Paasfees en my identiteit

Ons leef in ‘n tyd waar mense toenemend so graag deel wil wees van eietydse neigings, van groepe, die nuutste tegnologie, selfs van persoonlikhede en sekere persoonlike style en modegiere. Dit gaan oor aanhang, identifikasie en assosiasie. Dan weer hoor ons dikwels die uitlating van: Wees net jouself, of wees net die beste weergawe van jouself (wat dit ook al mag beteken), en moenie verander nie; jy is goed en oulik net soos jy is. Oor die algemeen is die mens van nature geneig om erkenning en aanvaarding te soek. Ons wil graag identifiseer met iets of iemand binne hierdie wêreld. Voordat ek oorspoel word met kritiek, laat ek net kortliks verduidelik dat die begrippe “aanhang, identifikasie en assosiasie” in terme van die mens se behoefte om te behoort, nie as onbehoorlik beskou moet word nie. Maar ek kom later hiernatoe terug.

Soveel mense vier vandag Paasfees, of anders gestel, assosieer met Paasfees deur middel van sekere tradisies en opvattings. Winkels kondig dit aan met advertensies en mense “haas” hulle om eerste in die ry te gaan staan. Kinders se oë blink as hulle hul gereedmaak vir al die lekkernye. Ander roep uit “Geseënde Paasfees”, maar so half in die verbygaan en so wonder ‘n mens oor die inhoud en betekenis. ‘n Radio-omroeper herinner die luisteraars daaraan om veilig te reis en om te onthou waaroor die naweek werklik gaan. Op die voorkant van ‘n skoolbulletin staan: “Mag die Blye Boodskap ons almal verkwik oor die Paasnaweek”. Maar wat is die inhoud en kernboodskap van Paasfees?

Ja, dis ‘n fees! Ons moet jubel en juig! Dit ‘verkondig’ goeie nuus – voorwaar ‘n blye boodskap! Maar kom ons wees spesifiek en sê dit by die naam. Paasfees wys op die belofte wat wyd en syd verkondig moet word, dat die volmaakte Lam, Jesus Christus, mens geword het, vir die wêreld kom ly het terwyl Hy die volmaakte lewe in gehoorsaamheid aan sy Vader geleef het. Hy het God, die Vader, se straf vir die sonde kom dra, is deur mense gespot en verwerp en is aan ‘n houtkruis vasgespyker en buite die stad gekruisig. Sy bloed is vir ons gestort, Hy het gesterf, is begrawe en het op die derde dag na sy dood opgestaan. En na sy opstanding het Hy aan mense verskyn voordat Hy na die hemel toe opgevaar het. Hoekom moet ons juig en feesvier? Sonder hierdie gebeure as deel van God se raadsplan, was en is ons verlore, het ons geen toekomsverwagting/-perspektief en ewigheidsperspektief nie, is daar geen hoop en sin nie – geen verlossing nie. Wat is hoop? So baie probeer om hoop vanuit ‘n wêreldse konteks, in liedjies en gedigte te definieer en dit te vind teen die agtergrond van uitsprake en uitdrukkings soos “Glo net in jouself”, pleks om in die eerste plek direk na God se Woord te luister en dit daar te vind – by God self!

Wat is die geskiedenis van Paasfees? In die Ou Testament vind ons die verhaal van die Israeliete wat uit Egipte gelei is en verlos is van die juk van slawerny. Pasga is dan ook elke jaar gevier as ‘n herdenking van die genadige uitredding uit die land van slawerny. Ek gebruik verder met vrymoedigheid die volgende beskrywing soos gevind in ‘n e-tydskrif waar dit soos volg verduidelik word:

Paasfees vind op dieselfde tyd plaas wanneer die Jode die Pasga vier (Pesach in Hebreeus en Passover in Engels). Tydens dié fees herdenk die Jode die feit dat God die Israeliete van slawerny in Egipte bevry het. In die boek Eksodus lees ons dat God die kinders van Israel gehelp het deur tien plae oor die Farao en die Egiptenare te stuur. Die tiende en laaste plaag was die dood van die eersgebore seuns. Waar die meeste van die ander plae (behalwe die eerste drie) nie die Israeliete en hul diere geraak het nie, kon hierdie plaag hul egter tref indien hul nie op God vertrou het nie. Die enigste beskerming wat die Israeliete gehad het, was om die bloed van ‘n geslagte lammetjie aan die kosyne van hul deure te smeer. Wanneer die Engel van God dié bloed gesien het, het hy verby die huis beweeg en vandaar die naam van dié fees. Die Engelse begrip “Pass over” sê dit baie mooi – in Afrikaans “oorslaan”.

For the LORD will pass through the land to strike down the Egyptians. But when He sees the blood on the top and sides of the door frame, the LORD will pass over your home. He will not permit his death angel to enter your house and strike you down,” (Exodus 12:23).

Die Engel van die Here het daardie nag deur die land beweeg en elke gesin wat nie die beskerming van die bloed gehad het nie, het ‘n eersgebore seun, en/of dier, aan die dood verloor. By gesinne wat deur die bloed van die lam beskerm is, het die Engel van die Here slegs verby beweeg (He passed over). Elke gesin in Egipte is getref en so is die Farao, wat ook as ‘n god beskou is, deur die God van Israel getref (Eksodus 11:5). God het deur die dood van die eersgeborenes van Egipte sy eersgeborene (die volk Israel – Eksodus 4:22) vrygekoop (Jeremia 31:9; Hosea 11:1). Hierna volg die wet van Moses waarin elke manlik eersgeborene van Israel (mens en dier) losgekoop moes word (Eksodus 13:14-16).

Tydens die laaste Pasga in die bo-kamer in Jerusalem het Jesus kort voor die kruisiging die nagmaal ingestel. Hiermee verval die viering van die Pasga omdat Christus met sy kruisiging en dood die profesie van die offerlam vervul het. Daar is net twee van die pasgamomente wat behoue gebly het nadat Jesus die nagmaal ingestel het: Die brood wat ons breek en die beker van danksegging. Die Nagmaal is dus NIE ‘n Christelike weergawe van die Pasga nie! In die Nagmaal vier ons die feit dat Christus die Paaslam is wat geslag is (1 Korintiërs 5:7): God het by ons verbygegaan in sy straf, omdat Christus in ons plek die straf gedra het. Die Pasga vind sy vervulling in die nagmaal!

Wat ‘n vreugde en fees!

As ek my opnuut met hierdie kennis opskerp, staan net een woord, nee twee, vir my uit –  Genade en liefde! Die lewe het tog sin!

Wat nou verder en hoe reageer ek en jy (identifiseer ons) op hierdie goeie en blye nuus en boodskap? Staar ons nog soos die mense op die dag van Jesus se hemelvaart stip na die hemel of handel ons nou met ywer onder leiding van die Heilige Gees (wat as gawe aan ons as God se kinders geskenk is) met die wonderlike belofte wat in ons gedagtes weerklink, op ‘n wyse wat onteenseglik daarop dui dat ons Jesus weer verwag? Die Heilige Gees rus ons toe vir die pad wat ons met verwagting en dryfkrag kan en mag stap. So versterk God die ware geloof in ons.

Kom ons oorweeg ‘n klompie vrae of slegs opsommende gedagtes net om prakties te kyk hoe ons met dringendheid en gefokus op God se genade en liefde moet reageer:

  • Lees God se Woord en ondersoek dit, en
  • ontdek en omhels onder leiding van die Heilige Gees die Waarheid van die Evangelie.
  • Wees bewus van die dwalings en aanslae van Satan om die sentrale waarheid van Jesus se opstanding ongedaan te probeer maak – ook dmv die skeefgetrekte boodskappe, prentjies en sekere tradisies wat opgedis word.
  • Leef ‘n jubelende lewe tot eer van God! Hoe?
  • met die woorde van 2 Kor 5:14 en 15 wat ons aktiveer: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is”.
  • Vra konstant die vraag, en in gebed: Here, wat wil U hê moet ek doen?
  • Om te verklaar dat ek vir God lewe, veronderstel ‘n gesindheid om meer te doen en nie met die minste tevrede te wees nie. Hoekom? Ek word deur die liefde van Christus gedring en sy liefde het nie die minste gegee nie; Hy het aan die kruis alles gegee.
  • Lees 1 en 2 Timoteus, en volhard, wees getrou aan die evangelie, bly by die waarheid en Waarheid, verdra lyding en swaarkry, onderrig die kinders  van kleinsaf en onthou: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek” (2 Tim 3:16)
  • Daarom volg ek hierdie wêreld en sy style en persoonlikhede en houdings en gedrag, en valse dryfkragte nie maar net blindelings na nie – so asof ek aan myself behoort nie.

Terug na die opmerking aan die begin van die post, en ek glo jy sal die verbande kan trek en perspektief kry: Ek behoort nou nie meer aan myself nie, maar met liggaam en siel en in lewe en in sterwe aan Jesus Christus. Ek hang Hom aan, ek assosieer met Hom, in Hom vind ek my identiteit. Nie eers die wêreld, dan God nie, maar allereers die Koninkryk van God.

Onthou, en in die woorde van ‘n ander skrywer: “Paasnaweek en Paasfees is die belangrikste drie dae in die ganse geskiedenis. Dit was die draaipunt, die beslissende moment in die stryd tussen God en Satan, tussen hemel en hel. Belangriker as enige ander gebeurtenis ooit”.

Geseënde Paasfees!

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s