Christenskap en ons lewe

In aansluiting by die voorafgaande post en met die oog op onderwys en opvoeding (maar eintlik tov die totale lewenspektrum), wil ek graag in hierdie bydrae fokus op wat die effek en betekenis is van iemand wat bely of sê dat hy of sy ‘n Christen is.

Ons leef in ‘n verwarrende wêreld. Of eerder, ons sien dat mense se optrede verwar. Ons sien in die media verskeie hulpprogramme aan byvoorbeeld die armes of haweloses, maar die persoon wat hulp verleen, draai om en sê duidelik dat niemand hom/haar moet vertel hoe hy/sy moet lewe nie. Of iemand sê dat hy/sy in tradisionele waardes glo en dit aanhang, maar moet nie vir hom/haar sê wat hy/sy met sy geld moet doen nie. Hierdie ingesteldheid soos beskryf raak egter ‘n leefwyse en lewensbeskouing. Dis amper soos die uitdrukking wat lui dat ons oggend- en aandpraatjies nie ooreenstem nie. Ek weet ek is op sensitiewe terrein. Ek is nie besig om te sê dat Christene nooit inkonsekwent sal/kan optree nie. Die vraag is of ons berou toon oor die verkeerde stap, woord, opmerking of beskouing op grond van God se Woord waarin ons die regte beginsel en riglyn en norm raaksien. As ons evalueer en na byvoorbeeld ‘n totale sisteem kyk, is dit met die ingesteldheid van altyd terug na God se Woord? Of is ons so ingestel op wat ander, die wêreld se mening en heersende tendens is dat ons eerder vra hoe kan ek die beste van twee wêrelde hê? En eintlik het ‘n mens dan eintlik niks nie. Dis dalk ‘n geval dat mense Christene genoem wil word, maar nie werklik iets van Christus besit nie behalwe die titel en voorkoms. Harde woorde, maar iemand het dit soos volg verwoord: “They arrogantly glory in His holy name. But only those who have gained a true knowledge of Christ from the Word of the gospel have a relationship with Him. And the Apostle denies that any have rightly learned Christ who have not learned that they must put off the old man, who is corrupted by deceitful desires, and put on Christ”. (sien Efesiërs 4:20-24).

Ek wil dit egter duidelik stel dat die idee met laasgenoemde aanhaling en uitgangspunt nie is dat ‘n gevoel van verhewendheid of ‘n houding van neersien op ander veronderstel word nie. As liggaam van Christus moet ons juis mekaar saamneem en opbou in die geloof met ‘n verootmoedigende houding. Ons kan egter nie ander pad kyk as ons sien hoe mense byvoorbeeld wel sê “terug na God se Woord”, maar dan om die Woord te wil aanpas of te verdraai met idees soos: “Tye het verander”, of “Moderne tye noodsaak dat ons anders na God se Woord moet kyk”.

Verseker lewe ons in dinamiese en veranderde tye. So was dit eintlik nog altyd tot nou. Dis uitdagende tye. Dis egter ook ‘n tyd waar ‘n mens wonderlike geleenthede in die gesig staar, as ‘n tyd waar ons daagliks opnuut kan vra: “Here, wat wil U hê moet ek/ons doen?” Dis ‘n tyd waar ons voorwaar hand in eie boesem kan steek en biddend selfondersoek kan doen. En hierin moet ons stil word, minder van onsself word, ons eie ego en eiebelang laat vaar en intens na God se stem – sy Woord, horend luister. Wanneer ons dan oor byvoorbeeld Christelike onderwys gesels, moet dit nie net ‘n uitdrukking wees of bly nie. Wanneer ons oor die toekoms van Afrikaanse onderwys en opleiding dink en koppe bymekaar sit, moet nie net aanvaar word dat “Afrikaans” ‘n sinoniem vir Christelik is nie, so asof alles reg en in plek is en sal uitwerk, solank ons net Afrikaans is. Vir my is my taal die middel of medium waardeur ek my God dien. God het dit so beskik dat ek ‘n taal het waarin en waarmee ek God kan dien en verheerlik. As ek dan my taal gebruik en uitbou, moet dit tot eer van God wees.

Vervolgens meer oor my vertrekpunte. Dis ‘n poging om meer duidelikheid te kry oor hoe my lewensbeskouing uiteindelik rigting gee aan die onderskeie lewensverbande waarin ek my bevind.

Ek het die naam “Christen” omdat ek Christus volg – ‘n volgeling van Christus. Dit beteken dat Christus oor my totale lewe heers. Hy is my koning en ek is sy koningskind. As Hy oor my totale lewe heers, is die veronderstelling dat geen faset van my lewe van Christus se heerskappy uitgesluit is nie. En dis nie ‘n geheim nie. Dit is persoonlik, maar kan nie privaat wees nie. Ek kan dit openlik en daadwerklik verklaar en leef. Christus is Here! En aan Hom is my lewe – elke faset – toegewei, of so behoort dit te wees. Hy is die Heilige God, my Skepper, en Hom wil ek meer en meer leer ken, dien, eer en verheerlik. Wanneer ek dan in hierdie wêreld besig is om my talente en gawes wat ek van God ontvang het, aan te wend of te benut, dan wil ek dit so doen dat dit tot eer en verheerliking van God geskied. So dien ek Hom.

Die brief van Paulus aan die Kolossense (en let wel, Paulus skryf die brief vanuit die gevangenis) onderskei die Christen duidelik van ‘n lewe wat net op hierdie wêreld se valsheid en misleiding gerig is. Om as Christen Christus te bely, veronderstel dat ek in werklikheid deur my daaglikse beplanning en take bely en daarvan oortuig is:

  • dat ek op grond van my onbeholpenheid, vasgelopendheid, hulpeloosheid en verwronge beeld agv die sonde weet dat ek my bestaan buite myself in God moet soek en lig (tov die vele vakterreine/lewensverbande) in God se lig moet sien;
  • dat ek aan God deur Christus uit genade verbind is deur Christus se soenverdienste met sy dood as mens. Dit beteken dat ek as Christen vir God afgesonder is, geheilig is en vlekkeloos voor God kan verskyn. Wat ‘n genadevoorreg waarmee nie ligtelik omgegaan kan word nie. Dit bring vir my groot verantwoordelikheid en erns.
  • dat ek op grond van my verbintenis en identiteit in Christus, moet weet dat ek as kind van God, as Christen, steeds in hierdie lewe aan byvoorbeeld vervolging/aanslae (fisies en psigies) op verskeie wyses blootgestel sal wees, maar dat ek ook te midde van die hartseer en ontberinge kan berus of gemoedsrus kan hê op grond van die wete dat ons hoop in die lewende God het en ons ons daarin kan verbly/verheug en in God se waarheid moet volhard, ongeag of mense my leed wil aandoen of my wil prys of komplimenteer.
  • dat ek onverskrokke (sonder om terug te deins) die hoop wat in Christus is, moet en kan verkondig om almal wat oor my pad kom met wysheid en kennis te onderrig en te leer.
  • dat ek sterk daarvan bewus moet wees dat daar misleidende teorieë en argumente is wat ook oor my pad sal kom, maar weet ek ook dat Christus oor alles en almal, oor elke mag en gesag heers. Dit staan so treffend in Kol 2:15: “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”
  • dat ek daagliks in lewe, denke en wandel van versoekings en sonde moet wegvlug en ander wat my pad kruis ook nie aan versoekings moet blootstel nie; dit alles op ‘n wyse waar ek hoe langer hoe meer moet vra na God se wil en myself in sy Woord moet verdiep. In dit alles moet ek biddend vra dat God deur sy Gees my in sy wysheid en insig moet onderrig om sodoende in elke situasie te onderskei waarop dinge neerkom, of die uiteinde/effek van ‘n ingeslane koers vroegtydig te bepaal en te verhoed, of daarvan weg te vlug, of te vermy.

Nou is die vraag in die lig van voorafgaande hoe dit alles my (en jou) denke en uitgangspunte rig wanneer ‘n mens byvoorbeeld oor Christelike onderwys en sy karaktertrekke besin – van die klassituasie tot by selfs onderhoudvoering en benoeming en aanstelling van personeel. Dit gaan dus nie net oor die opening van vergaderings met Skriflesing en gebed nie, of die blote uitspraak dat ‘n sekere instansie ‘n Christelike karakter het nie, maar oor die aard van die lewensbeskouing wat elke faset intens rig en waar God die eer kry en verheerlik word. Daarom, en in die lig van die titel van hierdie post, is dit myns insiens nodig om weg te spring met die volgende hartsingesteldheid en oortuiging:

  • My geroepenheid: As Christene word ons geroep om as God se aangenome kinders deur Jesus Christus meer en meer (in volwassenheid) van sy beeld deur ons lewe te vertoon, in alles wat ons onderneem volgens God se plan en wil.
  • God is die Bron van my bestaan en beheer my lewe: As ons hemelse Vader, is Hy in beheer van ons lewe en ons moet eerstens aan Hom gehoorsaam wees met die wete dat ons die wonderlike toekomsperspektief het van ‘n nuwe Jerusalem en hemelse stad.
  • In en deur Christus het ek toegang tot ‘n nuwe lewe: In Christus het ons die model, die volmaakte model, die ware fontein van die lewe, deur wie ons in ‘n nuwe en herstelde verhouding met God kan staan. Ons lewe in totaliteit met denke en daad moet die effek van hierdie verhouding weerspieël – ‘n lewe van toewyding met ‘n opwaartse gerigtheid en strewe na die dinge daarbo waar Christus is (Kol 3:2).
  • God se Woord is my eerste prioriteit: Die vraag in die lewe is dus nie wat wil die wêreld moet ek doen nie, of wat pas my en my gerief en my geluk nie, maar eerstens wat wil God hê moet ek doen, Hoe? Deur (te midde en welbewus van ons swakhede) ‘n voortdurende verdieping in ware kennis van Christus deur God se Woord en om in ‘n lewende verhouding met Hom te wees. Dit gaan dus nie oor lippediens nie, of ‘n oppervlakkige idee oor Christenskap wat in ‘n gesprek los en vas gebruik kan word nie. Dit gaan oor meer, en soos iemand dit treffend gestel het: “…; neither is Christian doctrine grasped only by the intellect and memory, as truth is grasped in other fields of study. Rather, doctrine is rightly received when it takes possession of the entire soul and finds a dwelling place and shelter in the most intimate affections of the heart… But in order for doctrine to be fruitful to us, it must overflow into our hearts, spread into our daily routines, and truly transform us within.”
  • Ek wil God en my naaste dien met dit wat ek van Hom ontvang het: Daarom is dit ons plig en verantwoordelikheid om soos Romeine 12:1-2 dit stel onsself aan God as lewende en heilige offers te gee wat vir Hom aanneemlik is. Dan gaan die teks verder: “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Wat ‘n woord en Woord! Hoe belangrik is hierdie uitspraak nie wanneer ons met God se gawes uit sy hand, ons kinders, ten opsigte van byvoorbeeld onderwys en opvoeding besig is nie.
  • Ons behoort nie aan onsself nie. So, kom ons vergeet onsself en ons eie belange. Ons behoort aan God en hierdie wete en oortuiging dryf ons elke dag om ons trots, ons arrogansie, ons selfvoldaanheid, ons eie belange en wêreldse begeertes op sy te skuif en God te dien en ons naaste se belange hoër as ons eie te stel.
  • Ek behoort aan Christus en hou vas aan sy beloftes, ongeag die omstandighede wat ek mag ervaar: Om aan Christus te behoort en Hom te volg is om Matteus 16 vers 24 gedurig voor oe te hou: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloen, sy kruis opneem en My volg, …” Christus het op aarde vir ons ‘n lewe geleef gevul met swaarkry, maar in alles ten volle gehoorsaam aan sy Vader. Wanneer ons dan in ons swakheid ‘n lewe ervaar gevul met swaarkry, dan is ons ook deel van Christus in sy swaarkry, maar besef ons ook en beleef ons die krag van Christus se opstanding en in die glorie daarvan. So word ons swaarkry en beproewing ‘n seën, maar ook ‘n heenwys na ons verlossing uit genade. Dan roem ons nie in onsself nie, maar in God en kan ons ons in Hom en sy beloftes verlustig.

En nou? Wat verder? Hoe kan my Christelike lewens- en wêreldbeskouing nog verder uitgebou word as ‘n beskouing waar God meer en meer verheerlik word? Ek glo dat dit alleen uitgebou en in stand gehou kan word deur die volgende kritiese punte in gedagte te hou:

  • Vra en soek na God se wil deur gebed en ‘n voortdurende verdieping in God se Woord. Dus: Lees, bestudeer en oordink God se Woord daagliks.
  • God is onveranderlik en sy Woord is ‘n vaste volmaakte en suiwer Woord waarvan  niks weggeneem of waaraan niks bygevoeg kan en mag word nie. Kortweg: Wie is ek dat ek aan God se Woord kan gaan torring? Wie is ek om daarin in te lees wat nie daar staan nie? Weet ek wie God is en wie ek is?
  • Hoe dra die prediking daartoe by om my lewens- en wêreldbeskouing as’t ware te voed om elke situasie waaraan ek blootgestel word met die nodige skerpsinnigheid te fynkam? Word die Woord in sy volheid gepreek, of word sekere onderwerpe en temas vermy?
  • En, kan ek dan onderskei en bepaal watter invloede of tendense ‘n gevaar vir my lewens- en wêreldbeskouing inhou? Is ek dus in staat om die “Fariseër” wat oor my pad kom te herken, maar ook met wysheid en insig te ontmasker?
  • Kan ek my lewens- en wêreldbeskouing verdedig? Kan ek ‘n sinvolle gesprek in liefde en met die nodige empatie voer, of skram ek weg, vasgevang en meegevoer deur ‘n wêreld met al sy genot en plesier en eiebelang? Onthou jy nog? Ek sal my geld gee, maar dis al.

Ek sluit af en deel ‘n video met erkenning aan Ligonier en James Anderson met die titel “What’s Your Worldview?” Mag jy ‘n beter begrip kry van die belang van ‘n lewens- en wêreldbeskouing in hierdie tyd, en vir wanneer ons as Christus se kerk oor ‘n saak soos byvoorbeeld onderwys en opvoeding in al sy geledinge saamdink en beplan.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s