Die stryd teen disfunksionaliteit

Ek slaan my hand aan ‘n onderwerp wat ek reken baie nadenke verg en nie sommer maar net vinnig aangepak en binne ‘n ommesientjie afgehandel kan word nie.

Die woord disfunksionaliteit word deesdae in vele kontekste gebruik; trouens ek reken dit kan in alle kontekste of samelewingsverbande van toepassing gemaak word. Maar voordat ek in hierdie ondersoek verder beweeg, wil ek eers met die begrip “funksioneel” wegtrek, maar ook om begronding te doen. Wanneer is iets funksioneel? Is funksionaliteit ooit werklik bereikbaar? Kan ons in alle opsigte funksioneel wees? Kom ons gaan na die begin van alles. Dit begin by die Skepping en nog voor dit, voor die grondlegging van die aarde. As ons na die skeppingsverhaal soos geopenbaar in die Bybel kyk, dan hoor en sien ons God se woorde “…, en dit was goed”. Dit beteken vir my dat God alles volkome en in harmonie met  mekaar geskep het. Ek reken ‘n mens kan sê dat God alles funksioneel geskep het. Daar is orde in God se skepping. God ken funksies aan elke ding of faset toe. Hy skep spesifiek “twee groot ligte” – die son en die maan om so tussen nag en dag te onderskei en lig en donker van mekaar te skei. Hy skep lewende wesens, elkeen na sy eie aard – en kan ons sê, na sy eie funksie. God het ook man en vrou in die tuin geplaas om mekaar te help, om saam ‘funksioneel’ te wees soos God dit bepaal het – geskep na God se beeld, om dus funksioneel te wees. God gee aan die mens die taak om die diere en voëls te benoem. “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word”. In die woord “een” lê opgesluit die gedagte van “funksioneel/funksionaliteit”. Daar is ook ‘n besonderse dinamika daarin opgesluit, in die woord “word” (“een word”). Dis wys op ‘n aktiewe samewerking volgens God se wil (en bevel) vir die lewe. Om werklik dus ‘n idee te vorm van “funksionaliteit” en die diep betekenis daarvan, moet ‘n mens by God begin, by sy volmaakte wil en wysheid. Wanneer God dus sê, “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die die diere wat op die aarde kruip”, dan sê Hy vir ons om funksioneel te wees. Dis ‘n opdrag. Dit gebeur alles in die Tuin van Eden, die plek waar God in volkome harmonie met die mens in verhouding staan.

Dan, die sondeval. Die mens verontagsaam God se wil en bevel. Die mens begin om weg te kruip, die mens raak bang, Adam en Eva raak bewus van hulle naaktheid. Hierna word mense in sonde ontvang en gebore. Geboorte en swangerskap word ‘n pyniging, en swaarkry, elende, korrupsie en afvalligheid word deel van die mens se bestaan. Alle lewensuitgange van die mens is hierna verwronge. En as Christen gelowige erken en bely ek ook dat my insig en denke ook geskaad is. Stryd tree in – ‘n voortdurende stryd teen kwaad en duisternis, teen disfunksionaliteit en oneffektiwiteit, teen die Satan se aanslae, teen die sonde. Dis die begin van antitese – van teenstelling, van opponerende teorieë, opvattings/beskouings, ens – die ‘Maar’-woord wys dit telkens duidelik. Maar, en dis ‘n groot maar, God verander nooit. Hy bly altyd dieselfde. In Hom is nie kwaad nie. Hy is goed. Hy bly regeer en bly in beheer. Hy voer die gesag oor alles en almal, al erken en eer die vervalle mens Hom nie. God is en bly die Objektiewe Waarheid, die Alfa en Omega. Om myself in die rede te val en te onderbreek, as ek God se karaktertrekke probeer verwoord, bly dit slegs ‘n poging en kan beperkte mensewoorde nie werklik God se grootheid en heiligheid beskryf en deurgrond nie. Net laasgenoemde opmerking van my, wys op die mens se natuurlike geneigdheid van aandagafleibaarheid. Maar God se aandag kan nie afgelei word nie. Nee, Hy is ten volle, volmaak gefokus en ken elke hart en gedagte van ‘n mens. Hy het ‘n plan en Hy voer dit uit op sy tyd. En Hy gebruik wie en wat Hy wil.

En ons moet God elke dag dank dat Hy ‘n vaste burg is in ‘n onstuimige wêreld – ‘n toevlug in die nood waarin die gevalle mens elke dag verkeer (vgl Psalm 46). Hierin lê die feit en wete of eerder die troos dat ek alleen in my vasgelopenheid daagliks moet gryp na die onveranderlike God, na my Skepper, na sy Woord – terug, altyd terug, na God en sy Woord, na sy insig en wysheid, na Hom as die absolute Bron van alles! Die mens is uit die Paradys, weg van die volmaakte, ongerepte en harmonieuse verhouding, en tog is ons hele bestaan as God se kinders deur Jesus Christus ‘n pad terug na God, na die nuwe herstelde paradys, na die ewige huis – die nuwe Jerusalem. En vir hierdie troos moet ons Hom in en deur gebed dank en prys, maar ook deur ons lewe – ‘n dankbaarheidslewe, ‘n lewe soos deur Jesus gelewe, volkome gehoorsaam aan die Vader se wil. Jesus het vir ons die norm en beginsel kom stel en kom leef, dit wat Adam nie kon doen nie. In Adam was ek dood, maar in en deur Jesus leef ek nou. Daarom moet en kan ek, met die inwonende en inwerkende krag van die Heilige Gees, stry teen die sonde in alle opsigte en in alle lewensverbande. Die uitwerking is ‘n lewe gekenmerk deur die vrug van die Gees, meer en meer gelyk aan Jesus Christus se beeld. Dat ek hieraan deel kan hê, is genade. Op grond hiervan kan ek nie vrede maak met die gevolge van die sondeval of in die sonde bly lê nie. Daarom kan ek nie vrede maak met die idee en praktyk van byvoorbeeld disfunksionaliteit, in watter vorm ook al nie.

Die vraag na alles is hoe ons deur byvoorbeeld onderwys en opvoeding God dien en Hom verheerlik. Begin ons by God en sy Woord en pak ons as sy kinders alle onderwysgerigte inisiatiewe in die lig van God se Woord aan? Of is die wêreld ons vertrekpunt? Begin ons by die wêreld met al die skeefgetrekte idees en probeer ons om daarvandaan by God en sy Woord uit te kom, of selfs God se Woord aanpas om so eintlik ons eie selfgerigte/selfsugtige sin te kry? In terme van die onderwys, is ons geneig om te dink en redeneer asof disfunksionaliteit by ‘n gebou lê, of by ‘n (ander) skool, of by ‘n sisteem en gemeenskap, en dan wys die vinger weg, soos wat Adam gemaak het. Dit is sy, nie ek nie! Dit is daar, nie hier nie. So bly die mens in sy gefokusheid op hierdie wêreld ‘n meester in verontskuldiging, selfregverdiging en rasionalisering – eintlik voortvlugtend, pleks van om by die begin van alles, by God te begin – ook vlugtend, maar in Christus se arms in, meer en meer! Dit is die wese van Christelike onderwys, naamlik om in alles te vra na wat God wil met die wete en belydenis dat God in beheer is en oor die totale lewe regeer, altyd terug na sy Woord, om dan deur God se Woord/sy Lig na sy geordende skeppingswerklikheid in al sy skakerings/fasette te kyk, dit te ondersoek, te gebruik en God te verheerlik.

Ek kan vele  voorbeelde verder gebruik om die disfunksionele karakter van die samelewing te illustreer, maar ek wil eerder fokus op hoe ons die disfunksionaliteit kan en moet teëwerk, daarteen kan stry. Trouens, in die Nuwe Testament word ons geroep/opgeroep om volhardend en positief stelling in te neem. Die volgende opskrifte in die Bybel wil ek voorhou, en wel 2 Petrus 1 soos vertaal in die ASV en NLV en 1983-vertaling van die Bybel: “Die Christen se roeping en verkiesing” (ASV en 83-vertaling) en “God het julle nuut gemaak; maak dit sigbaar in julle leefstyl” (NLV). Lees gerus die inhoud en verse 3 tot 7, en dan die woorde in vers 8: “Immers, as hierdie eienskappe by julle teenwoordig is en toeneem, veroorsaak dit dat julle nie oneffektiewe en vrugtelose mense is wanneer dit kom by die kennis van ons Here Jesus Christus nie” (ASV). En in die NLV: “Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie”. In die 83-vertaling word dit soos volg gestel: “As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken”. Hierdie woorde is ryk aan inhoud en betekenis, en vervullend. Wat is dit wat ons moet besit en wat steeds moet toeneem, en hoe kry ons deel daaraan? Hoor en luister hoe weerklink die volgende woorde in 2 Petrus 1 vanaf vers 3 tot 7: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wereld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.” So sal ons vir Christus beter leer ken en ook bruikbaar wees. Hierteenoor (die antitese) sal diegene wat hierdie dinge nie doen nie, blind bly – oneffektief en disfunksioneel! En God waarsku dan ook deur sy Woord en wys sy kinders en die kerk op daardie dinge wat teen Hom en sy koninkryk werk en waarop ons bedag moet wees en waarteen ons moet stry.

Kortom: Hoe bly ons as Christene, waar ons ons mag bevind, funksioneel en effektief te midde van ‘n stukkende, vervalle en verwronge wêreld – ‘n wêreld wat met sy tydsgees en valsheid daarop uit is om ons mee te sleur en van God te wil vervreem? Onthou, daar kan nie ‘n kompromie wees tussen ‘n stukkende ou bedeling en die nuwe bedeling van ewige verlossing en hoop deur Christus nie. Kom ons dink en onderskei saam dmv ‘n klompie vrae of opmerkings.

  • Hoe word ons op Sondae deur die prediking as kerk en liggaam gevoed en toegerus  om effektiewe Christen-gelowiges daagliks in die samelewing te wees? Word God se Woord (so sê die Here) onverskrokke en met nederigheid en liefde gepreek en verkondig en aanvaar? Of is ons bang wat sekere lidmate (of selfs die media) se reaksie gaan wees op grond van hulle posisie of status in die kerk of gemeenskap? Is sekere onderwerpe of kwessies taboe, of word God se Woord in sy volheid uitgelê in die lig van 2 Tim 3:16 en 17, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus?
  • As ek dan bely ek is ‘n Christen, hoe gaan hierdie geloofsbelydenis oor in goeie (effektiewe en funksionele) werke? Of word geredeneer dat ek slegs (intellektueel) moet glo en dat ek verlossing in en deur Christus het, maak nie saak hoe ek verder leef nie –  ‘n “Christelike geloof” wat nie gehoorsaamheid en lojaliteit aan Jesus Christus vereis nie. In Jakobus 2:20 word ons tog duidelik daarop gewys dat ‘n ware geloof  sonder dade nutteloos is.
  • As instansies en liggame nasionaal en/of plaaslik hulleself bereid verklaar om die saak van Christelike onderwys en opvoeding te bevorder as ‘n belangrike/essensiële deel van ons dankbaarheidslewe en kerkwees (in sterk aansluiting by ons beheersingsopdrag), hoe word die daad effektief by die woord gevoeg in terme van byvoorbeeld die aktiewe, doelgerigte betrekking en aanwending van kundigheid en ander hulpbronne?
  • Hoe lyk my eie Bybelstudie? Bestudeer ek God se Woord onder leiding van die Heilige Gees of reken ek dat sake soos teologie (God se woord – Grieks theos en logos) vir geleerdes bedoel is, en besef ek dat die Bybel God se openbaring teenoor die mens is? Hieruit leer ons God ken as Heilig, as Skepper, Onderhouer, die Alfa en Omega! Maar ons leer ook hieruit die mens ken – ek, en hoe ek in en deur my hulpeloosheid of vasgelopendheid gedwing word tot ‘n kennis van God.
  • Word die idees en teorieë tov leierskap en bestuur wat in die wêreld heers gebruik om die kerk en sy strukture aan te pas of word die beginsels vanuit die Skrif gebruik om die model vir leierskap en bestuur in onder andere die onderwys en elders te bepaal?
  • Besef ons daagliks en glo ons dat Christus nie net vir my kom sterf het nie, maar ook die volkome gehoorsame lewe sondeloos geleef het? En bid ek daagliks dat ek meer en meer aan die beeld van Christus gelykvormig sal word – minder en minder van hierdie gebroke wêreld en meer en meer van Christus; minder van myself en meer van Christus?
  • Hoe lyk die agendas van my lewe en wat en wie bepaal die inhoud daarvan?
  • Wat is die inhoud van gesprekke teenoor en in die teenwoordigheid van byvoorbeeld ons kinders, eggenoot en kollegas? Getuig dit van ‘n opbouende ingesteldheid of breek dit af – geestelik en heel moontlik ook fisies?
  • Hoe lyk die ouerhuis en sy strukture en wat bepaal dit? Het die fisiese voorkoms en beeld van die ouer teenoor die portuurgroep of die status, of die ekstra program en soms ‘n verskeidenheid van ekstra programme so oorheersend geword dat die kind eintlik ontwortel word en daagliks verplant word sonder ‘vaste kos’ en lewensankers?

Ek sluit af met ‘n oproep: “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het.” (2 Petrus 1:10)

Groetnis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s