Die “Wildtuin”

Dalk was jy ook al in ‘n situasie waar iemand jou vra of jy ‘n sekere persoon of figuur uit die samelewing ken. Dalk is dit nogal ‘n belangrike en bekende persoon; iemand vir wie jy skool gegee het en wat nou roemstatus in die samelewing en selfs in die wêreld bereik het op grond van ‘n besonderse prestasie. Of iemand verwys na ‘n persoon en skielik besef jy dat jy en daardie (bekende/welbekende) persoon op ‘n dag “ontmoet” het. Dan sê ons maklik op die aanvanklike vraag, ja, en dat ons die persoon ken. En dit gee so ‘n lekker gevoel, want dis mos lekker om iemand “belangrik” te ken of met die persoon te assosieer. Maar die vraag is of ons werklik daardie persoon ken? “Ken” impliseer “kennis”. Dalk bedoel ons eerder dat ons van die persoon weet; dat ons êrens van die persoon gehoor het, en in die verbygaan ‘n woordjie gewissel het of fisies naby die persoon verbygestap het. Beteken hierdie “ken” werklik ‘n diepliggende kennis – van sy/haar karakter, persoonlikheid, denke, belangstelling, vermoëns, etiese raamwerk en gedrag? Kortom, ken ons die persoon werklik en in totaliteit? Dis natuurlik ‘n vraag wat elkeen eerlik vir hom- of haarself moet/kan beantwoord.

Nou wat, sou jy vra, het dit alles met die opskrif van hierdie post te make? Ons is vandag so vasgevang in die alledaagse roetines of in die konkrytoerwoud, dat ons soms nie besef waaroor die lewe gaan nie of wat die sin van alles is wat ons in die gejaagdheid ervaar nie. Ons gaan maar net aan en aan en aan … en besef nie “Wie” eintlik werklik sin aan alles gee nie. Ons weet van ‘n “Bron”, ‘n “Persoon”, ‘n “Skepper”, ‘n “Intelligente Ontwerper”, maar ken ons “Hom” werklik? Ken ons die “Persoon” se karakter? En dan die vraag, hoe kan ons “Hom” waarlik leer ken? My idee is nie om slegs in aanhalingstekens te praat nie, so asof alles maar net neutraal is, of dat dit maar goed is om so in vaaghede te gesels nie. Nee, kom ek wees spesifiek. En kom ek begin by die belydenis wat lui: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde”. Om dit bely, is om ook te sê dat ek graag my Skepper meer en meer wil leer ken. Ek wil met Hom assosieer of met Hom meer en meer geassosieer wees. Ek wil Hom leer ken deur sy Woord en deur sy skepping/die natuur – daar waar Hy homself openbaar. Ek het van hierdie twee, noem dit ‘openbaringsbronne’ so ‘n besonderse prentjie gekry toe ‘n vriend van my op ‘n dag vir my vertel dat hy en sy gesin op ‘n pad naby Satara in die Kruger Wildtuin en naby ‘n dam die motor op ‘n Sondag afgeskakel het, die radio aangeskakel het en daar in die natuur na die Sondagpreek geluister het en uit die Woord gehoor het wat hy ook daar saam met sy gesin in die natuur beleef het.

Wanneer ek dan vervolgens oor die Wildtuin uitwei en wat dit in my as’t ware losmaak, kan ek nie anders as om my Skepper raak te sien en te eer as dié Een wat in sy voorsienigheid en beskikking my in hierdie voorreg te laat deel nie. Nie almal sal sekerlik my liefde en, daardie woord wat vele so maklik deesdae gebruik – passie – vir die wildtuin of sommer net kortweg die Kruger, deel nie. En daarom is dit soms so moeilik om met ander of sekere mense daaroor te gesels, of eerder, tot sulkes deur te dring. Ek kan amper tong in die kies sê dat dit nie in almal se raamwerke (lense) in-pas-sie. Vir sulkes is dit ook pas-sie! Maar kom ek probeer iets van die gevoel hierbinne my beskryf, en wat die Kruger in my losmaak.

Wanneer ek oor die Kruger dink (ander dalk oor die Karoo of watter natuurfaset ook al), sien en dink ek prentjies. Ek sien ‘n sonsondergang en sonsopkoms met kleure en silhoette wat kalmeer en gevoelens opdiep, jou stil en in verwondering laat. En tog skree hierdie stilte op ‘n draai in die pad met die nat spoor van olifantmis op ‘n manier dit uit – ‘n nuwe dag en nuwe nag het aangebreek en my gemoed is rustig. Maar dit werk nie altyd uit soos wat ‘n mens dink nie. Die diere kom nie na jou aangestap nie. Soms wonder ‘n mens na jy ente en ente gery het, of daar wel diere is. Dit laat my dink aan die hengelaar wat met groot entoesiasme vir hom ‘n visstok en al die bykomstighede aangeskaf het, en daarna viswater toe is, om terug te kom met die opmerking en slotsom dat daar nie vis in die see is nie. In dieselfde trant was iemand se gevolgtrekking na ‘n wildtuinuitstappie dat daar nie leeus in die wildtuin is nie. Ja, almal wil graag in die voorste stoele sit wanneer ‘n luiperd by sy vangs in die boom lê of luilekker met al vier bene oor ‘n sytak hang. En tog gebeur dit nie sommer so nie.

Vir my is ‘n wildtuinervaring ‘n jagtog (en beslis nie ‘n jaagtog nie). Jy moet die diere soek, stilhou, wag, weer kyk en weer kyk, terugdraai, omdraai, ‘n ander pad vat, al is dit net om te sê dat die bok wat jy gesien het net ‘n droë ‘tak-bok’ was. Dan besef ‘n mens dat die Wildtuin nie net oor die ‘wild’ gaan nie, maar ook oor die ‘tuin’. Die een kan nie sonder die ander nie. Die droë tak of dooie boom wat met voëlneste vir jare al in ‘n dam hang, of die savanne-grasveld, appelblaar-, wildevy-, hardekool- en worsbome bekoor ook, en hou ‘n mens vasgevang. Kyk net fyn. Ek reken na alles gaan dit oor die “bril” waardeur jy na alles om jou kyk. As ek dan die Woord van God as “bril” opsit en ek kyk na die skepping (sy “tuin”), na God se handewerk, of eerder woordewek (my eie woordskepping, maar ek glo dat jy verstaan, want God het gespreek en dit was daar), dan vra ek vrae vir myself en redeneer ek (bevrydend vanuit hierdie wêreld met al sy beperkinge) aan die hand van die volgende:

  • Besef ons werklik hoe groot God is? (Uiteindelik sal ons seker nooit sy volheid en grootheid kan deurgrond nie – ten minste nie in hierdie bestel nie)
  • Staan ons nog in verwondering en kyk na die skepping en na God en verheerlik ons Hom vir dit wat ons uit genade uit sy hand kan geniet?
  • Besef ons werklik dat God heilig is en wat sy heiligheid alles inhou? (Terloops, die een karaktertrek van God wat in die Bybel in die oortreffende of tot die derde mag beskryf word, is sy heiligheid – “Heilig, Heilig, Heilig …”
  • Kan ons nog mekaar in die oe kyk en erken dat ons teenoor God klein en nietig is en eintlik in baie gevalle sonder wysheid en insig optree?
  • Andersins, besef ons nog hoe beperk ons denke is teenoor ‘n Alwyse, Alomteenwoordige en Ewige Drie-enige God?
  • As ek dan in die skepping, in die Krugerpark, myself bevind; dan sal ek soms opmerk: Hoe kan mense nie glo of besef dat daar ‘n God, ‘n Skepper is wat alles geskep het (ook vir my en jou), en steeds alles onderhou en daaroor regeer nie? Vanuit die Bybel en Psalm 14 spesifiek staan geskryf dat dit ‘n dwaas is wat in sy hart sê dat daar nie ‘n God is nie.
  • In hierdie groot heelal is ek as’t ware ‘n spikkel en dit laat my uitroep: Wie is ek, Here, dat U aan my dink? En dan kan ek voortgaan en nog verder uitroep: Wie is ek dat ek U geringskat en my eie kop wil volg en reken dat ek al die antwoorde en planne het en maar net kan aangaan, asof God nie bestaan nie? Ek wil in die wêreld so graag aanvaar word, met bekende en sogenaamde belangrike mense geassosieer word, erkenning geniet, op die hande gedra word, maar ek ken nie God nie – die (ware) Bron van wysheid en insig, lewe, verlossing, genade, liefde en vrede! Hy is die Een wat waardig is om geprys te word – Hy wat gister, vandag en môre dieselfde is. Hy verander nie; sy woord is vas en seker, Hy weerspreek homself nooit nie. Hoe kan ek dan nog as die dag (nog ‘n dag in my lewe!) rooi in die Wildtuin breek, nie opkyk en my hande uit hulpeloosheid na God uitsteek (soos ‘n afhanklike en hulpelose baba) en bely: In U hande wil ek wees en wil ek gedra wees; U wil ek ken.

El sluit af met ‘n gedagte en boodskap wat ek raakgelees het:

“God’s incommunicable attributes [daardie kenmerke/karaktertrekke wat nie deel van ons as mense is nie] point to the way in which God is different from us and the way in which He transcends us. His incommunicable attributes reveal why we owe Him glory, honor, and praise. We stand up and give accolades to people who excel for a moment and then are heard no more, and yet the One who has the very power of being in and of Himself eternally, upon whom every  one of us is absolutely dependent and to whom we owe our everlasting gratitude for every breath of air that we take, does not receive the honor and glory from His creatures that He so richly deserves. The One who is supreme deserves the obedience and the worship of those whom He has made.”

Lees en vergelyk Hosea 4:6

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s