Aftrede – ‘n tyd vir optrede

Sekerlik is daar baie wysgere of filosowe daarbuite wat hulle eie weergawes van en filosofie rondom aftrede mag hê. Tog wil ek verdere aksente plaas, en ek wil eerlik wees. Die idee is om net ‘n klompie gedagtes as’t ware op die tafel te plaas – dinge waarmee ‘n mens vrede moet maak en ook met en aan moet werk. Die vraag is of hierdie post net vir afgetredenes bedoel is? Dit moet die leser maar self beantwoord.

Ek stel ‘n klompie punte en daarna wil ek graag ook hierdie punte verder uitlig met meer besonderhede en agtergrond. Dis asof ek amper ‘n soort van onderhoud met myself voer.

NEEM KENNIS! Die ander mense/res van die wêreld tree nie ook af as jy aftree nie (alhoewel ek reken en ook so deur my loopbaan dit ervaar het, dat daar mense is wat al lankal – in hulle koppe en selfs fisies – afgetree het, maar net dit nog amptelik moet aankondig).

Die wêreld beweeg aan en mense of individue gaan ‘normaal’ (of is dit dalk ‘abnormaal’) voort. Hulle gaan staan nie stil, net omdat jy die pas vir ‘n oomblik makeer en nuwe rigting probeer vind of ondersoek nie. Wat het dit my geleer? Ek hoor en luister nou baie meer as ooit tevore! Ek het nie noodwendig iets nuuts en vars om by te voeg nie. Skielik (want dis onverwags en seker ook te wagte) het ek besef dat ek in terme van my ervaring in die verlede delf en uit die voorraad diep/praat, terwyl ander oor vandag en oor dinamiese eietydse gebeure praat – soos die ‘politiek’ by die werk en interessanthede, wisselvallighede en soveel daaglikse katestrofes en gebeure.

Ek weet en besef daagliks dat ek wel moet teruggee

Hoe dikwels probeer mense die feit ontduik of systap met die uitdrukking dat “‘n mens niks eendag kan saamvat nie”, om eintlik net daardeur te sê dat ons nou elke dag en by elke moontlike geleentheid moet teruggee uit dankbaarheid vir die genade wat ek ontvang het, voordat my tyd hier op aarde verby is. En die kern hier, naamlik dat ‘n mens uit dankbaarheid moet teruggee vir dit wat ‘n mens ontvang het, is waar en seker. Maar eintlik is hierdie beginsel nie net van toepassing as jy die dag aftree nie, maar ook vir die tyd waar jy aktief binne ‘n beroep gestaan het. Jy tree nie af om dan eers terug te gee nie; jy gee altyd terug – van jouself, jou menswees, jou tyd, jou energie, jou meelewing, en so kan ‘n mens aangaan. Ek reken dis juis hierdie laasgenoemde fasette wat binne die werkplek verhoudinge bou en mense opbou. Ek reken net as afgetredene vra jy dit ook nou meer en meer van die ander; juis omdat hulle ook nou reeds moet teruggee en moet uitreik, en nie eers na hulle afgetree het nie. Maar ek glo nie die belangstelling en uitreik moet vermom word met opmerkings soos ” Dis darem lekker om by die huis te wees”; “Dis darem lekker om altyd op vakansie te wees”; “Wat maak jy nou met al die tyd wat jy het?” Nee, kom ons reageer sinvol met opbouende en eerlike en opregte kommunikasie.

Aftrede laat jou voel wat dit beteken as die skoen nou aan die ander voet is.

Ek reken ek sou meer moeite wou doen om my voorgangers wat uit dieselfde posisie en by dieselfde instansie as ek afgetree het, deurlopend te ondersteun en te betrek ten opsigte van hulle welsyn, daaglikse behoeftes en sommer net uit belangstelling.

Weet verseker dat jou kop nie “aftree” nie.

‘n Mens dink nou dalk nog meer as ooit tevore – denke oor hoe gaan ek my dag vandag beplan en leef en gaan dit anders as gister wees, of, waaroor gaan ek gesels as my huismense weer later en deur die loop van die dag by my aansluit.

Aftrede het my weer oor dinge opgewonde laat raak – dinge (en heel dikwels die klein dingetjies) wat ek vantevore nie juis op ag geslaan het nie, soos om met trots die huis in te gaan en met opgewondenheid te wys hoe lyk die koejawels wat ek so pas afgepluk het. Die vraag is hoe ons almal met waardering na die klein dingetjies en gebare kyk en daarop reageer.

Die huis – my “veilige hawe” of gemaksone?

Ek het altyd vanuit my werksomgewing en wanneer sekere uitdagings druk op my geplaas het, gesê dat dit darem wonderlik is om weer aan die einde van die dag huis toe te gaan, na my ‘veilige hawe’. Die groot uitdaging nou is om ankers op te tel en die hawe weer te verlaat. Of moet ek eerder sê dat daar ‘n see van uitdagings en geleenthede is wat nou aangepak en getrotseer kan word. Ek was skaars afgetree en by die huis (of nee, eerder by die see in die Suid-Kaap) toe ek ‘n boodskap van my vorige werkgewer en ‘n amptenaar kry om by ‘n skool uit te help. Dit gaan nie goed by die spesifieke skool nie en die personeel voel hulle is op moedverloor se vlakte en leierloos. In die algemene taal word die instansie in baie opsigte as disfunksioneel beskou. Ons sê mos maklik ‘n instansie is disfunksioneel, so asof dit die geboue is wat disfunksioneel kan wees. Intussen gaan dit oor mense/individue wat binne daardie struktuur werk. Dis mense wat ‘n instansie funksioneel maak, of nie, op grond van sekere ingesteldhede en doelgerigte beplanning en uitvoering. Die blaam word so dikwels net weggeskuif, asof die probleem elders lê. Terug na die oproep om te kom uithelp.

Ek aanvaar toe die geleentheid om te gaan help en terug te gee – uit te reik. En skielik besef ek dat die disfunksionaliteit nie sommer maar net as etiket geografies om die hals van ‘n sekere skool binne ‘n sekere gemeenskap gehang kan word nie. My gevolgtrekking na dese: Disfunksionaliteit lê wyd – by die ondersteuningstrukture, toesighouers, by die persoon wat in gebreke bly om sy/haar e-pos te beantwoord, by sy/haar luiheid/laksheid (die Engelse het ‘n mooi woord, naamlik “Slacker”), by mense wat elke maand salaris trek en eintlik nie veel gedoen het of werklik probeer het om te help en bystand te verleen nie. Sien, ek is nou aan die ander kant van die draad. Van my kant af lyk die wêreld waar ek was en hoe die prentjie meer en meer ontvou, nie goed nie. Wat is fout met die prentjie? As ek praat van ‘n prentjie, dan dink ek aan die speletjie of oefening wat ‘n mens in tydskrifte gekry het: twee identiese prentjies of op die oog af identies, is verskaf. Dan moes jy aandui in watter opsigte die een van die ander een verskil of wat ontbreek. Wat sien ek raak, hier uit my leunstoel (as jy wil)?

  • Luister ons ook aandagtig en met belangstelling na hulle, wat steeds behoeftes het, en geag wil word?
  • Destyds het een van my personeellede haar “skuldig” gemaak of eerder voorgegee dat sy aandagtig luister met ‘n kort en aanhoudende “Ja, ja, ja, … ja, ja … ja op dit wat jy aan haar meedeel, maar kort voor lank het ek agtergekom dat sy “Ja” op verkeerde plekke in die gesprek sê. Hoef ek nog meer te verduidelik? Of soos ‘n matriekvriend van my by ‘n reünie toe ons aan tafel by ‘n ete sit. Niemand het gesels nie en die gesprek was vir daardie oomblik afgehandel en tog het ek herhalend van hom gehoor: Ja, ja, … ja, ja, ja. Moet sê sy selfspraak was nogal komies.
  • Stel ons werklik en intens belang in mekaar en in mekaar se wêrelde?
  • Aanvaar ons mekaar en dinge en voorregte as vanselfsprekend?
  • Is ons so ingestel om polities korrek op te tree, dat ons eintlik in die proses mekaar vir die wolwe gooi, en die ander nie ‘n plekkie in die son gun nie?
  • Het ons dalk perspektief verloor en jaag ons na erkenning, ongeag …
  • Weet ons nog waarmee ons besig is en wie ons is, of het ons slegs “rubberstempels” geword?
  • Hoe word na mense gekyk (ook natuurlik na afgetredenes) ten opsigte van hulle menswaardigheid, ongeag hulle ouderdom? Ek reken ons moet weer presies vasstel wat met ‘menswaardigheid’ bedoel word.
  • Ken jy die goue reël van die lewe? (Doen aan ander …)

Is ek spyt ek het afgetree? Nee, beslis nie. Vir my het aftrede kom wys dat dit nie meer gaan oor ambisie, die bou van ‘n loopbaan, of die soeke na erkenning, of dalk oor die mooiklinkende Engelse uitdrukking wat lui “Fake it till you make it” nie. Dis alles van korte duur. Aftrede kom stroop jou as’t ware van al die pretensies. Nou staan jy voor die spieël met die vraag: Wie en wat is jy nou eintlik? As jy sukkel met die antwoord, dan het jy heel moontlik ‘n identiteitsprobleem of -krisis.

Ek kan nou optree (na aftree). Ek het ‘n opinie. Ek kan die prentjie verder invul. Die groot uitdaging is net dat ek my daagliks daaraan moet herinner.

Groetnis!

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s