Rolmodelle en ons kinders

Van kleins af word en is ons ons kinders blootgestel aan die idee van rolmodelle en die waarde daarvan vir ons lewe. Hierdie rolmodelle funksioneer in verskeie samelewingsverbande. Ons hoor van rolmodelle in die sportwêreld, in die modewêreld, in die kunste, en so kan ons voortgaan. So sal ‘n jong sportman of -vrou hulle spel en vaardighede soms baseer op ‘n legendariese sportster wat diep spore in ‘n spesifieke sportkode gestap het en wat in die algemeen as held gehuldig word. Of iemand sou sy/haar styl mbt ‘n spesifieke kunsvorm op ‘n spesifiek kunstenaar baseer. Wanneer ons dan saamgesels en kuier, raak ons soms gillend opgewonde as van ‘n sekere en bekende persoon gepraat word. Ons begin as’t ware mekaar ‘uitdaag’ en poog om te kyk wie kan die meeste inligting oor die persoon (held) ter sprake opstapel. En as ons nog kan sê dat ons die ‘held’ persoonlik ontmoet het, word die ego nog verder gestreel – die kersie-op-die-koek gevoel! Dit laat my nou sommer dink aan die uitdrukking of vraag wat soms skertsend in ‘n lekker ontspanne oomblik gevra word: “Hoe weet jy iemand kom van ‘n sekere skool?” Hy/sy sê dit vir jou (sonder dat jy noodwendig daarvoor gevra het, bygesê). Met ander woorde, mense praat maklik, en met trots, oor dit waarvan die hart en gemoed vol is, veral dan in die konteks van rolmodelle.

Maar die punt waar ek verder by wil uitkom, is by die lewe van die sogenaamde ‘rolmodel’. Die gevaar is myns insiens dat ons so gaande en passievol oor die tradisies, prestasies, talente en vaardighede kan raak, dat ons die persoon se leefwyse, sy/haar persoonlikheid en standpunte en opinies dalk miskyk, of bloot nie wil raaksien nie; juis omdat ons die persoon (of selfs instansie se talent en status as held) op grond van ons eie assosiasie daarmee, nie wil kompromitteer of verdag maak nie. Dit gaan dus volgens my eintlik oor eie status en belangrikheid en beeld wat ek wil bou en handhaaf, of ‘n naarstigelike soeke na goedkeuring deur en in die wêreld waarin ons leef (sien my vorige post mbt die begrip ‘wêreld’). Natuurlik kan dit gebeur dat die ‘rolmodel’ se lewensbeskouing en -houding suiwer is, en daarom werklik ‘n voorbeeld in vele opsigte is. Daar kan selfs goeie lewenslesse uit byvoorbeeld sportsterre se loopbaan na vore kom. Die vraag wat egter voorop in alles staan, is die volgende: Word God deur my passies, tradisies, ingesteldhede, optrede, belangstellings, en so meer geëer en verheerlik?

In my loopbaan het ek verskeie kere klein kinders met trots hoor sê: “My pappa is baie sterk; my pappa is goed; my pappa kan alles doen, my pappa, my pappa …”. Vir so ‘n kindjie is sy/haar pappa ‘n rolmodel, al verstaan sy/hy nie die woord ‘rolmodel’ nie. Anders gestel, vir die klein kindjie is pappa ‘n voorbeeld en hy/sy volg hom na – is ‘n volgeling. Die vraag is natuurlik hoe “pappa” hom in hierdie wêreld laat geld en handhaaf. Die verkeerde voorbeeld kan ook nagevolg word. Hoe so? Die pappas en mammas in hierdie wêreld moet een ding weet en besef, en dit is dat hulle van nature geneig is om die verkeerde te doen en om van God te wil vlug – ons sukkel om God se wil te verstaan of te volg. Kom ek deel ‘n voorbeeld of konteks wat ek en my vrou die afgelope vakansie beleef het. Ons het by ons gunsteling restaurant (wat eintlik net oor die heerlike koffie gaan) gesit en ‘n pa met sy seuntjie in die arms by die toonbank sien staan. Skielik begin hy redelik hoorbaar oor sy gunsteling provinsiale rugbyspan met die kelner gesels en stel hy sterk standpunte en besef ‘n mens kort voor lank dat hy baie passievol is oor ‘n span uit die noorde van ons land. Skielik uiter hy ‘n krag-/vloekwoord en ‘n paar ander woorde volg toe ook, wat sy oënskynlike ontevredenheid oor span- en spelerkeuses uitdruk. My vrou het onmiddellik na my gekyk en die volgende opmerking gemaak: “Wat se voorbeeld is hy vir sy seuntjie wat hierdie taalgebruik moet aanhoor?”

As ek hierdie op my rekenaar tik, en oor my eie lewe nadink, dan besef ek maar te goed dat ek self sukkel om die goeie te doen, of soos Paulus dit in Romeine 7 verse 18 tot 19 stel: “Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. Ek moet bely dat ek sukkel om geduldig te wees. Ek raak gou vasgevang in sekere omstandighede en raak mismoedig en terneergedruk. My gewete kla my gedurig aan. Ek is maar te geneig om die wêreld/ander tevrede te wil hou (in Engels treffend as “please” beskryf) en hulle te akkommodeer. Maar hierteenoor moet ek ook bely dat ek uit myself nie enige hoop het nie, maar alleen buite myself in Jesus Christus hoop vind. As ek dan na die wet van God kyk en dit elke Sondag in die erediens hoor (natuurlik, as dit nog in die erediens gedek word), dan besef ek dat ek die reëls nie kan onderhou nie, dat dit my nie ware lewensbevrediging en gemoedsrus en sin kan gee nie, want as ek na afloop van die erediens by die kerk uitstap, het ek reeds die tien gebooie of van dit op pad motor toe verbreek. En toe stel iemand dit op ‘n dag soos volg en so treffend en so kry ‘n gebroke mens hoop: “Die wet van God is die leermeester wat jou in die arms van Jesus injaag!” Hoekom, vra ek? Want Jesus het die wet van God, van sy Vader, volkome onderhou. Jesus het dit op aarde as volmaakte voorbeeld vir ons geleef. In Hom het ek dus die perfekte voorbeeld wat geen sportster, geen pappa en geen mamma vir my kan gee nie. Dalk klink dit nou hard, maar al wat ek sê, is dat ons as ouers/onderwysers aan Jesus moet vashou, in Hom moet bly en dat ons kinders Jesus deur ons raaksien. Maar te midde van ons gebrokenheid, moet ons kinders ook ons afhanklikheid van God beleef. Ons kinders moet ook weet dat ons gedurig en aktief besig is om God en sy koninkryk te soek – na sy wil te vra. Ons kinders moet as’t ware verby ons kyk en Jesus raaksien. Hoe? Kom ons oordink die volgende enkele vrae/opmerkings noukeurig:

  • Hoe klink, en wat is die inhoud van ons gesprekke?
  • Bestudeer ons God se Woord (en ‘betrap’ ons kinders ons soms wanneer ons met sy Woord besig is)?
  • Lewe ek Geesvervuld? (Onthou, as ek sê ek is ‘n Christen; dan is die Heilige Gees in my)
  • Bid ek, en hoor ons kinders ons bid – voor ete, ens?
  • As ons kinders na ons kom met lewensvrae, antwoord ons hulle met ‘n diepe nadenke gerig deur God se Woord? (Onthou die antwoord hoef nie dadelik aan die kind gegee te word nie)
  • Hoe bepaal Sondag se preek en erediens ons doen en late in die week daarna en vir die toekoms?

Dalk is jou en my antwoord op bostaande ‘n besliste ja en kom die antwoord in die algemeen saamgevat soos volg:

  • Ek is evangelies ingestel en bedien mense met die woord en boodskap.
  • Ek is ‘n Bybelstudent en ken my Bybel.
  • Ek bid gedurig en gereeld.

Neem dan kennis dat die Fariseërs ook so geantwoord het, maar dat dit alles uiterlik en vir die skyn was. Dit het nie van binne gekom nie. Die boodskap is duidelik dat dit hier gaan oor die letter en die gees en nie oor die letter of die gees nie. Die binnekant en die buitekant is belangrik.

Met hierdie post praat ek hard met myself. Maar mag jy – onderwyser, ouer, oupa en ouma – opnuut besef dat jy in die eerste plek ‘n rolmodel moet wees volgens die perfekte model en beeld van Jesus Christus. Ons kinders is per slot van sake vir ons geleen; hulle behoort aan God en ons moet hulle omhooglei – opwaarts na God toe. Dit is wat ware opvoeding tog beteken. Mag die Heilige Gees kragtig in en deur ons werk tot eer van God.

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s