Christelike onderwys: Die skoolbeheerliggaam se mandaat as beelddraers van God

“Ontsag vir die Here is die begin van kennis” (Spreuke 1:7 – 2020-vertaling)

“Kennis begin met die dien van die Here;” (Spreuke 1:7 – 1983-vertaling)

“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis;” (Spreuke 1:7 – 1953-vertaling)

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;” (Hosea 4:6)

Soos in my voorafgaande post aangedui, wil ek vervolgens fokus op ander strukture in die skool met betrekking tot Christelike onderwys en die uitbouing daarvan. In hierdie post val die fokus op die beheerliggaam en dan spesifiek die beheerliggaam wat vanuit oortuiging die skool op Bybelgefundeerde grondslag wil vestig en uitbou tot eer van God. Hoekom met die beheerliggaam as struktuur begin? Ek reken en ek erken dat dit die plek is waar ek as skoolhoof oor tyd en vir amper sewentien jaar van die meeste uitdagings binne die openbare skoolsisteem beleef het. Daar was krisisse, persoonlike agendas, konflik, misverstande – om aan die negatiewe te raak, maar dis ook die plek waar ek deur my blootstellings aan verskeie uitdagings baie geleer en perspektief gekry het. Andersins begin ek met die beheerliggaam omdat ek van mening is dat dit die plek of liggaam is wat doelbewus en in ‘n groot mate die karakter van die Christelike skool volgens Bybelse beginsels met al sy komponente bevorder en uitbou.

Tussen hakies wil ek by voorbaat dit stel dat hierdie post ietwat lywig is. Ek noem dit nie om af te skrik nie. Andersins mag jy reken dat die onderwerp nie jou belangstelling prikkel nie. Maar wees geduldig en lees enduit, al doen jy dit stuk-stuk soos om die spreekwoordelike olifant op te eet. Ek glo dit het eintlik vir elkeen van ons as Christen gelowiges waarde. Al begin ons net dink en besin. Dit gaan oor ons verbondskinders – God se kinders – en ons verantwoordelikheid as beelddraers van God.

Kom ek deel net eers die volgende perspektief ten opsigte van Christelike onderwys en die Christelike skool. Alhoewel ek my nie kan losmaak van my eie ervarings met betrekking tot die onderwyssisteem waarvan ek vir lank deel was, wil ek dit duidelik maak dat ek nie Christelike onderwys as bloot ‘n alternatief vanuit ‘n noodsituasie vir die bestaande openbare sisteem met al sy vreemde leringe en tendense wil stel nie. Dit gaan vir my hier oor onderwys as die oorspronklike Godgegewe plan, soos God dit vanaf die skepping bepaal en bedoel het en waaraan ons as Christen gelowiges gehoorsaam moet wees. Dit gaan ten diepste oor die vraag wat God wil hê ons moet doen met betrekking tot ons verbondskinders se onderwys en opvoeding (anders as die vraag wat die wêreld wil hê ons moet doen – wat vir die wêreld prakties, gerieflik en moontlik gewild is). Die vraag moet wees: Vanuit Bybelse lig, hoe wil God hê moet ons onderwys lyk met betrekking tot die inhoude van die totale program? Wat is die doel van onderwys vanuit Bybelse perspektief? Op ‘n persoonlike noot. Die besef het oor tyd by my ingesink en is ek daarvan oortuig dat ek deur God gelei is om deur sy Gees en met behulp van menslike instrumente begelei te word om die pad van Christelike onderwys meer en meer te betree. Verskeie ander studiebronne soos boeke, referate en preke is steeds besig om my te verryk ten opsigte van Bybelgefundeerde onderwys.

Deur die toedoen van Godgegewe begaafde mentors, ‘n studieleier en promotor kon ek deur ‘n reformerende en antitetiese denkhouding navorsing doen en ‘n proefskrif voltooi en die DEd-graad verwerf met die navorsingstitel: ‘n Histories-opvoedkundige ondersoek na die invloed van die sinkretisme op die moderne onderwys. Deur hierdie studie kon ek die sinkretisme aan die kaak stel deur die wesenskenmerke van Bybelgefundeerde onderwys as evalueringskriteria aan te wend ten einde die sinkretisme in sy ware gedaante te ontbloot. Wat ek egter wil beklemtoon, is dat ek opnuut en in ‘n sekere sin die ontdekking gemaak het wat die wese van Christelike of dan Bybelgefundeerde onderwys is en wat dit kenmerk. Ek glo terloops ook dat die sinkretisme vandag steeds aktueel is en die hoofstroomonderwys of openbare onderwys kenmerk en beïnvloed. Maar ek is ook van die oortuiging dat daar nou binne die heersende en verwarrende tyd waarin ons ons in bevind meer as ooit gefokus moet word op Christelike of dan Bybelgefundeerde onderwys. Ek glo dat u as leser sal besef soos wat ek verder delf, dat die bestaande openbare skoolsisteem nie Christelike onderwys in sy ware gedaante verteenwoordig nie. Dit mag vir sommige (en selfs die meerderheid mense en ek sluit Christen gelowiges hierby in) as ‘n arrogante stelling beskou word. Maar verbind gerus die dotjies en trek die lyne deur soos wat ek vervolgens gaan bespreek/beskryf. Of benut gerus onderstaande beginsels of punte as kriteria om die bestaande openbare onderwyssisteem soos in skole toegepas, te beoordeel met die volgende onderliggende vraag: Waarop beroep die skool hom wanneer die owerhede veranderings of praktyke wil implimenteer wat in stryd is met die Bybel en Christelike geloof? Of watter kriteria sal ‘n openbare skool benut om veranderings of tendense of filosofiese en ideologiese uitgangspunte krities te beoordeel?

Kom ek kyk dus eers met betrekking tot die verantwoordelikheid en posisie van die beheerliggaam binne die Christelike skool na ‘n paar vertrekpunte of beginsels wat gesamentlik en openlik verklaar, gekommunikeer en rigtinggewend aangewend moet word. Die vraag is dus wat die beheerliggaam glo en bely. Die beheerliggaam as spreekbuis en verlengstuk van onder andere die ouers, behoort van die volgende oortuig te wees:

  1. God Drie-enig soos Hy Homself openbaar en ons Hom meer en meer leer ken (Romeine 11:36), is die sentrale uitgangspunt ten opsigte van alle beplanning en aksies, bestuur en leiding. Beheerliggaamlid, skoolhoof, onderwyser en kind is in totaliteit op God aangewese.
  2. Die Bybel/Heilige Skrif word as die Bron beskou vir die Christelike lewens- en wêreldbeskouing waarvolgens die totale skoolprogram gerig word. Vir die Christen gelowige is die Bybel die geloofsbril wat perspektief en betekenis op die wêreld rondom hom of haar gee.
  3. Die Christelike mensbeeld geld as voorwaarde vir Bybel-gefundeerde onderwys. Volgens ‘n Bybelgefundeerde mensbeeld is elke mens (onderskeidelik as man en vrou) uniek deur God geskep. Elke mens het met ander woorde bepaalde (unieke) talente en aanlegte wat deur opvoeding en onderwys ontwikkel moet word. Hierdie gawes moet die mens as God se verteenwoordiger (God se rentmeester, God se beeld, Sy kind, Sy ambassadeur) aanwend om die skepping te versorg en in stand te hou (kyk Génesis 1:26-28).
  4. In ‘n Christelike skool bevestig die beheerliggaam dat onderwys (en opvoeding) inherent verbondsonderwys is. Dit is ‘n erkenning van die mens se ongehoorsaamheid soos deur Adam en Eva verbeeld en God se herstel van die verhouding deur verbondsluiting. Teenoor die ontrou (sondeval) van die mens, is en bly God getrou. God belowe (Génesis 3) dat Hy die verhouding sal herstel wanneer Sy seun, Jesus Christus (as Middelaar), deur Sy kruisdood versoening tussen God en kind (mens) sal verseker. In Sy voorsienigheid bevestig God Sy verbondenheid (verbintenis) en liefde met die mens wanneer Hy Sy seun as soenoffer vir die sondige wêreld gee. Hierdeur verseker God dat Christen-gelowiges (sy aangenome kinders) as kroon van die skepping nie verlore sal gaan nie, maar ewig saam met Hom sal lewe.
  5. Die beginsels uit God se Woord is die maatstaf of standaard wat die rigting van die onderwys bepaal. Die mens, as God se verteenwoordiger, is vry om besluite te neem en aktief te reageer. Die mens is egter nie outonoom nie, maar sy hele lewe word georden deur God se wet. God se wet word aan die mens op ‘n geïntegreerde wyse deur die Woord en skepping geopenbaar en ontsluit. Teen dié agtergrond is dit belangrik om te weet dat God se wet as riglyn dien, as maatstaf of as norm wanneer die mens die werklikheid (God se geordende skepping) deurgrond, verklaar en daaraan betekenis wil gee. Bybelgefundeerde/Christelike onderwys impliseer egter nie dat ons die Bybel moet interpreteer asof dit ‘n wetboek is wat deur middel van voorgeskrewe reëls die onderwyser en kind se lewe rig nie. Die Bybel, as die Wet van God, is ‘n gids wat op die Christen se totale lewe lig werp.
  6. Die beheerliggaam is van oortuiging dat God deur al die kultuuraktiwiteite gedien word. Al die mens se handelinge word deur sy religieuse hartsingesteldheid bepaal en al hierdie handelinge (met inbegrip van kennis en wetenskap) kan as kultuur omskryf word. Deur Bybelgefundeerde onderwys word aan die kind deur die onderskeie vakgebiede getoon dat die mens God deur sy dade, deur sy kultuuraktiwiteite dien. So word deur onderwys prakties gestalte gegee aan geloof.
  7. Die beheerliggaam is daarvan oortuig dat God die hemel, die aarde en alles daarop geskep het, en alles onderhou – die verkondiging van die Bybelse Skeppingsleer as ‘n uitdrukking van die Christelike geloof.
  8. Die beheerliggaam is daarvan oortuig dat die reformatoriese/gereformeerde denkingesteldheid ‘n onontbeerlike faset van Christelike onderwys is. So word alles waarby die skool betrokke is of waarmee die skool gekonfronteer word in die lig van God se Woord ontleed en beoordeel. Aanvullend hierby word die antitetiese (teenstellende) denkingesteldheid gestel as ‘n wyse om vanuit Bybelse lig stelling in te neem teenoor botsende lewensbeskouings of tendense.

Ek het vlugtig na die invloed van die sinkretisme op die onderwys verwys. Wat ek egter in die lig van bostaande agt beginsels wil stel, is dat die filosofie van die sinkretisme en waarvoor dit staan dit genoodsaak het dat ek dit deur die navorsing krities beoordeel deur gebruik te maak van Bybelse beginsels en te bepaal of sinkretisme of die sinkretis God eer of nie. Met ander woorde, kan ek op grond van my diep Christelike belydenis my vereenselwig met ‘n beskouing wat daarop uit is om God se heerskappy oor my totale lewe en sy soewereine wil te ontken en sy almag te beperk? Hoe beoordeel ek ‘n sisteem of tendens krities as ek deur daardie sisteem of tendens soort van gevange gehou of op sleeptou geneem is? Die beheerliggaam kan alleen op grond van ‘n objektiewe onveranderlike vaste waarheid sake krities beoordeel. God se Woord en die beginsels daarin is die Bron vir hierdie onveranderlike vaste waarheid. As die owerheid deur middel van wetgewing van die Christelike skool iets verwag wat in stryd is met God se Woord en wat die verhouding met God skaad, dan kan die beheerliggaam nie daarmee akkoord gaan nie. Ja, verseker moet die Christen gelowige die owerheid/gesag wat oor hom of haar aangestel is, gehoorsaam, want hierdie gesag word deur God toegelaat. Maar wanneer die owerheid van sy Christen burgers iets verwag wat daartoe lei dat God verloen of veraai word en in stryd met sy Woord is, moet die beheerliggaam van ‘n Christelike skool met liefde verskil en standpunt inneem, en aan God gehoorsaam wees.

Tans word daar byvoorbeeld binne die openbare skoolsisteem sterk besin oor die voortbestaan van Afrikaanse skole en beheerliggame se reg om die taalbeleid van ‘n skool te bepaal. Verskeie organisasies waarby skole geaffilieer is of wat skole se belange op die hart dra, is op hulle agterpote en verdedig die saak van Afrikaans as onderrigtaal binne Afrikaanse skole. Tot nou kon beheerliggame hulle taalbeleid met Afrikaans as onderrigtaal deur die skool se taalbeleid handhaaf. Maar wat van die godsdiensbeleid in skole? Ja, dis ook ‘n beleid en ‘n poging om plek te behou vir die beoefening van jou Christenskap by saalopeninge en vergaderings en funksies, maar daar is dan ook die bepalings wat binne die godsdiensbeleid (soos bepaal deur die Skolewet) ingebou moet word met die volgende strekking: “Godsdiensbeoefening by staats- of staatsondersteunde instellings kan geskied, mits sodanige beoefening die reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare owerheid neergelê is; dit op ʼn billike grondslag geskied; en bywoning daarvan vry en vrywillig is”. Hierteenoor is die Christelike privaatskool in totaliteit gerig op God se Woord. Dis nie werklik nodig om ‘n godsdiensbeleid te ontwikkel nie. Alle fasette word deur ‘n Bybelgerigtheid bepaal. Vergelyk byvoorbeeld die volgende Christelike privaatskool se visie- en missiestelling met die akkommoderende model binne die openbare onderwys soos binne bostaande godsdiensbeleid verwoord:

  • Die …. (skool) se grondslag is die Heilige Skrif, soos bely in die drie formuliere van eenheid.
  • Vanuit hierdie grondslag glo … (die skool) dat Christus se lig in en uit alle vakke en alle aktiwiteite van die skool skyn.
  • … (die skool) het ’n doelgerigte leerkultuur, kleiner klasgroottes, en onderwysers wat hul taak as roeping sien en uitleef.

Die Christelike skool is ‘n gemeenskap van gelowiges. Dit sluit die personeel, die kinders en ouers in. Hierdie komponente is op mekaar aangewese en veronderstel ‘n spesifieke verhoudingstruktuur. Kyk byvoorbeeld na punt vier bo. Alle verhoudinge binne die Christelike skool en met die gemeenskap word deur God se herstelde verhouding met sy kinders bepaal. God bevestig deur Christus aan sy kinders dat Hy soewerein is en volgens sy wil handel en uit genade deur Christus die gebroke verhouding op grond van die sondeval herstel het. Uit dankbaarheid en gehoorsaamheid aan ons Hemelse Vader stig ons verhoudinge met ons medemens wat volledig op God gerig en deur Hom bepaal word. Sulke verhoudings in terme van ons gedrag moet onder andere van wedersydse respek getuig, van integriteit en van geduld en so meer – as uitdrukkings van die vrug van die Gees. Sien in hierdie verband Galasiers 5 waar God ook duidelik en antiteties op die praktyke van die sondige natuur wys – praktyke wat die ou mens kenmerk en waarvan ons as God se kinders daagliks moet wegvlug en deur daaglikse bekering moet kruisig. Christus se volmaakte lewe en sy kruisiging eis dit van gehoorsame kinders van God. Die beheerliggaam behoort daarom ten opsigte van alle beplande aksies en inisiatiewe biddend te vra na wat God wil hê – ook hoe ons verhouding en kommunikasie met ander moet lyk. Hoe weet die beheerliggaam wat God se wil is? Elke lid van die beheerliggaam behoort in die uitleef van sy/haar Christenskap te getuig van ‘n persoonlike verhouding met God deur Jesus Christus, behoort God se Woord daagliks te bestudeer en God meer en meer leer ken – kennis van God as Almagtige, sy alomteenwoordigheid, sy alwetendheid, alwysheid, heiligheid – om ‘n paar kenmerke te noem. Elke beheerliggaamlid behoort die volgende openbaring van God soos dit uit die Woord bekend word, te bely:

Daar is net een ware heilige God. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. (sien Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 1)

Vervolgens wil ek graag meer spesifiek op die omvang van die taak en verantwoordelikheid van die beheerliggaam fokus. Ek is van oortuiging, in aansluiting by punt 8 hierbo, dat die beheerliggaam ‘n skool moet vestig en moet uitbou waarbinne gereformeerde/reformatoriese onderwys beoefen moet word. Anders gestel: Die Christelike skool kan alleen voortbestaan indien ons en dan in hierdie geval die beheerliggaam deur en deur gereformeerd (reformerend) dink en doen. Dit beteken die beheerliggaam moet ‘n vaste greep op die basiese-/grondbeginsels hê wat as grondslag van die skoolsisteem beskou word. Daar moet met ander woorde geen twyfel wees oor die noodsaak van so ‘n skool vir ons kinders nie. Dit beteken dat elkeen betrokke deeglik bewus moet wees dat die Christelike skool deur gebed, harde werk en opoffering gevestig sal word en dat die toekomstige geslag van die absolute nodigheid van die Christelike skool oortuig moet wees. Waarvan moet die medewerkers van ‘n Christelike skool verder oortuig wees, en wat moet hulle ingesteldheid en fokus wees?

  • Wanneer die beheerliggaam saam met die skoolhoof in terme van sy funksies strategies beplan, die begrotingsbehoeftes en die begroting en skoolfonds bepaal, die personeelvoorsiening en aanstellings, klasgetalle/-groottes, fisiese geriewe, hulpmiddels, tegnologiese ontwikkeling, kurrikulum, leer(der)ondersteunings-program en buitemuurse program struktureer, gaan dit gepaard met die nodige voorbidding en versugtende uitspraak, “as die Here wil”, en om God in alles te eer en te verheerlik.
  • Dit is alleen in die lig van die Woord dat die beheerliggaam en daarmee saam die ouers en personeel en uiteindelik die kinders ‘n ware interpretasie van God se openbaring in die natuur kan gee en daarom moet ons na die Bybel gryp vir leiding.
  • ‘n Christelike skoolbeheerliggaam is daarvan oortuig dat die ouers primêr die verantwoordelike opvoeders van die/hulle kind is. By die doop van ons kinders word dit bevestig. Die Bybel wys duidelik dat die ouers betrek en aangespreek word ten opsigte van die kinders se onderwys en opvoeding (sien Deuteronomium, Spreuke, Psalm 78 en Efesiers 6:4). Let op die woorde in Efesiers 6 vers 4: “… soos die Here dit wil”. Daarom moet die beheerliggaam voortdurend ouers deur die skoolprosedure daarop laat let dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om hulle kinders te vermaan, te bemoedig en op die regte pad te lei – volgens God se wil.
  • Die beheerliggaam is verder en in terme van sy mandaat daarvan oortuig dat die onderwys en opvoeding van die kinders fundamenteel religieus bepaald moet wees. Die Woord van God dui dit spesifiek aan. Hoor wat die Here van Abraham in Genesis18 vers 19 sê: “Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het”. Hiervolgens kan die beheerliggaam van ons tyd en in ons Christelike skole ook terugkyk en erken dat God getrou is en sy volk/die Israeliete op ‘n wonderbaarlike wyse in die verlede en in die tyd van die Ou Testament gelei het sodat sy kinders Hom met gewillige harte kan dien. Geïnspireer met en deur hierdie wete kan die beheerliggaam met vrymoedigheid ook gewillig dien en aan God gehoorsaam wees.
  • Die beheerliggaam is in wese ‘n God geroepe instelling. God roep mense en wil dat ons ten opsigte van elke kind in die skool moet weet dat hy/sy oraloor en altyd die beelddraer van God sal wees. Om die beeld van God in die mens te ontken, is om die mens van sy menslikheid te beroof. En dit wat essensieel deel van die kind is, kan nie ten opsigte van sy/haar opvoeding en onderwys geïgnoreer word sonder om ‘n onreg vir beide die kind en sy/haar Skepper te pleeg nie, en sonder om daardeur opvoeding en onderwys in afvalligheid te dompel nie. Na alles moet ons in gedagte hou dat die Heilige Gees in verbondskinders werk en besig is om die beeld van God wat deur die sonde verloor is te herstel. Daarom moet die beheerliggaam saam met die personeel die ouers by samekomste, ouervergaderings en deur nuusbriewe en verslae ondersteun en aanmoedig om as hulle na hulle kinders kyk, die kinders as beelddraers van God te sien.
  • Die beheerliggaam behoort verder daarvan oortuig te wees dat Christelike onderwys en opvoeding die hart en verstand betrek – die totale kind dus.
  • Uit voorafgaande is die beheerliggaam daarvan oortuig dat die huis, die kerk en die skool dieselfde siening en begrip van die essensiële kenmerke of natuur van die kind moet hê, maar ook van die basiese aspekte van die onderriggebeure.
  • Die beheerliggaam as gereformeerde Christen entiteit is van die voorveronderstelling en waarheid oortuig dat die kind die beelddraer van God is, en daarom mag geen deel van sy/haar onderwys van hierdie waarheid uitgesluit wees nie, veral in ‘n tyd waar die ouerhuis se invloed al hoe minder word.
  • Die beheerliggaam wat werklik gereformeerd dink en doen – dit is dink en doen wat nie in stryd met die Bybel is nie, maar juis by die onveranderlike Woord van God begin – laat hom lei deur God se wil en elke lid van die beheerliggaam is daarop ingestel en daartoe verbind om God se wil die wet van sy/haar lewe te maak. Hiervolgens is die beheerliggaam daarvan oortuig dat alle aktiwiteite en verhoudinge binne die skoolprogram deur gereformeerde (Bybelse) beginsels gerig word.
  • Uit voorafgaande punt wil ek dit stel dat die beginsel om allereers die koninkryk en wil en geregtigheid van God te soek die beheerliggaam se visie oor al die fasette van die skool moet bepaal (Matteus 6:33). As ons na verse 31 tot 32 van Matteus 6 egter kyk, dan sien ons dat Jesus wys op die antitese/teenstelling waar Hy sê dat die wêreld van ongeloof/ongelowiges/heidene juis eers vra wat die mens wil en dat die orde omgekeer word met ‘n ingesteldheid wat soos volg verwoord kan word: “Soek eers die pragmatiese/dit wat vir my werk/dit wat my eerste stel/dit wat my beeld en status en eer bevorder/dit wat ek nodig het, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”. Nee, die beheerliggaam moet eerstens na God se eer en sy wil vra en soek en is oortuig dat God se Woord die grondbeginsel van die lewe en praktyk is. Hiermee kan nie ongeërg mee omgegaan word nie. Trouens, die beheerliggaam kan en behoort met groot vrymoedigheid en openheid beplande projekte en inisiatiewe vanuit volle afhanklikheid van God en die koninkryksperspektief aan te pak. Dis verseker ‘n uitdaging in ‘n omgewing waar selfs uit eie geledere mense nie privaat Christelie skole en tuisskole met ‘n reformerende karakter ondersteun nie en eerder die idee ondersteun om hulle kinders by skole in te skryf wat grootliks op akademie fokus of onder die dekmantel dat sulke skole die plek is waar kinders meer geleenthede gaan kry en/of sosiaal beter gaan ontwikkel.
  • Die beheerliggaam behoort van die oortuiging te wees dat ‘n ware Christelike skool nie dui op ‘n klooster mentaliteit nie. Allermins! Die beheerliggaam van die Christelike privaatskool is wel bewus van ‘n sondegevalle wêreld met sy ongeloof en afvallige religieë en wêreldbeskouings. Trouens, die veronderstelling is dat die beheerliggaam met al sy lede hulle sondigheid en hulle onvermoë bely om enige iets te doen om redding en verlossing te verkry. God se uitverkiesende genade deur Christus se versoeningsdaad word uit geloof omhels. Die sondeval het egter ook die ongeloof en afvallige religieë met hul kenmerkende verskynsels/idees  laat  verskyn. Hierdie verskynsels en idees is vir die mens aanloklik en beïnvloed sy beskouings aangaande die wêreld en God. Afvalligheid van God deur toewyding aan die afgodedom en die vermenging van die ware godsdiens en die skyngodsdiens/afgodediens is sedert die sondeval ‘n algemene menslike verskynsel. In die lig van sy sondigheid, maak die mens homself dit wys dat hy ook ruimte kan skep vir uitgangspunte wat nie uitsluitlik tot eer en verheerliking van God is nie. Dit is binne en teen hierdie wêreldbeeld waarbinne die beheerliggaam funksioneer en homself moet posisioneer – nie op ‘n ontrekkende wyse en toeskouer mentaliteit nie, maar volgens die beginsel dat die Christen in hierdie wêreld is, maar nie van die wêreld nie. Nee, die Christelike beheerliggaam is ingelig en vergewis hom van die tendense, idees en beskouings wat byvoorbeeld die skool se visie bedreig of daarop negatief inspeel, en gee ook Bybelgefundeerde antwoorde om regstelling te bring of die skool se beginsels en standpunte te bevestig.
  • Die beheerliggaam kan in die lig van voorafgaande met vrymoedigheid aan land- en wêreldgebeure deelneem, simposiums en konferensies bywoon of afgevaardigdes stuur, al word selfs anti-Christelike en sinkretistiese standpunte deur sprekers gehuldig. Dit word gedoen uit ‘n posisie van krag en die wete dat die personeel en beheerliggaamlede in Bybelse beginsels begrond is. As skoolhoof kon ek telkens by kongresse, skoolhoofde simposiums en ander indiensopleidingsgeleenthede die koring van die kaf onderskei op grond my Bybelse oortuigings en beginsels, en ek dank die Here daarvoor. Dit bring my by die volgende punt met betrekking tot die skep van geleenthede om personeel en gemeenskap verder te bemagtig ten einde hulle taak en opdrag uit te voer.
  • Die beheerliggaam met inbegrip van die skoolhoof en sy personeel is daarvan oortuig dat geleenthede geskep word waar skole (nasionaal en internasionaal) met mekaar skakel, waar die grondwaarhede van Christelike onderwys gedeel en bevestig word en waar ons mekaar bemoedig en geloofsversterkend mekaar tot volharding aanmoedig. Ons leer as Christus se Liggaam bymekaar en deel mekaar se gawes – dit wat Christus vir ons gegee het. Dit alles word onderneem met die wete dat God aan ons mildelik voorsien en dat Hy tegnologiese middele soos die internet en ander sosiale media platforms (byvoorbeeld die sogenaamde “Zoom”-tipe kommunikasiemedium en potgooie/”podcasts”) aan ons voorsien om met mekaar te skakel, maar ook die boodskap en saak van Christelike onderwys vrylik en onverskrokke te bevorder. My gevoel is dat daar beslis meer plaaslik gedoen kan word om die saak van Christelik gereformeerde onderwys te bevorder en deur ‘n verenigde front uit te dra – ook deur kerke en gemeentes. Ons mag nie lam gelê word deur sienings binne die kerk en uit ander geledere wat Christelike onderwys en skole as onhaalbaar/onuitvoerbaar beskou nie, net omdat ons vir jare al gewoond geraak het aan ‘n model waaruit ons ons nie kan loswikkel nie. Daarom behoort die beheerliggaam ‘n staande punt op die agenda te hê waar lede mekaar as’t ware tot verantwoording roep oor die Christelike opdrag om die totale program met sy onderskeie dele in die lig van God se Woord en Waarheid aan te pak en uit te voer. Ons is dit aan ons verbondskinders – God se kinders – verskuldig.
  • Ons hoor dikwels in die alledaagse gesprekke van karakterbou en waardegedrewe onderwys. Teen hierdie agtergrond is dit vir die beheerliggaam van die Christelike skool belangrik om perspektief te gee. Die vraag wat gevra moet word, is wie se karakter en wie se waardes? Dit is duidelik op grond van voorafgaande punte dat die onderwys in die Christelike of Bybelgefundeerde skool Christus gesentreerde onderwys moet wees. Dit is ononderhandelbaar. As karakterbou en waardegedrewe onderwys dus verkondig word, is die bedoeling dat die Christelike skool en sy beheerliggaam Christus se karakter en die waardes wat Hy uitgeleef het deur die skoolprogram sal verkondig. As ‘n skool integriteit as waarde bepaal en dit selfs teen die mure in die gange, in die skool se voorportaal en op briefhoofde aanbring om aan te dui waarvoor die skool staan, kan dit nie bloot as bemarkingstrategie dien nie, maar gaan dit ten diepste oor die eer en verheerliking van God deur Jesus Christus wat die volmaakte voorbeeld van byvoorbeeld integriteit is en was. Christus se volmaakte voorbeeld behoort dus die Christelike skool ten opsigte van alle aktiwiteite te integreer en te reflekteer. Die grondliggende vrae is: Na wie wys die waarde? Wie word deur die waarde verheerlik?
  • Die beheerliggaam se taak en voorbeeld behoort toenemend te wees om die skoolgemeenskap in sy geheel op Christus en sy voorbeeld te wys. Dit is die resultaat van heiligmaking – meer en meer soos Christus. In die praktyk is die beheerliggaam, gedryf deur die Heilige Gees, voortdurend daarop ingestel om die skoolhoof, die ouers, personeel en uiteindelik ook die kinders aan te moedig om dit wat na God se Woord wys te bestudeer om in hulle geloof opgebou te word en God te verheerlik. Hier dink ek spesifiek aan die bronne wat God deur mense daargestel het om God se Woord verder te ondersoek en sy wil te leer ken. Bronne soos die Dordste Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus, die Geloofsbelydenis en die artikels oor onder andere die Enige God, die middele waardeur ons God ken, die geskrewe Woord van God, en so meer. Ja, ek is al te bewus dat daar diegene is wat niks wil weet van genoemde geskrifte nie met die gevoel dat hulle dit nie nodig het nie. Die Bybel is genoeg. En dis waar. Die Bybel is die onveranderlike Woord van God en geen ander geskrif kan dit vervang of aanpas nie. Persoonlik het hierdie geskrifte (benewens ander boeke) my telkens in my lewe gehelp om perspektief te kry deurdat dit my juis op die Bybel as lewende Woord van God meer en meer laat fokus het om byvoorbeeld dwalinge uit te ken en met God se Woord versterk te word. Ek beskou dit as gawes uit God se hand waarmee sy kinders gevoed word – gawes soos beliggaam deur Christus. Kyk net hoe treffend word ons as God se kinders (as deel van die liggaam van Chrisus) in 1 Petrus 4 gelei om deur Christus die nuwe lewe aan te pak en ons hoop op Hom alleen te stel en nie op die wêreld en lewe waarvan ons afskeid geneem het nie: “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. 2 Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. 3 Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. 4 Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – 5 hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel”.

Ter afsluiting wil ek net wys op die beheerliggaam se belangrike taak en opdrag om die kulturele mandaat (Genesis 1:28) uit te voer. Uiteraard mag dit wat hierbo in die eerste gedeelte verduidelik of bespreek is reeds dui op die effek van die kulturele mandaat, Herhaling mag noodwendig voorkom, maar nou ja, ons weet mos dat ons en ons kinders deur herhaling leer! Wat word bedoel met ‘kulturele mandaat’? Wat die begrip ‘kultuur’ betref, reken ek dat vele skoolhoofde kan getuig dat die begrip uit gewoonte sodanig gebruik is/word dat dit na onder andere die koor en debatsvereniging verwys. Soms verwys dit ook in breë terme na die skoolkultuur, leerkultuur en sportkultuur en so meer. Tog sê die wese van die begrip baie meer en verwys dit na ‘n dieper betekenis – ‘n betekenis en strekking wat deur die beheerliggaam van die Christelike skool ten diepste verstaan moet word.

‘n Mandaat beteken dat iemand die volmag en die opdrag het om ‘n spesifieke taak uit voer. Die beheerliggaam as verkose liggaam het in die algemeen verskeie opdragte en take om uit te voer. Maar binne die konteks van Christelike/Bybelgefundeerde onderwys, is die opdrag aan die beheerliggaam met die oog op die gemeenskap wat hy dien, om God se wil uit te voer – sy mandaat vir ons almal as Christen gelowiges. Al die mens se handelinge word deur hierdie ingesteldheid bepaal en al hierdie handelinge (met inbegrip van kennis en wetenskap) kan as kultuur omskryf word. Die kulturele mandaat impliseer dat deel van ons rentmeesterskap om die aarde te bewerk en te bewaar, is om uit ons pad te gaan en die kultuur so te beïnvloed dat dit God se wil reflekteer. Dit sluit alles in, ook ons persoonlike lewe en interaksies met die regering en gemeenskap, as deel van ons verantwoordelikheid om God se wil prakties uit te leef. Of soos iemand dit gestel het: “The creation mandate most simply refers to man’s authority over the earth and his responsibility to follow God’s design for stewardship and sexuality. The cultural mandate, in its most biblical sense, is our personal obligation to submit all of our lives to God’s will, specifically including the way we interact with others through government and society. As the salt of the earth (Matthew 5:13), we influence the culture for good” (Got Questions: What is the creation mandate/cultural mandate?). Met watter boodskap of sekerheid en grondliggende beginsels moet die beheerliggaam sy belangrike taak/roeping en opdrag/mandaat benader en aanpak? Ek het by Joe Boot van die Ezra Institute gaan ‘aanklop’. Die beheerliggaam en Christelike onderwys kan met groot vrymoedigheid van sy insigte gebruik maak – insigte vanuit God se Woord. Boot draai nie doekies om as hy daarop wys dat ons en ons kinders in hierdie wêreld en tydsgees blootgestel is aan “The propaganda war against the faith” wat vandag nog fel voortduur. Boot gaan voort: “It is powerful, well-resourced and pervasive in many public and private institutions.  Sometimes the propaganda is framed in terms of the political ideals of multiculturalism that dominate our society; at other times it has centred on the official state policy of political correctness as it relates to restrictions on free speech and liberty“. 

Joe Boot verwys na die drieledige Christelike roeping. What then is the calling of Christians [ook vir die beheerliggaam wat verbondskinders saam met die skoolhoof en personeel moet lei en versorg] in the midst of this culture war? (eie invoeging)

  1. Eerstens, ons kan onsself nie van kultuur distansieer of dit ontglip nie. Christus regeer en heers as Skepper, Verlosser en Koning oor kultuur. Alle dinge is gemaak en is onderworpe aan Christus en Hy is gister, vandag en vir altyd dieselfde (Hebreers 13:8). Christus se waarheid, evangelie en wet is nie kultureel relatief nie. “Die mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dit bly vir ewig” (1 Petrus 1:24-25). Aangesien Christus se doel die herstel en versoening van alle dinge met Homself is (Kolossense 1:20), is die sentrale roeping van die Christen om die kultuur te transformeer deur getrou te bly aan die evangelie en die volle Woord van God.
  2. Tweedens moet ons daarop bedag wees dat die wapens van ons ‘oorlog’ nie van vlees is nie, maar het goddelike krag om vestings/bastionne te vernietig. Ons vernietig redenasies en elke hoogmoedige opinie wat teen die kennis van God geopper word, en neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Korintiërs 10:4-5). Ons stryd is geestelik en is ‘n stryd vir die denke en harte van mense. 
  3. Derdens, om die geestelike oorlog te voer en aan te pak, moet ons getrou aan God se Woord wees en die relevansie of toepaslikheid van sy Woord ten opsigte van elke faset van die lewe erken en daarvolgens lewe. Ons sal alleen op hierdie wyse sien hoe die evangelie ons transformeer/verander, asook ons gesinne, gemeenskappe en daarom ook kulture. Totdat ons nie hierdie begrip en betekenis van die geloof herwin nie of besef nie, sal ons nie in staat wees om werklik te begryp hoe die groot kerkvaders van die kerk gelei het toe hulle nie vir Ceasar as Here erken het nie, maar vir hulle belydenis ‘Jesus is Here’ gesterf het. Sonder hierdie begrip, sal ons ten opsigte van die krisis in ons tyd irrelevant bly, en sal die geloof van ons voorvaders “pass like wind in the prairies, driven by the propaganda of idolatry – the worship of man and state” (Joe Boot).

Wat se betekenis hou bostaande drie punte vir die beheerliggaam in? As beelddraers van God moet die beheerliggaam Christus-gesentreerd dink en doen – ingestel op herstel/restitusie en om alles (elke faset van die skoollewe onder Christus se heerskappy te stel en Hom te vertrou en aan Hom elke aspek toe te vertrou. Dis ‘n demonstrasie van gehoorsaamheid ten opsigte van ons roeping en ‘n intense bewuswees van die waarheid dat die kultuurmandaat soos beskryf in Genesis 1:28 voor die sondeval, as opdrag gegee is. [Net iets oor die begrip ‘roeping’. Elke Christen gelowige is ‘n geroepene in die koninkryk van God. Dit is nie ‘n begrip wat net op predikante of teoloë van toepassing is nie. God roep ons deur Jesus Christus tot taakvervulling en om sy verbondskinders op te voed en te onderrig sodat hulle ook hulle gawes meer en meer soos dit ontwikkel in geloof tot God se eer kan aanwend. Dit wys ook op die herstelde beeld van sondaars deur geestelike groei en heiligmaking – meer en meer na die beeld van Christus!]

As geroepene en gestuurde, behoort die beheerliggaam te antwoord/rapporteer, en wel ten opsigte van elke faset van die skool se bestuur en beheer. Ja, in my gedagtes hoor ek dat daar stemme kan opgaan wat waarsku dat die beheerliggaam nie op bestuursvlak moet inmeng nie en dat daar tussen bestuur en beheer onderskei moet word en elkeen op sy/haar terrein moet bly. Tog, gaan dit hier oor die werklikheid dat die beheerliggaam en die skoolhoof vanuit dieselfde oortuiging en vertrekpunt die kulturele mandaat wat hulle opgelê is, moet aanpak en uitvoer, tot eer van God. Ons het elkeen die oproep gekry om standvastig te bly in die waarheid – die standhoudende waarheid (2 Thessalonisense 2). So dikwels het ek uit eie ervaring teen die agtergrond van die eietydse openbare onderwyssisteem met sy sterk klem op akkommodering en verdraagsaamheid besef dat die konflik tussen ‘n skoolhoof en die ander lede van die beheerliggaam juis ontstaan het op grond van die verskil in vertrekpunte en vooropgestelde idees en opinies (individueel en gesamentlik) wat nie met die kulturele mandaat rekening gehou het nie. Waarteen moet ‘n beheerliggaam waak om nie van koers gebring te word nie (en ek reken dat die leierskap binne die openbare skool ook hierop ingestel moet wees, alhoewel daar faktore is waarmee rekening gehou moet word)? Ek deel graag enkele gedagtes:

  • Geheime of verskuilde en persoonlike agendas. Daar is nie plek binne ‘n omgewing en liggaam, wat deur Christus se liefde saamgebind is en waar Christus nagevolg word, om eie persoonlike voor- en afkeure of persoonlike belange te bevorder of te dryf nie. Elkeen is ondersteunend tot mekaar en vul mekaar op grond van die onderskeie of verskeie gawes aan, bemoedig mekaar en deel en dra met vrymoedigheid mekaar se laste met die wete dat Christus reeds die grootste las vir ons gedra het. Hierdie wete bring nederigheid, gehoorsaamheid en dankbaarheid met die uitroep dat ons niks het om op te roem nie. Ons roem alleen in Christus.
  • Manipulasie. Die idee of tendens om te manipuleer en te oorheers en mense in rigtings te druk deur ‘n houding van outokrasie/alleenheerser, is nie te vereenselwig met die kulturele mandaat en styl wat binne die Christelike skool geld nie. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid en plig om volgens Bybelse beginsels op te tree en te leef en gedrag te openbaar wat tot eer van God strek. Wat is tekens van manipulasie (wat sterk aansluit by ‘geheime agendas’)? Soms kan individue binne die beheerliggaam, maar ook van buite af op selfs ‘n subtiele manier druk plaas om byvoorbeeld nuwe aanstellings te maak, of projekte te loods wat die skool of die persoon in die kollig plaas en in vergelyking met ander skole die skool laat goed en spoggerig lyk. Beheerliggame moet dus daarteen waak dat wêreldse norme en style nie begin bepalend raak en dikteer nie. Goed deurdagte projekte met die oog op die effektiewe funksionering van die skool waar saam (strategies) beplan word en waar ouers en ander lede van die gemeenskap betrek word op grond van spesifieke gawes is wel nodig om die kwaliteit van onderwys en in ‘n omgewing wat bevorderlik is vir Christelike onderwys, te vestig en uit te bou. Die vraag is altyd hoe die ontwikkeling, vernuwing en opgradering God verheerlik? Anders gestel: Hoe gaan ons met die finansiële bronne (as gawes en leengoed uit God se hand) om ten einde God se wil te laat geskied en Hom te verheerlik? En hoe leer ons ons kinders om dankbaar vir ons middele en bronne teenoor die Here te wees en vir Hom te lewe?
  • Ideologiese en filosofiese indringers. Ek het reeds verwys as voorbeeld na die invloed van die sinkretisme (dit is die vereniging of vermenging van verskillende geloofsinhoude, of van verskillende stelsels, of van verskillende lewens- en wêreldbeskouings, wat op botsende grondslae berus) op die moderne onderwys. Ek wil net beklemtoon dat sulke tendense soos die sinkretisme en sy invloed alleen deur die bril van die Christelike wêreld- en lewensbeskouing geëien en ontleed kan word. En dit geld vir alle ander tendense wat wil ondergrawe of verwar. Waar skole dan vrylik van kurrikula oor die spektrum van verskeie bronne en inisiatiewe (departementeel, privaat, aanlyn en so meer) gebruik maak, moet onthou word dat geen kurrikulum of leerprogram neutraal is of aangebied word nie. Daar sal noodwendig onderliggende lewensbeskoulike motiewe deursyfer wat inhoude rig en kleur, waarvan kennis geneem moet word. Waak teen die dringendheid en ‘n tipe stoomroller houding met die ‘advertensie’/propagering en motivering dat die spesifieke strategie wat voorgehou word ‘n hoë standaard waarborg en dat ‘n mens net nie die geleentheid kan laat verbygaan nie. In ‘n Christelike skool behoort dit die beheerliggaam se standpunt te wees dat God se Woord die hoogste standaard en beginpunt (beginsels) is om alles teen te beoordeel. ‘n Kritiese denkingesteldheid is dus ‘n voorvereiste. Hierdie kritiese ingesteldheid veronderstel en verwys na ‘n antitetiese (teenstellende) denkhouding waar byvoorbeeld die sinkretisme en ander tendense (soos byvoorbeeld die akkommodering van ewolusie in die kurrikulum en die LGTBQ+-beweging) telkens by wyse van die reformatoriese denkhouding teenoor die Christelike grondmotief gestel word. So ‘n kritiese ingesteldheid is nodig om verandering, verbetering, regstelling en opbou deur middel van ons kulturele mandaat te bring. Die tipe onderwys wat die beheerliggaam in die skool struktureer is deel van hierdie opbou- en uitbouproses en om kinders omhoog te lei, na God toe. Daarom is kennis van God se Waarheid en verdere daaglikse groei daarin vir die beheerliggaam van ‘n Christelike skool onontbeerlik.

Hoe behoort die beheerliggaam as verenigde liggaam/raad/direksie die kulturele mandaat meer aktief en dinamies uit te voer/leef, of watter geleenthede behoort die beheerliggaam doelbewus aan te gryp te midde van ‘n afvallige kultuuromgewing wat deurlopend in konflik met die Christelike kultuurmandaat verkeer? Om mee weg te spring, dit gaan in alle opsigte oor kennis van die waarheid en hoe dit op elke faset van toepassing is. Die onderliggende vraag is deurentyd, wat is die waarheid? Wat is God se wil vir onder andere menslike hulpbronbestuur, vir die kurrikulum en die bestuur daarvan, vir sportbestuur, vir die totale skoolprogram/-kultuur dus, en hoe word die beeld van Christus sigbaar in elke faset? Hoe pas die beheerliggaam die beginsel dat ons in ‘n herstelde beeld en verhouding met God staan en leef, prakties toe, en wel ten opsigte van:

Personeelaangeleenthede:

Wat is die motivering wanneer personeel en ook ‘n skoolhoof benoem en aangestel moet word, of wat is die beginsels wat die siftingskriteria, die onderhoud self en uiteindelik die benoeming en aanstelling bepaal? Die belangrike beginsel wat oor die hele front van skoolaktiwiteite geld, is die beginsel dat die mens wik maar God beskik. Die beheerliggaam behoort hierdie beginsel in al sy beplanning en aksies uit te leef of bewustelik mee rekening te hou. Sekerlik is die basiese vereiste met aanstellings dat die kandidaat ‘n Christen moet wees – ‘n Godsman/Godsvrou; iemand wat nie net sê hy/sy is ‘n Christen nie, maar wie se hele lewe getuig van ‘n belydenis en die aanvaarding van God as die hoogste gesag in sy/haar lewe, en wat die persoon se in- en uitgange bepaal. Die kandidaat moet verder getuig van sy/haar ingesteldheid om ‘n lewenslange student van God se Woord te wil wees. En om waarlik met God se Woord besig te wees bring die besef na vore dat dit met nederigheid/ootmoed behoort te geskied – minder van myself en meer van God, juis omdat ek daagliks besef dat ek onbeholpe is, en God groot, goed en soewerein, en ek in my sondegevalle toestand volkome van Hom afhanklik is. Dit is so ‘n ootmoedige houding wat eerder beïndruk, waar God as soewereine Skepper bely word. ‘n Kandidaat wat met bravade en arrogansie en ‘n houding van ongebondenheid as’t ware luidkeels al sy/haar prestasies en uitsonderlike kwaliteite aankondig, en met ‘n houding dat die skool nie kan bekostig om hom/haar nie aan te stel nie, getuig om die minste te sê van verwaandheid en verhewendheid en hoogmoedigheid.

Een van die basiese vereistes met betrekking tot die aanstelling van ‘n skoolhoof/perso-neellid, is dat so ‘n kandidaat ander mense/mede-personeellede moet opbou. Dit gaan wesenlik oor die opbou van ‘n persoon na die beeld van Christus. Dit gaan oor dienende leierskap. Eerder andersom: ware leierskap veronderstel ‘n dienende karaktertrek en ingesteldheid. Dit gaan oor die dien van God en my naaste. Dit gaan daaroor om my naaste lief te hê soos myself. Mentorskap as karaktertrek of ingesteldheid van enige Christen opvoeder is daarop gerig om die gawes wat God aan my mede-personeellid/-kollega uitgedeel het tot God se eer en tot uitbreiding van sy koninkryk uit te bou en aan te wend. Vir die skoolhoof beteken dit dat hy/sy weer die gawe behoort te hê/te gebruik om sy personeel so aan te wend dat hulle weer op hulle beurt die verbondskinders waaroor hulle aangestel is op te bou om as lewende stene in God se koninkryk die kultuurmandaat te beoefen. Op sy beurt behoort die beheerliggaam daarop te let dat die skoolhoof weer die nodige blootstelling kry om met vrymoedigheid as mentor en as (noem dit ‘n) indiensopleidingsagent binne die skoolkonteks personeel en veral ook jong onervare personeel te lei in hulle verdere opleiding en ontwikkeling. Wanneer die skool in sy onderskeie afdelings en fasette gestruktureer word, beplan die skoolhoof sodanig en met die ondersteuning en samewerking van die beheerliggaam, bestuurspan, vakhoofde, graadhoofde en elkeen verbonde aan die instansie, dat die Godgegewe gawes en talente effektief aangewend word om uiteindelik elkeen van ons verbondskinders deur Christus gesentreerde onderrig vir God se koninkryk voor te berei en ook sout en lig in die wêreld te wees.

Die beheerliggaam as deel van die gemeenskap van gelowiges:

Ek reken wat reeds bo bespreek is, dui daarop dat die beheerliggaam nie in isolasie funksioneer nie. Die beheerliggaam behoort daarom saam met die kerk en as deel van ‘n gemeente sy taak te beskou en aan te pak. Wel wetende dat die idee en praktyk van Christelike onderwys selfs nie in die kerk deur sommiges as haalbaar beskou en ondersteun word nie, het die kerk wel (al is net teoreties) ‘n besliste gerigtheid op die beginsel van Christelike onderwys. In die gereformeerde gemeente waar ek self as ouderling dien, word die beginsel van Christelike onderwys ondersteun. Ek reken egter wel dat Christelike onderwys ook vanuit die gemeente beskou word as ‘n faset wat wel tans in die gewone openbare/publieke skole steeds tot sy reg kom, en nie soseer dit beskou vanuit die privaat Christelike skool nie. Verseker is daar opvoeders in die openbare skool wat hulle persoonlike belydenis en Christenskap in die skool en in die klas veral uitleef en die kultuur beïnvloed. Ons moet die Here daarvoor dank dat daar opvoeders is (ongeag waar hulle hulle bevind) wat die kultuurmandaat/-opdrag met die nodige erns bejeen as mense in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Tog wil ek verder kyk en beheerliggame aanmoedig om deurentyd op grond van ‘n plaaslike en wêreldwye geroepenheid na mekaar en na ander instansies wat dieselfde visie vir onderwys deel, uit te reik en kontak te maak. Hieroor kan ons en die beheerliggaam veral dan nie stilbly nie en moet ons die vrymoedigheid daadwerklik neem, veral omdat die Here vir ons dit tegnologies moontlik maak om met ander gelowiges wêreldwyd te skakel en van mekaar te leer. Daar is instansies in Suid-Afrika wat reeds kosbare werk ten opsigte van Christelike onderwys verrig, veral dan ook wat die opleiding van onderwysers betref. Die beheerliggaam behoort hierdie tipe instansies op te soek en kragte saam te snoer. Verder behoort die beheerliggaam geleenthede raak te sien waar nuwe ontwikkelinge of verwikkelinge in die samelewing daartoe lei dat ‘n gaping ontstaan en wat toetrede noodsaaklik maak. Kom ek gee ‘n voorbeeld van so geleentheid.

Die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (GKSA) het onlangs sy sinodesitting gehad. Een van die aspekte wat hanteer is en waaroor besluit moes word, was die verhouding en verbintenis tussen die universiteit en die teologiese skool. Uiteindelik is besluit dat die bestaande ooreenkoms met die NWU oor 3 jaar tot ‘n einde sal kom en dat daar dan alternatiewe wyse van opleiding in plek moet wees. Vir hierdie doel het die GKSA besluit om ‘n privaat hoër onderwys instelling op te rig en volgens wetgewing te registreer waar studente in die toekoms geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang. Die beoogde naam van hierdie instelling is Die Gereformeerde Teologiese Akademie. Wat my betref is dit ‘n voorbeeld van die gehoorsaamheid aan God om die Christelike kultuurmandaat in stand te hou. Dit wys ook op gehoorsaamheid om nie aan die wêreld gelykvormig te word en aan sisteme wat nie bevorderlik is vir Skrifgetrouheid nie, maar om getrou te bly aan God en die beginsels in sy Woord. Die vraag vanuit die Christelike skool deur die beheerliggaam is hoe so ‘n nuwe Akademie van waarde vir die Christelike skool kan wees? Is daar raakvlakke? Is daar plek vir ‘n opleidingsbeen wat bekend kan staan as byvoorbeeld Die Gereformeerde Skool Akademie (of watter naam ook al)? Laasgenoemde gedagte is ‘n klippie in die bos, maar ek reken daar moet werklik ernstig saam besin word oor die profiel wat Christelike onderwys tans het en hoe dit verder uitgebou kan word. Al hierdie vrae is ‘n soeke na hoe ons verder as herstelde mense deur Christus se soenverdienste die kultuur kan beïnvloed om meer en meer God se wil te gehoorsaam. Die beheerliggaam het verseker ‘n verantwoordelikheid om in terme van nuwe verwikkelinge op byvoorbeeld teologiese gebied verskeie rolspelers te konfronteer met waarheen nou (quo vadis) en wat volgende? Of, hoe kan ons as beheerliggaam verdere geleenthede deur die middele wat God skenk en wat die mens deur byvoorbeeld tegnologiese ontwikkeling ontdek, benut om onder andere die onderrig- en leeromgewing so in te rig dat die kultuuropdrag/-mandaat tot sy reg kom?

Die kurrikulum:

Die vertrekpunt en norm vir die beplanning en uitvoering van die kurrikulum is God en sy standaard en alles word daaraan gemeet of beoordeel. Die beheerliggaam het ‘n verantwoordelikheid om toe te sien dat die inhoud van die kurrikulum die waarheid weergee. Daarom is dit ook belangrik dat die beheerliggaam die voorbeeld stel deur ‘n Christelik kritiese denkingesteldheid aan die dag te lê wanneer oor die kurrikulum en onderrig- en leerprogramme besin word, veral wanneer die inhoude voorgeskryf word van buite die skoolverband of programme aangekoop of oorweeg word. Die onderliggende vraag is: Watter standaard is ter sprake of wie se standaard word gebruik. Byvoorbeeld: As iemand net uit die bloute sê dat die inhoud van ‘n seere program of boek goed is, moet die vraag eintlik wees volgens wie se standaard dit bepaal is. Ek onthou jare terug tydens my kollege opleiding het ‘n dosent gevra hoe ‘n mens bepaal of ‘n spesifieke storieboek wat vir kinders voorgeskryf word ‘n goeie boek is. Die antwoord hierop uit die klas was as daar mooi en genoeg illustrasies is wanneer jy so deur die boek vinnig waaier (as daar so ‘n woord is, met verwysing na die Engelse woord “fan”). ‘n Ander se antwoord was as die voorblad prikkelend vir kinders is. Die dosent het egter dit toe gestel dat die twee antwoorde nie noodwendig bepaal of dit ‘n goeie boek is nie. Daar moet deeglik deur die boek gewerk word, die boek moet eers deur die onderwyser self deurgelees word, en daar moet verder bepaal word of dit by die spesifieke ouderdomsgroep sal pas, en so meer. Wat dit dus veronderstel is dat daar ‘n standaard moet wees waarmee die boek vergelyk moet word. Dit is in terme van die Christelike skool essensieel dat die beheerliggaam moet toesien dat boeke of enige ander materiaal aan God se standaard moet voldoen. Dit verg deeglike kennis eerstens van elkeen betrokke of van hulle wat die moderering moet doen om vanuit die Bybelse standaard hulle taak te onderneem.

Dis dan ook baie belangrik dat die beheerliggaam in noue samewerking met die skoolhoof die beginsel handhaaf en uitdra dat ‘n kurrikulum met al sy onderdele as snitte van God se skeppingswerklikheid nie maar net ter wille van die kurrikulum onderneem en slaafs nagevolg word nie, byvoorbeeld kuns ter wille van kuns, of wiskunde ter wille van wiskunde nie. Dit gaan oor die doel van die kurrikulum en elke onderdeel of faset soos deur die Christelike bril bekyk tot eer van God drie-enig. Kom ons kyk na ‘n paar vakgebiede vanuit Bybelgefundeerde grondslag met die onderliggende vraag: Hoe eer ons God deur die vak? En eintlik is die antwoord en veronderstelling die belydenis en erkenning dat God oor alles en almal regeer en dat Hy alles in sy hand hou. En verder, dat Hy as Skepper die kurrikulum wat God se skeppingsorde omvat/bevat vir ons as gelowiges met ‘n opdrag/mandaat kom gee het – ‘n mandaat wat ons nie sonder God kan deurgrond en uitvoer nie. Soos RJ Rushdoony met verwysing na wiskunde dit stel: “For the Christian, mathematics is not the means of denying the idea of God’s pre-established world in order to play god and create our own cosmos, but rather is a means whereby we can think God’s thoughts after Him. It is a means towards furthering our knowledge of God’s creation and towards establishing our dominion over it under God“. Vern S Poythress gee die volgende treffende perspektief: “… the teaching of Genesis carefully distinguishes man the creature from God the Creator. This implies that God is the originator of mathematical truth, while man is only a recipient. God knows all mathematical truth and never errs, while man knows in part and does err“. As die beheerliggaam dan oor die keuse van ‘n kurrikulum besin, moet die volgende in gedagte gehou en gekommunikeer word. Ek hanteer net drie fasette van die kurrikulum.

  • Bybelonderrig/Bybelstudie: Ek reken elke beheerliggaam van ‘n Christelike skool (of selfs van ‘n gewone openbare skool) behoort deeglik kennis te neem van die volgende woorde deur RJ Rushdoony: “Bible classes in a Christian school are a failure, unless the essentials of Biblical faith are applied to every course in the school. I have visited supposedly strong fundamentalist colleges over the past twenty years and seen why they were destined to drift into neo-orthodoxy and into evolutionary thinking by looking at the non-Biblical courses. In several cases, this drift is already very much in evidence. The reason for it is that, for example, mathematics is taught from a relativistic view point; classes begin with prayer, and then instruction implicitly denies God. The science courses presuppose a universe which is an impersonal and blind force, not the creation of the personal God. Sociology and social studies courses assume that predestination is in man’s hand, not God’s. Psychology and anthropology, instead of being branches of theology, as they were in origin, are made the handmaids of humanism, and so on. A humanistic curriculum cannot be made Christian by introductory prayers or by a sprinkling of holy water, but only by means of clear-cut Biblical presuppositions”. Rushdoony gaan voort en stel die volgende as rigtingewende beginsel ten opsigte van God se Woord: “The Bible, … , does not give us the multiplicity of facts which make up mathematics, paleontology, physics, biology, or any other subject, but it does give us “the truth about all facts.” It declares all facts to be God-created, God-governed, and God-serving facts”. Die Bybel is die basis en vertrekpunt van alle onderwys (alle vakke/fasette) in die skool. Dit gee betekenis aan alle feite, asook ten opsigte van die doel van onderwys.Wat onderrig betref gee die Bybel twee belangrike verklarings en waarhede en wel deur die Spreukeboek, naamlik, “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag”. En verder, “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spreuke 1:7; 9:10). Dit kan beskryf word as die pilare waarop ‘n kurrikulum staan en waarvolgens die kulturele mandaat aangepak en uitgevoer word. Ten opsigte van Bybelonderrig en die onderrig van God se waarheid/feite behoort dit onderneem en gedoen word met kennis en wysheid. Rushdoony wys op vyf punte van belang met betrekking tot Bybelonderrig, naamlik: (1)  Die Christelike skool is ‘n skool, nie ‘n kerk nie. Die essensiële funksie of doel is onderwys en nie evangelisasie nie en die twee moet nie met mekaar verwar word nie; (2) Tweedens behoort die klas ‘n baie duidelike oorsig te kry oor Bybelse geskiedenis en leerstellings/dogma/doktrine. Dit bring duidelikheid en begrip ten opsigte van die eenheid van die Skrifte of van Bybelse chronologie/tydsorde. Die Christelike skool moet die boodskap duidelik stel dat die Bybelklasse nie afgewater word met allerlei foefies om kinders se belangstelling te prikkel nie. Die fokus moet op Christus bly en dit veronderstel dat die klasse hoogs gedissiplineerd en deeglik moet funksioneer; (3) Derdens, Christelike onderwys kan nooit abstrak wees nie. Vir ons is alle feite konkreet en persoonlike feite deur God geskep. Dit het die betekenis wat God vir dit gegee het. God se betekenis of bedoeling moet ook ons betekenis of bedoeling wees – nie ‘n abstraksie nie. Wanneer byvoorbeeld die boek Josua bestudeer word, moet begin word met die opdrag van God aan Josua (Josua 1:2-9), en opgevolg word met die Groot Opdrag van Matteus 28:18-20 wat dit opsom. Josua en Israel moet voortgaan en Kanaan vir die Here inneem en oorwin. Die kerk as God se nuwe Israel moet die wêreld vir Christus oorwin. Dit is die kulturele mandaat; (4) Vierdens moet onthou word dat die Bybel nie net God se Woord is nie, maar dit is ook die mees opwindendste boek wat daar is. Daarom moet die tipe onderrig nie veroorsaak dat die Bybel sy opwinding, skoonheid en krag verloor of vervelig raak nie; (5) In die vyfde plek wil ek Rushdoony direk aan die woord stel. Hierdie is terselfdertyd ‘n baie sterk boodskap vir die beheerliggaam en die hele skool in terme van die skool se visie en hoe die skool ingerig behoort te word, ook veral met betrekking tot aanstellings wat gemaak word en blootstellingsgeleenthede, indiensopleiding, en veral ook ten opsigte van die skoolhoof se gesindheid en toewyding. Rushdoony skryf: “… , the Bible should be read and studied as the Word of the living God, an infallible and inerrant Word, because no other Word is possible from the sovereign and omniscient God. It is this book that governs Christian education and the Christian school. The teacher must grow in terms of that book in order to teach it properly. If our understanding of the Bible does not grow continually, we are not competent to teach the Bible. Only those who feel its power and excitement can communicate it, and only those who know the God of Scripture can teach the truth about it”.
  • Met die Bybel en Bybelonderrig/Bybelstudie as basis, ‘n perspektief op die onderrig van wiskunde: Getal is deel van God se skepping. Wiskunde is die oopdekking van die eienskappe en aard van getalle en van ruimte wat God geskep het. God is nie gebonde tot ons aardse drie-dimensionele ruimte nie en is alomteenwoordig. God se teenwoordigheid, beheer en bestuur van die wêreld lê op die geloofsvlak. Dis nie soos reeds genoem, wiskunde ter wille van wiskunde nie.
  • Wetenskap: Teen die agtergrond van vandag se moderne wêreld waar die wetenskap in ‘n groot mate verkeerdelik beskou word as die primêre bron van waarheid en nie soseer die Bybel nie, is dit essensieel dat regstelling moet geskied om ook perspektief te gee ten opsigte van ons Christelike beheersingsopdrag. Dit gaan in wese oor die stryd tussen geloof en ongeloof. Vir die ongelowige is alle feite brute/onmenslike feite – die gevolg/produk van kans/toeval, terwyl die Christen behoort te glo dat alle feite/fasette deur God geskep is en daarom samehangende dele van die samehangende geheel vorm. Elke mens beskou feitlikhede in terme van sy/haar wêreld- en lewensbeskouing. Daarom word evolusie nie soseer met feite vervang nie, maar met die Bybelgefundeerde beskouing dat God die Skepper is en alles geskep het – ‘n werklikheid/feitlikheid in al sy ryke verskiedenheid soos geskep deur die soewereine God drie-enig. In die onderrig van die wetenskappe moet die beplanning/strukturering Bybels en teologies gerig en gedryf word. In die onderrig van enige wetenskap kan die Christelik teologiese onderbou nie uitgelaat/nagelaat word nie. In die humanisties gedrewe skole word konsekwent teologie onderrig, maar dit behels die onderrig van die soewereiniteit van die skepsel en die outonomie/onafhanklikheid van die menslike denke ten opsigte van elke vak. Hierteenoor moet die Christen onderwyser nog meer konsekwent en beginselvas ten opsigte van sy/haar geloof wees. Dit is belangrik met betrekking tot alle onderrig van wetenskap binne die Christelike skool, dat die idee van ‘n onpersoonlike terrein/ryk van wet en materie verwerp moet word. Indien dit nie verwerp word nie sal die onderrig noodwendig lei tot die skep van die idee dat gewerk word met ‘n onpersoonlike omgewing en heelal van wet en materie en aksie. Dit is ‘n idee wat anti-Bybels en in stryd met God se Woord is. So ‘n idee en siening poog om God en die Woord eenkant toe te skuif en betekenisloos te maak. Die mens word nie beskou as waarlik lewendig nie, behalwe as hy/sy binne die fisiese omgewing ervaar word. Die gevolg hiervan is dat aspekte soos seksualiteit, reis en verskeie fisiese ondervindings religieuse dimensies veronderstel. As ons hoogste belang/behoefte die fisiese realiteit is, dan word seks byvoorbeeld ‘n nodige religieuse ervaring waarsonder ons nie kan leef nie. Verder as voorbeeld: So ‘n ontwortelde mens sal ook dan geneig wees om te glo dat ‘n mens nog nie werklik gelewe het as hy/sy nog nie na hierdie of daardie plek gereis het en verskeie fisiese sensasies beleef het nie. En dit alles te midde van en met die wete en sekerheid dat niks in God se skepping ‘n lewe van sy eie het en los van God se soewereiniteit staan nie. Met verwysing na Nahum 1:2-8, kan RJ Rushdoony tereg die volgende stelling maak: “If our science teaching is not in terms of the world Nahum and all of Scripture sets forth, we will soon lose our students to a rival faith, and science to meaninglessness”. Rushdoony vervolg dan met die volgende opmerking, en ek glo dit is ‘n belangrike boodskap vir die beheerliggaam, die skoolhoof en die onderwyser wat wetenskap/-pe onderrig of doseer: “A faith which sees every fact in the universe as a personal fact and as the creation of the totally personal and sovereign God will provide [deur onderrig, deur die vakhoof, vakspanne] man [die kind, die Christelike skool] with meaning and growth and power in terms of God’s universe of meaning” (eie invoeging). Om hierdie deel af te sluit: Die humanistiese kurrikulum verhoog vakke en die bestudering daarvan as ‘n doel op sigself. Kuns vir kuns se onthalwe en daarmee saam dan ook wetenskap vir wetenskap se onthalwe. Wetenskap vir die mens se onthalwe is egter nie beter indien ons die mens nie teologies en wetenskap as ‘n stuk gereedskap beskou in sy roeping om sy kultuurmandaat en beheersingsopdrag as rentmeester te beoefen nie. Dit is tot eer en verheerliking van God drie-enig.

Ek wil ten slotte en opsommend net ‘n klompie algemene gedagtes deel en/of enige twyfel uit die weg ruim, veral omdat bostaande teen die agtergrond van die bestaande/heersende onderwysbestel vir baie vreemd mag klink juis omdat baie van jongs af gewoond is/was aan die openbare onderwyssisteem.

Vanuit voorafgaande argumente en feite mag gevra word of die praktyk van Christelike privaatskole nie ‘n tipe van klooster effek veronderstel waar mense in afsondering gaan en dat dit nie met die werklikheid tred hou nie. Ek reken ek kan volstaan met dit wat reeds gestel en bespreek is, soos byvoorbeeld wat die effek van byvoorbeeld die humanistiese kurrikulum is teenoor die Christelik/Bybelgefundeerde kurrikulum. Ek wil dan herhaal dat die skoolhoof, die beheerliggaam en die personeel as deel van die proses van heiligmaking meer en meer die gestalte en beeld van Christus moet uitstraal – meer en meer gelykvormig aan die beeld van Christus. Met ‘n deeglike kennis van God en die Woord en ‘n voortdurende opskerping van God se wet (as die totale wil en Woord van God), behoort die Christen gelowige binne hierdie wêreld met sy anti-Christelike wêreldkultuur sy/haar plek vol te staan. Wat ek hiermee bedoel en soos reeds genoem, is waar onder andere simposia, konferensies (plaaslik en buitelands) en seminare bygewoon word, sal die Christen gelowige spreekwoordelik die kaf van die koring kan onderskei deur besinnend en antiteties te dink, veral waar referate gelewer word met ‘n inhoud wat getuig van ‘n ander/vreemde lewens- en wêreldbeskouing in stryd met die God se Woord. (Neem egter kennis dat heelwat praaitjies of referate en wat in die sosiale media mag verskyn iets van die waarheid beet het, en dit moet ook raakgesien en raakgehoor word). Tog, die waarheid gemeng met die leuen is volgens my steeds nie die waarheid nie. Dit is ook ‘n baie belangrike beginsel wat die beheerliggaam in sy rentmeesterskaptaak moet besef. Kinders behoort dan ook soos wat hulle onderrig en opgevoed word te besef waar Bybelvreemde beginsels of idees voorgehou word, maar behoort hulle dit ook met die waarheid te kniehalter. Natuurlik gaan dit alles gepaard met die leiding en in die teenwoordigheid van volwassenes.

Ons leef in ‘n samelewing waar debatering en beredenering ‘n baie lae profiel handhaaf, waar oppervlakkigheid heers en nie na die waarheid deurgeboor word nie. Die woorde van Hosea 4 vers 6, “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”, eggo in ons ore en kla ons dikwels aan. Dis asof daar in die media net ingelig word, sonder om die saak en beginsel deur goeie debatvoering aan die orde te stel. Dit wil voorkom of die mens binne die heersende omstandighede op sleeptou geneem is en dikwels slaafs as’t ware aan die neus rondgelei word. Dit gebeur ook veral deur die sosiale media met sy goeie dosis waninligting en subjektiewe opinies. Ek reken dat daar in die skool sterk klem gelê moet word op die onderrig van goeie leestegnieke, insig en begrip, asook die formulering van idees, beginsels, stellings, motiewe en die stel van teenargumente met God se Woord as vaste anker, beginsel en waarheidsbron. Dit gaan dan uiteindelik en terselfdertyd ook oor die oefen van onderskeidingsvermoë – om te onderskei waarop dinge neerkom. Ware rentmeesterskap vereis dit van die beheerliggaam om paraat te wees met die volle wapenrusting van God – die wapenrusting waarmee elke verbondskind gepantser en toegerus moet word in die beoefening (in al ons doen en late) van die kultuurmandaat. Dit is ‘n lewe van belydenis waar ons (beheerliggaam, skoolhoof, personeel, ouers en kind) toenemend die gegewe talente en gawes gedissiplineerd moet beoefen en laat toeneem tot uitbreiding van God se koninkryk.

Ons moet sout wees wat smaak gee in die wêreld. By die opening van ‘n nuwe akademiese jaar sou die saalboodskap deur die skoolhoof of leraar, met en in die teenwoordigheid van verteenwoordigers uit die beheerliggaam en gemeenskap, volgens Matteus 5 verse 13 tot 16 ‘n sinvolle oriëntering vir elkeen in die skool wees om ons Christelike kultuurmandaat nie net te besef nie, maar op alle terreine uit te leef en te bevorder:

“13” Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. 14 “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel is, verheerlik.”

Groetnis en seën vir elkeen!

Lewer kommentaar