Christelike Onderwys: Is ons op dieselfde “bladsy”?

Dalk is daar sommiges wat met die eerste lees en oogopslag van die titel sou reageer met ‘n “Agge nee, nie alweer nie!”, of, “Dis dan waarmee ons elke dag besig is; hoekom daaroor skryf”? Wel, ek skryf eerstens oor dit wat my na aan die hart lê, of eerder wat hier binne my hart, maar ook in my kop aangaan – vanuit ‘n hart- en denkperspektief. Dit gaan ook verder oor dit waaraan Christene mekaar deurlopend moet aan herinner. Sekerlik is dit nie elke dag maklik om oor so ‘n belangrike saak soos Christenskap en Christelike onderwys te skryf of te praat nie, want ons leef in ‘n tyd (eintlik nog altyd) waar ons wysgemaak is/word dat dit maar my oortuiging is en dat almal nie soos jy glo nie, of dinge soos jy sien nie. Maar dis juis die punt. As ons alles wil aanspreek in die lig van eie opinie of hoe ek (subjektief) dinge sien, is ons eintlik in die moeilikheid. Vir my gaan dit oor ‘n vertrekpunt (‘n “Bron”) wat buite myself gevind word, naamlik God en sy Woord, die volmaakte suiwere Woord. Dit beteken egter nie ek beskou die Bybel as ‘n soort handboek en naslaanbron wat ek kan gebruik om soseer gou ‘n antwoord vir ‘n spesifieke vraag en kwessie te kry nie. Nee, dit gaan oor die Bybel wat beginsels, norme en riglyne vir my neerlê en waarvolgens ek biddend deur die werking van die Heilige Gees dit kan toepas en perspektief en helderheid kan kry – ook vir elke lewensverband of -situasie waarin ek my mag bevind.

Ek sou dan ook graag in die volgende klompie posts weer opnuut oor Christelike onderwys in al sy skakeringe – ten opsigte van onderrig en leer, bestuur, leierskap, en so meer – gedagtes wil deel. Ek doen dit ook teen die agtergrond van my ervaring en waar ek in my loopbaan in situasies (hoe nietig of niksseggend dit mag lyk) geplaas is wat, as ek nou terugkyk, juis oor my pad gekom het om dalk nou met meer perspektief oor Christelike onderwys te skryf/gesels. Ek wil begin en net eers ‘n paar werklike/praktiese situasies in die midde plaas (noem dit gevallestudies) wat ek ervaar het, en wat ek dan tussendeur as agtergrond wil gebruik tov die hieropvolgende posts.

Geval A: As jongman was ek afgevaardig na ‘n konferensie binne kerkverband wat spesifiek oor Christelike onderwys gehandel het. Daar was dan ook ‘n paneel saamgestel waar die paneellede elkeen ‘n beurt kon kry om inleidend te gesels oor sy/haar siening van Christelike onderwys. Dan was die idee dat die gehoor vrae kon vra en ‘n bydrae kon lewer om uiteindelik by ‘n punt uit te kom waar gemeentes kon besin oor hulle rol ten opsigte van die verdere vestiging en uitbouing van Christelike onderwys binne die plaaslike gemeente en die beklemtoning van die verantwoordelikheid van ouers/gemeentelede se rol en plig mbt die kinders/dooplidmate. Alles ‘n lofwaardige en nodige saak. Met die aanvang van die spesifieke sessie het een van die sprekers en prominente lid uit die gemeenskap en kerkraadslid opgestaan en openlik verklaar dat Christelike onderwys volgens hom nie bestaan en moontlik is nie. Tot hiertoe geval A.

Geval B: Binne ‘n ouervergadering saam met die skool se beheerliggaam in 2002 stel ‘n ouer en klasverteenwoordiger dat dit die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders Christelik op te voed en dat die skool niks daarmee te doen het nie; dat dit by die huis hoort. Ek reageer toe daarop en poog om te verduidelik dat die ouerhuis se verantwoordelikheid as primêre opvoeders inderdaad belangrik is en dat alles daar begin, en dat die skool die Christelike en Bybelgefundeerde waardes ook moet vaslê en bevestig. Ek sê “poog”, omdat ek pas nadat ek begin het met my verduideliking en motivering, deur die voorsitter van die beheerliggaam (wat direk langs my gesit het) met ‘n handgebaar onderbreek is en verhoed is om die volle prentjie te skets en my saak in perspektief te plaas.

Geval C: Tydens ‘n personeelvergadering word onderrig in die breë bespreek en word melding gemaak van die gebruik van handboeke waar verskeie godsdienstige oortuigings aan die orde kom en aan kinders voorgehou word en hoe ons dit as Christene moet hanteer sonder om by kinders die idee te skep dat die verskillende godsdienstige oortuigings net verskillende paaie na dieselfde eindpunt en God is. Een van die juffrouens se opmerking tydens die bespreking hierop: “Ek het nog altyd gedink dat dit [die idee dat die onderskeie godsdienstige oortuigings by dieselfde eindpunt uitkom – eie invoeging] so is, nie waar nie? (met ‘n vraende blik na die personeel).

Geval D: In ‘n geskiedenisklas in 1997/98, en nadat ‘n gedeelte behandel is waar melding gemaak word van die verskillende opvattings by onderskeie volkere en kultuurgroepe tov die onstaan van die aarde/heelal, steek ‘n 11-jarige dogter haar hand op en sêvra die volgende: “Meneer, ons as Christene glo mos nie dit nie, ons glo mos dat die Here alles geskep het?”

Teen bostaande as agtergrond sal ek graag vorentoe meer oor Christenskap en Christelike onderwys wil skryf.

Groetnis!

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s