Dissipelskap en die onderwyser

Vir ‘n geruime tyd het ek die behoefte om oor ‘n onderwerp te skryf wat my na aan die hart lê. Ek waag daarom my hand aan ‘n onderwerp met die wete dat ek eerstens slegs as’t ware aan die oppervlakte raak, en tweedens, dat ek dit doen, welbewus van my beperkte denke en gebrokenheid.

Die titel mag vir die hedendaagse onderwyser (of breedweg, selfs vir enige persoon buite die onderwys) vreemd, selfs verouderd lyk. Tog, volgens my is een en elkeen in hierdie wêreld ‘n dissipel. Hoe so? Of jy is ‘n dissipel met uit en uit ‘n fokus op hierdie sekulêre wêreld met die uitsluitlike nastreef en navolg (dissipel) van ‘n wêreldse/planetariese rolmodel/sisteem waar God nie geëer en verheerlik word nie. Of jy is ‘n dissipel en volgeling gerig op Jesus Christus wie uitsluitlik jou totale lewe bepaal en lei, tot eer en verheerliking van Hom. Dus, wie ‘Christen’ sê, sê volgens my ook ‘dissipel’. Of soos iemand dit gestel het: “Daar behoort nie tussen Christene en dissipels onderskeid gemaak te word nie. Daar is nie sogenaamde dissipels wat ‘ware’ of ‘beter’ gelowiges is en Christene wat hulleself besig sou hou met die Christelike godsdiens sonder om in ’n persoonlike verhouding met God te staan nie”.

Kom ons kyk net na ‘n algemene beskrywing of verduideliking van die begrip ‘dissipel’ met die vraag: Wat beteken dit om ‘n dissipel te wees? Iemand het dit mooi en treffend soos volg gestel: Dit beteken om onder die dissipline te kom van iemand wat meer volwasse is. So byvoorbeeld kan dit geld vir ‘n situasie waar ‘n kind wat hom/haar in ‘n doodloopstraat bevind en hulp soek, die hulp gaan kry by iemand, ‘n onderwyser/’n terapeut/’n ouer/ens, wat reeds dit ervaar het waarmee die kind worstel, of op grond van hulle gespesialiseerde kundigheid wat hulle kan bied. Ek hoop om verder in hierdie post meer en meer vanuit my Christenskap en teen die agtergrond van Christelike onderwys na die begrip te kyk en minder en minder vanuit ‘n wêreldse konteks.

Net vir duidelikheid: Die begrip ‘wêreld’ verwys na ‘n geografiese en fisiese wêreld soos waarin ons leef, maar dit verwys ook na ‘n faset/komponent/aspek/omgewing wat teenoor die Christen kom staan en nie bely wat die Christen bely nie – in opposisie en in vyandigheid dus. Wanneer ek dan in hierdie wêreld na dissipelskap kyk, doen ek dit nie vanuit ‘n tipe kloosteropset nie, maar vanuit die wete dat ek daagliks met ‘n wêreld of omgewing te make het wat my negatief wil en kan beïnvloed tov my taak as dissipel. Ek wil my eerder in en teenoor die wêreld onderskei op grond van my oortuiging as dissipel van Jesus. Trouens, vir my het die Christenonderwyser  (getrou en gehoorsaam aan sy/haar roeping) ook byvoorbeeld ‘n rol en taak en verantwoordelikheid om binne hierdie wêreld sy roeping uit te leef en sy/haar gawes aan te bied in naasteliefde tot voordeel van almal wat sy/haar pad op watter wyse ook al kruis, maar tot eer en verheerliking van God drie-enig. Dit is dan ook in hierdie opsig dat Christenonderwysers binne ‘n openbare skoolopset, wat moontlik sterk deur sekulêre waardes/motiewe gedryf word, die geleentheid kan benut en hulle kan onderskei met ‘n ingesteldheid van diensbaarheid volgens die voorbeeld van Jesus – dié ‘Dissipel’ wie perfekte gehoorsaamheid teenoor die Vader geleef het.

Die Christenonderwyser in terme van sy/haar dissipelskap is ‘n man of vrou wat ‘n nuwe skepping in Jesus Christus is en nie langer vir hom- of haarself leef nie. Dit is die effek van die roeping soos dit ook in die Bybel beskryf word toe Jesus sy dissipels geroep het en hulle in gehoorsaamheid reageer het en Hom onmiddellik gevolg het – aanvanklik dan ook letterlik gevolg het – agter Jesus aangestap het terwyl Hy besig was om mense te onderrig en te leer. Net so terloops. In my eie loopbaan het ek die voorreg gehad om  konferensies en simposiums by te woon waar verskeie sprekers referate gelewer en ek van hulle insigte, idees en opinies kon kennisneem. Ek het dan daarvan teruggekeer ‘gepantser’ met ‘n sakvol aantekeninge, reg en gereed om toe te pas. Tog het ek na ‘n ruk die gevoel gekry dat alles weer aanbeweeg het, wel bewus daarvan dat ek nie meer daardie aanvanklike verbintenis, entoesiasme en opgewondenheid ervaar nie. En in baie gevalle kon ek die spreker nie eers meer in my gedagtes herroep of eien nie. En ek reken die rede hiervoor kan met die volgende aanhaling tov die aard en verwagtinge van ‘n dissipel, verklaar word:

“A disciple did not merely attend lectures or read books, they were required to interact with and imitate a real living person. A disciple would literally follow someone in hopes of eventually become what they are”.

As dissipels van Christus – leerlinge – word ons deur Christus geroep tot ‘n lewende en aktiewe verhouding met God. God is nie passief en daar ver nie. Hy is in beheer en hou alles in stand. Hy maak bemoeienis met ons en ons word daagliks opgeskerp deur Jesus en sy beeld om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie, maar ons denke te vernuwe deur ‘n voortdurende ondersoek van en gefokusheid op God se Woord. Daarom ook die essensiële vraag vir elke Christen-gelowige: “Waarom volg jy Jesus; wat is ons motiewe? Neem kennis van Jonathan Dodson se woorde:

“Jesus forces us to reflect on our motives for following Him. If we live for comfort and ease, we won’t give up our beds, money, and entertainment to follow Him. If idyllic community is what motivates our decisions, we won’t give up close friends and family members. Jesus is clear. If we want to be His disciples, we must be motivated by something greater than comfort and community. His kingdom must motivate us, and the kingdom comes with a cost.

True disciples will consider and embrace the cost over and over again. They will endure because, in finding the kingdom, they have found a King worthy of their sacrifice. Searching for the why of their existence, they discover a pearl of great price. Disciples motivated by pragmatism alone may consider the cost and embrace the cause of making disciples who make disciples, but when push comes to shove, they will walk away from Jesus, not after Him. We need more than the hows of fulfilling the Great Commission to get us through the adversity of seeking first the kingdom of God”.

Nou dat ek myself weer herinner het aan die aard en inhoud van dissipelskap, wil ek verder in hierdie post konsentreer op hoe dissipelskap mentorskap beïnvloed en bepaal. Die Christen mentor as dissipel kry sy/haar krag, insig en wysheid vanuit die Woord en leef elke dag met volle erkenning aan sy/haar afhanklikheid van God se Woord. Die mentor besef ook sy/haar gebrokenheid (in ‘n gebroke/vervalle wêreld) en geneigdheid om nie God se wil te soek nie. Om daarom soos Jesus te wil wees, verootmoedigend in gebed tot Hom te nader en sy volmaakte voorbeeld na te volg en op sy onderwysing en leiding te let, is al manier om fokus te behou en perspektief te kry oor hoe die mentor ander kan help en lei. Ander moet dus Jesus (as die volmaakte Mentor) kan raaksien soos wat die Christenmentor Jesus se beeld reflekteer.  In die proses behoort die Christenmentor ‘n gesindheid in te neem wat spreek van nederigheid waar nie eie eer gesoek word en waar grootpraterigheid en hoogmoed nie ‘n plek het nie. Om dus ‘n mentor te wees, noodsaak dat ek as mentor my daagliks moet verbind aan die beeld van Jesus deur die werking van die Heilige Gees wat Jesus se beeld in my meer en meer sigbaar deur heiligmaking maak. Daarom is ek ook onder die dissipline van Jesus (let wel: Dissipline en Dissipel het dieselfde Latynse wortel en dra in dit die beginsel van orde). Dissipline en dissipelskap is daarom onskeibaar van mekaar. Enige jong en ook ervare Christenonderwyser moet deurentyd onthou dat hy/sy as ‘mentor’ vir kinders die verantwoordelikheid ook het om kinders te dissiplineer en tot orde en korrektiewe optrede te roep. In hierdie verantwoordelikheid lê ook opgesluit die voorbeeld wat die onderwyser in sy privaat lewe stel. So dikwels sien ons deesdae dat mense/onderwysers reken dat hulle hul privaatlewe kan skei van die skool- en professionele lewe. En dan is dit uiteindelik nie ‘privaat’ nie, want deur middel van die sosiale media en kuberruimte word boodskappe en beelde die wêreld ingestuur wat nie strook met die beeld van ‘n Christenonderwyser nie. Maar meer hieroor in ‘n volgende post.

Ons hoor gereeld die uitroep dat ons beter leiers en mentors in hierdie wêreld nodig het. En dan gaan ons deur baie moeite en beplanning en ontwikkelingsessies om dit bereik sonder om vanuit ‘n Bybelse perspektief hierna te kyk, of erkenning te gee dat daar Bybelse modelle is van mentorskap en wat leiers werklik sal staal vir die opdrag en taak op hande. Hier kan ‘n mens net kyk na die verhouding tussen Silas en Paulus wat duidelik op ‘n model vir mentorskap dui en waar Silas deur sy medewerking, sy passie en sy persoonlike verhouding met Paulus die Evangelie na die wêreld uitgedra het. In hierdie proses gebeur alles nie sommer net maklik en sonder opofferings nie. Dit gaan gepaard met heelwat ontberings. Daarom kan die mentor ook vanuit persoonlike ervarings praat en ander wys op die slaggate, maar ook op die duidelike heenwys na die Een, Jesus Christus, wie reeds die pad voluit en met oorgawe ter wille van ons gestap het. Hierdie wete bemoedig ons dan as Christenonderwysers om te weet en die versekering te hê dat ons nooit alleen is en hoef bang te wees nie (vgl Handelinge 18:9). God rus die mentor toe met padkaarte om soos ‘n skrywer dit treffend gestel het, “to get around the distracting traps presented alluringly by the Devil, the world, and our own inevitable corruption”, met die verdere verwysing na Paulus wat met oortuiging en moed en sekerheid en vanuit sy eie ervaring die volgende as opdrag kon stel: “En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen” (Fillipense 4:9), en 1 Kor 4:16 met die woorde: “Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!”. Paulus kan dit sê, nie om homself te eer en sy eiebelang te soek nie, maar omdat hy dit in die naam van die Here kan sê. Die laaste deel van vers 9 in Fil 4 sê dan “En God wat vrede gee, sal by julle wees”. En dan ook die woorde in 1 Kor 4:17 waar Paulus Timoteus betrek en saam in vrymoedigheid kan verklaar: “Hy (met verwysing na Timoteus) sal julle herinner aan my lewe en leer in Christus Jesus, waarin ek ook oral in elke gemeente onderrig gee” (my eie invoeging). Is hierdie woorde van Paulus nie uiteindelik ‘n model vir elke Christenmentor nie, maar met die uitroep Soli Deo Gloria? Aan God al die eer!

Paulus het geweet dat die gesag waarmee hy optree, Godgegewe gesag is. Hy het ook dan ook onder leiding van die Heilige Gees met verantwoordelikheid en met ontsag vir God, gehandel. Daar is egter ook ‘n anderkant (negatiewe/verkeerde benadering/gevaar) waarvan kennis geneem moet word. Iemand het dit in die lig en woorde van onder andere Titus 2:15 soos volg en baie treffend die volgende gesê:

“Mentors can unfortunately become tormentors when they misappropriate and misapply their God-granted authority. Authority is a gift. Rebuking comes like a scalpel with care, not like a sledgehammer with careless judgmentalism. Authority is to be exercised for building up, not tearing down, for edifying, not destroying. Mentors provide: support through hard times, navigation through bewildering times, hope through despairing times, and joy through perilous times. In order to provide positive feedback for those who are fed-up, mentors must be well-fed on the grace of Christ that comes through God’s Word and sacrament … Pointing to the Savior is the overriding purpose of mentoring — there is one mediator, one Mentor, between God and humanity, the man Christ Jesus. When Christ is displaced, whenever human personality becomes sinfully uplifted by an inward curvature of the ego, difficulties will always creep in” (eie beklemtoning).

Voordat ek in ‘n volgende post meer oor die effek van ons dissipelskap mbt ons kinders/leerlinge gesels, wil ek graag die volgende aanhaling oor dissipelskap met elke Christen onderwyser deel, as bemoediging vir die belangrike opdrag en taak wat ons as volgelinge/leerlinge van Christus het. B Hull sê: “… discipleship occurs when a transformed person radiates Christ to those around her. It happens when people so deeply experience God’s love that they can do nothing other than affect those around them. The heart of being a disciple involves living in intimate union and daily contact with Christ. Discipleship – the effort both to be a disciple and to make other disciples – is about the immense value of God at work in one individual’s life and the resulting impact on other lives” (eie beklemtoning).

Dissipelskap mag nie maar net in die verbygaan ligweg gemeld word nie.

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s