde of idees kan sekerlik as ‘n roeping beskou word.

Tog, as ‘n mens mooi nadink, dan beteken roeping dat daar iemand of iets is wat roep en dat die een waarna geroep word as ‘n geroepene beskou kan word. Ons is almal amper daagliks in ‘n posisie of situasie waar iemand iemand anders roep. Dit gaan dan ook gewoonlik met ‘n opdrag of vraag gepaard waarna afwagtend op reaksie gewag word. Of daar is vinnige en positiewe reaksie, of daar is ‘n negatiewe reaksie wat geen/vertraagde reaksie kan insluit. Kortom: sonder ‘n spesifieke verhouding, kan daar nie eintlik sprake wees van roeping en die realisering daarvan nie. Tog, …

My idee oor roeping en wat dit in my lewe beteken, het dan ook die afgelope tyd my diep laat nadink, veral nadat ek ‘n artikel (geskryf deur prof IW Ferreira) gelees het. Die artikel het in “Die Kerkblad” verskyn met die opskrif: “Moet nooit van God (probeer) weghardloop nie”. Die sub-opskrif van die artikel het egter ‘n verdere feit beklemtoon, naamlik: “God sal sorg dat sy opdrag uitgevoer word, al moet Hy sy profeet ook op ‘n buitengewone wyse tot gehoorsaamheid bring”. Dit gaan hier oor die verhaal van Jona wat vir God probeer weghardloop het. In die artikel vestig die skrywer die leser op verskeie karaktertrekke wat uit Jona se optrede en houding blyk. Iemand/’n geroepene wat van God probeer weghardloop, is:

  • iemand wat nie God se hart vir verlorenes deel nie;
  • iemand wie se lewensfokus en rigting nie bepaal word deur God se roeping nie, maar sy eie selfgerigte oorlewing;
  • iemand wat onsensitief is vir God se beproewing wat hom wakker wil skud;
  • iemand wat uiteindelik God se bevel gehoorsaam, maar steeds nie God se hart verstaan en deel nie

As ek bostaande karaktertrekke fyn bekyk, dan wonder ek oor my eie lewe. Die vraag wat maal, is of ons werklik besef dat God oor alles en almal heers en in beheer is. Ek moet myself telkens daaraan herinner dat my lewe daagliks met elke sekonde en minuut deur God in stand gehou word, dat ek maar net wik en dat God beskik. Ek betrap myself dat ek so vasgevang is met my eie sorg, my eie (selfsugtige) planne. Ja, ek besef dat ek God se genade daagliks ervaar, maar hoe is ek ‘n seën vir ander – in my klas, my gesin, my personeel?

Ons praat so maklik oor prioriteite en dit klink so goed en indrukwekkend op die oor, maar hoe verbind dit en hou dit rekening met God se “agenda”, sy wil en sy raadsplan? En eintlik is ons soos Jona besig om die regte geluide te maak, die boodskappe oor te dra, terwyl ons uiteindelik in die teenoorgestelde rigting beweeg – vlug! Laasgenoemde dui verder op ‘n ongehoorsame houding teenoor God en sy opdrag en roeping. Ons weet wat die regte antwoord is, die regte pad, die regte ding om te doen, maar doen dit nie. En wanneer die druk verhoog, dreig ons dan soms met bedanking en boedel oorgee en gaan sit ons in sak en as met verwyte en blaam, as om op te staan en onverskrokke op God se roepstem ja te antwoord.

En hier sit ek nou na jare met ervaring en kennis waarmee God my toegerus het – dit kom van Hom af deur geleenthede en selfs beproewinge. En hou ek dit alles vir myself? Is ek bewus van die roepstemme/noodroep van ander, van ‘n sisteem en kyk ek weg? Of word ek lamgelê deur vrae/opmerkings, gerig deur selfsug/selfregverdiging/selfs afguns; vrae/opmerkings soos:

  • Dit kan nie werk nie?
  • Ek weet wat ek het, maar ek weet nie wat ek gaan kry nie.
  • Solank mense my net uitlos en met rus laat.
  • Ek wil nie aanstoot gee nie.
  • Ag, ek weet al wat die reaksie gaan wees.
  • Dit help nie, hulle sal tog nie verstaan nie..
  • Ek sê maar soos wat dit aan my oorgedra is. As jy my nie wil glo nie, gaan vra dan eerder direk vir hom/haar.

Ek wil afsluit met ‘n sin uit die artikel waarna ek verwys het. Prof Ferreira sê : “Die boek Jona gaan in die eerste plek nie oor die profeet Jona nie, maar oor God”. Ons is slegs middele in Sy hand. Wat Hy wil, doen Hy. God sal sorg dat sy opdrag uitgevoer word, al moet Hy sy profeet ook op ‘n buitengewone wyse tot gehoorsaamheid bring. Ons moet hieruit die sekerheid en die troos kry dat ons nie van God kan weghardloop nie. Hy sal sy raadsplan uitvoer. Hy roep en ons moet volg.

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s