Christelike onderwys en ouers se mandaat

“… wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Psalm 8:5)

In die voorafgaande post, het ek gekyk na die beheerliggaam se verantwoordelikheid en taak en opdrag/mandaat ten opsigte van Christelike onderwys. In hierdie post wil ek fokus op die ouers se verantwoordelikheid. Ek fokus hierop, ongeag die keuse van skool waar ouers hulle kinders inskryf. Uiteindelik sal ek graag na die keuse van die tipe skool wil terugkom. Die volgende opmerkings van die Engelse en puriteinse predikant en skrywer, William Gouge (1575-1653), behoort elke Christen gelowige ouer tot ernstige nadenke te stem: “The family is a seminary of the church and commonwealth. It is as a beehive, in which is the stock, and out of which are sent many swarms of bees. In families all sorts of people are bred and brought up, and out of families they are lent into the church and commonwealth. The first beginning of mankind and of his increase was out of a family … family is a little church…or at least a lively representation of these … It is like a school where the first principles and grounds of government and subjection are learned, and by which men are fitted to greater matters in church or commonwealth.” Voordat ouers dus bespiegel oor watter skool, watter woongebied, watter tipe huis, en watter tipe hulpprogram, moet ouers eerstens en primêr fokus op hulle Christelike roeping om binne die gesin/huis onderwysend op te voed. Dis soos iemand eendag Christelike opvoeding  so mooi verwoord het as “omhoogleiding” – om kinders na God te lei en so God as die hoogste gesag in hulle lewens te eer en te verheerlik. En dit is verbondsouers se plig en mandaat teenoor hulle verbondskinders. Hulle het trouens dit voor die kansel in die teenwoordigheid van die gemeente, maar bowenal voor God met ‘n hardop ‘Ja’ belowe. Hoe word ouers toegerus vir hulle taak? Of eerder, waar en in watter situasie word ouers bemoedig, geïnspireer en toegerus tot taakvervulling? Die antwoord lê volgens my opgesluit in die wese en inhoud van aanbidding.

Ek reken die waarde of plek van aanbidding as essensiële faset en voedingsbron van ons geloofslewe word dikwels en oor die algemeen gering geskat ten opsigte van die wyse waarop ons as ouers en kinders onsself oopstel vir God se waarheid, onderwysing deur Woordbediening, dissiplinering, bemoediging en geloofsgroei. Ek het self opnuut tot die besef gekom hoe arm ek is aan ware begrip vir die betekenis en waarde van aanbidding, veral tydens die lees van ‘n besondere boek wat my tot diep nadenke gestem het – ‘n boek wat ek reken elke Christen gelowige ouer (om die waarheid te sê, alle Christen gelowiges) behoort te lees. Ek verwys na die boek “What happens when we worship?” geskryf deur Jonathan Landry Cruse. Cruse is deur hierdie boek voorwaar ‘n instrument in God se hand tot eer en verheerliking van Homself en om vir mede-gelowiges koers aan te wys – na Jesus Christus. As ek sê dat die waarde van aanbidding gering geskat word, dan is die bedoeling myns insiens dat ons heel dikwels nie werklik tot die besef kom wat daarmee bedoel word nie, wat die karakter daarvan is nie, wat dit alles behels en wat dit van ons as God se kinders vra nie. Ek reken ook dat ons van kleinsaf binne die kerk en erediens nie altyd intens bewus was of gemaak is ten opsigte van die hoofmomente van aanbidding nie. Teen hierdie agtergrond wil ek u as leser/Christen gelowige ouer uitnooi om saam met my te ontdek hoe aanbidding met ons mandaat koppel in die nastrewe en beoefening van Christelike onderwys. Ek is van die oortuiging dat daar ‘n sterk en onmisbare korrelasie en band tussen aanbidding en die siening en praktyk van Christelike onderwys is. Trouens, elke faset van ons lewe word deur aanbidding bepaal of beïnvloed, veral dan ook ons persoonlike Bybelstudietyd en gesinstyd en algemene sosiale lewe.

Die beginplek van hierdie ondersoek en gesprek begin by die kerk as aanbiddingsplek – daar waar ons gesamentlik God aanbid – binne die erediens! Dit word onderneem vanuit ‘n Christelik gereformeerde lewensbeskouing, juis omdat hierdie beskouing intens deur God se Woord daarop gefokus is om die sonde bevlekte mens meer en meer reformerend en transformerend daagliks volgens die beeld van Christus te verander. Die volgende video gee ‘n insiggewende beeld van die begrip “gereformeerd’ en sal dus verder duidelikheid en agtergrond gee oor die vertrekpunt vir hierdie artikel/post: https://www.scriptura.co.za/2020/10/hoekom-is-ek-gereformeerd-almal-is-n-teoloog/

Net eers ‘n klompie kritiese vrae/opmerkings ten opsigte van ons aanbidding om onsself tot erns te stem en verder te oriënteer:

  1. Geliefde leser, weet u wat dit is wat jy doen of wat met jou gebeur wanneer jy in die kerk aanbid?
  2. Aanbidding is ‘n bonatuurlike gebeurtenis. Is ons werklik bewus daarvan?
  3. Ware en werklike en getroue aanbidding is voorwaar bonatuurlik. In die kerk ontmoet God sy gelowige kinders en vergader met hulle en deur sy soewereine en genadige krag verander Hy sy kinders. Niks in hierdie wêreld kan dit bied nie. Maak dit jou as gelowige Christen ouer opgewonde en honger en dors jy daarna? Of is die erediens as aanbiddingsmoment maar net nog ‘n geleentheid in jou weeklikse sosiale program wat as’t ware afgemerk word en daarna gaan die lewe weer soos gewoonweg voort?
  4. Tydens aanbidding en wanneer ons gaan om te aanbid, gaan ons om omvorm te word/te transformeer, om gevorm te word, herskep te word na God se beeld en daardie beeld en sy heerlikheid/glorie te reflekteer. Ons kom om te aanbid en om Jesus Christus as’t ware aan te trek – ons met Hom en sy geregtigheid te klee.
  5. Aanbidding deur die bywoning van die erediens op Sondae is nie tydmors nie. Ons sal byvoorbeeld nie dink dis tydmors om weekliks en gereeld na die gimnasium te gaan of ‘n daaglikse oefenprogram te volg nie. Vir so ‘n persoon bring die oefening sigbare resultate soos byvoorbeeld gewigsverlies, lenige spiere en verhoogde uithouvermoë. In aanbidding tydens die erediens gebeur ook dit wat tydens ‘n oefenprogram gebeur, al kan ons dit nie sien nie. Ons verloor die gewig van die sonde (die sondelas), en ons word geoefen en skerp gemaak in ons begrip en verstaan van die lewende woord van God. Ons word ook aangemoedig/bemoedig om in die geloofsreis/-wedloop te volhard. Kortom: tydens gesamentlike aanbidding word ons gevorm/gelykvormig gemaak “… tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Efesiers 4:13).
  6. Aanbidding in sy wese is en behoort ‘n verkwikkende, verfrissende en opwindende ondervinding te wees. Ons het nie rookmasjiene, meer ligte, dramatiese aanbiedings. harder musiek, mistieke teologie, of vermaaklike sprekers nodig om aanbidding opwindend te maak nie. Ons moet net in die eerste plek verstaan wat aangaan. Maak nie saak hoe jou week lyk en hoe avontuurlik dit mag wees nie, Sondag se aanbidding is en bly die hoogtepunt.
  7. Die aller belangriste punt om te maak is die besef dat aanbidding as die primêre aktiwiteit vanaf hierdie wêreld waarin ons tans leef oorgaan na die volgende. Jonathan Cruse verwys na die “eternal destiny”, en beskryf dan verder: “While the new heavens and the new earth will hold for the elect much more than an eternally sustained worship service—for we will eat, rest, fellowship, and much more—worship is undoubtedly the supreme undertaking of the believer in glory (eie beklemtoning).
  8. Gesamentlike aanbidding is uniek. Ons kom gereeld saam met mede-gelowiges om God te prys – ‘n prentjie van wat in die hemel gebeur. Teenoor private aanbidding, moet ons besef dat ons in die hemel as verloste liggaam bymekaar is vir aanbidding. Daarom kan ons nie onsself verskoon van aanbidding in die kerk en dink ons is steeds besig om God se begeerte en wil om met sy kinders te vergader, te vervul nie. Die kerk se belangrikste taak is om God te aanbid en ons moet deel daarvan wees.
  9. Deur aanbidding ontmoet ons God. In die erediens word nie net oor of van God gepraat nie. Ja, na die erediens wel, en verkondig en leef ons die beginsels uit God se Woord ook prakties uit. Ons bevind ons letterlik in God se teenwoordigheid. Ons het die onuitspreeklike voorreg en geleentheid om in die teenwoordigheid van die lewende God, die Skepper van die heelal, die heilige, die alomteenwoordige en soewereine God te wees. Niks kan dit vervang nie. Niks in hierdie wêreld is so belangrik dat ons hierdie aanbiddingsgeleentheid sal mis nie. En omdat ons met God as gemeente vergader, verander alles. Gemeenskaplike aanbidding word die grootste middel om ons te laat word wat ons veronderstel is om te wees – die beelddraers van God. Ons reflekteer wat ons aanskou/beskou/sien. En in Christelike aanbidding aanskou ons God.
  10. Om in God se skepping te wandel en sy grootheid en almag te beleef, is nie aanbidding nie. Trouens dit kan problematies wees, want dit kan (as ons reken dat dit ook aanbidding is) dui op die aanbidding van God se skepping en nie die Skepper nie. Ja, God is oraloor, Hy is alomteenwoordig en alles behoort aan Hom en Hy is betrokke by sy skepping, en Hy regeer en hou in stand. Maar God ontmoet nie sy kinders enige plek soos ons wil en goeddink nie. God se primêre metode om sy kinders te ontmoet en met hulle te vergader, is in die kerk – in sy gemeente. Dis waar Hy wil hê ons hom moet ontmoet, en vergader Hy ons rondom sy Woord in aanbidding. Die volgende woorde van Jonathan Cruse beskryf die essensie paslik: “Yes, you can sometimes find a dime on a mountaintop. But that random event should not establish a habit for your pursuits as a coin collector. So too, true believers build their relationship with God on the certainty of meeting with Him at His house, not on the vain hopes of running into Him somewhere else”.
  11. Jesus Christus is die sleutel (die hoe) wat vir ons as sy gemeente die heilige plek van aanbidding oopmaak en so bevind ons ons in die teenwoordigheid van God deur geloof in Hom. Maar die vraag is nou waar die heilige plek van aanbidding is?
  12. Lees en bestudeer gerus Hebreers 8. Die heilige plek van aanbidding is die hemel. Jesus Christus is ons Hoëpriester en Hy sit aan die regterhand van God die Vader in die hemel. Dis die ware tent van ontmoeting, opgerig deur die Here. En dis waar ware aanbidding plaasvind. Dis waar ons God ontmoet – in ‘n tempel wat nie deur die mens gemaak is nie. Lees nou gerus hoofstuk 8 van Hebreers verder. Wat ‘n openbaring!
  13. Maar ons is dan nie fisies op Sondae in die hemel nie. Hoe nou? Wanneer ons as God se kinders vergader om Hom te aanbid, word ons deur die misterieuse werk van die Heilige Gees in die hemelse plekke ingetrek. Dit is wat gebeur wanneer ons aanbid. Wanneer ons saamkom om te aanbid, kom ons nie na wat aangeraak kan word nie (soos die Israeliete gedoen het toe hulle by die Sinai gebergte aanbid het nie). Indien ons aanbiddingsplek nie aangeraak kan word nie, beteken dit dat ons plek van aanbidding ‘n geestelike plek is – die hemelse Jerusalem. Ons kan dit nie sien nie en kan ook nie daaraan raak nie, maar dis ‘n werklikheid. Deur geloof is ons daar wanneer ons aanbid. Dit beteken verder dat God se wil vir aanbidding is dat ons ons opwaarts wend, soos Moses wat teen die berg uitgeklim het om God te ontmoet. Ware aanbidding word deur ‘n opwaartse trajek gekenmerk. Dit beteken verder dat ons God ontmoet op grond van sy terme.
  14. Op grond van voorafgaande, hou die redenasie nie water nie, dat ons sommer enige plek en privaat met God kan ontmoet as sou dit dieselfde effek hê as om in die kerk as gemeente te vergader. Tydens en na afloop van die Covid pandemie is gereeld gehoor dat mense eerder vanuit die gemak van hulle huise voor die televisie ongehinderd en rustig na die erediens kyk en luister. Wie so volgens my redeneer, verstaan nie of besef nie die diepte en wydte van ware aanbidding soos reeds bo beskryf. Ja, God is alomteenwoordig en ons kan tot Hom bid en verseker weet dat God ons hoor waar ons ook al mag wees, maar dis nie ‘n plaasvervanger vir gesamentlike aanbidding as gemeente waar ons fisies saam onder die geklank van God se Woord en prediking is nie.
  15. God is tot vandag nog verbondsmatig by sy kinders betrokke. Hy staan en skep ‘n verhouding met sy kerk deur Jesus Christus. God roep ons om in verhouding met Hom te tree. God verwag van ons ‘n reaksie – ‘n reaksie gedrewe deur geloof en gehoorsaamheid op grond van God se belofte van lewe en verlossing.
  16. As ons gaan om te aanbid, is ons hooffokus of moet ons hooffokus Christus wees. Deur Hom het ons die wonderlike voorreg om ons tot God te haas. Ons kan nie na God gaan in sonde en gebrokenheid nie en ons kan nie “Amen” sê op grond van ons eie meriete of in wat ons doen of gedoen het nie. Ons (as verbondverbrekers) kom alleen deur Christus na God en word versterk en bevestig en hernu God sy verbond met ons. Hy is en bly getrou. Hoe kan ons dan nie met dringendheid en met spoed en met oorgawe ons na God wend deur aanbidding nie?
  17. Gesamentlike aanbidding as gemeente is ‘n geleentheid waar ons saamkom en God kan hoor deur die woordverkondiging en waar ons herinner word dat Hy koning en ons sy onderdane is. Hy is Here en ons sy dienaars. Hy is die herder en ons sy skape. Hy is God en ons sy skepsels. Hy is in die hemel en ons is op die aarde. En ons moet doen wat Hy sê. Teen hierdie agtergrond is aanbidding binne die gemeente en erediens die plek waar ons leer en waar ons opgelei word in die dissiplines/fasette wat kernbelangrik is vir die Christelike lewe – vertroue, gehoorsaamheid en onderwerping. Jonathan Cruse beskryf die God gesentreerde aanbiddings erediens treffend soos volg: “The God-centered worship service is the garden in which faith is planted, grown, and cultivated”.
  18. Die aanbiddings erediens is die plek en tyd waar God ons herinner dat ons as sy kinders uit die mag van die duisternis weggeruk is en onder die heerskappy van sy Seun wat Hy liefhet, gestel is (Kol 1:13). Dit is ‘n kragtige en blye boodskap waarna ons as Christen gelowiges behoort te verlang en deur aanbidding versterk moet word.
  19. Die kerkdiens is ‘n gesamentlike afsondering van verloste mense op aarde en ‘n vergadering van getroue en toegewyde volgelinge van Christus binne ‘n afgodiese wêreld. Wanneer ons dan in die kerk vergader, is dit asof God vir ons ook vandag volgens Romeine 11 vers 4 die volgende sê: “”Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie”. Dit is binne hierdie vergadering van toegewyde gelowiges waar getroue gelowiges meer en meer gevorm word om meer en meer te lyk soos kinders van die hemel en minder en minder soos die gevalle wêreld.
  20. Ons vergader as gemeente en as een liggaam, en as een liggaam word ons opgebou. Dit is as een liggaam dat ons elkeen individueel en gesamentlik ons Gees vervulde funksies binne die liggaam van Christus kan uitleef. Deur ander gelowiges deel ons in die seëninge wat God vir ons bedoel. Op ons beurt is ons weer tot seën vir ander.
  21. God is ‘n God wat deur woorde tot ons spreek. En in en deur aanbidding beveel God wat ons moet doen. Wanneer die Wet (tien gebooie) tydens die erediens gelees word, beveel God ons dat ons die gebooie sal oordink en ons sonde sal besef waar ons te kort skiet en dit sal bely (Rom 3:23). Verder, ons lees God se Wet omdat die Wet vir ons sê hoe om te lewe. Ons is God se kinders en daarom sê Hy ook vir ons hoe ons ons moet gedra. Alhoewel ek nou na die Tien Gebooie verwys het, moet dit ook duidelik gestel word dat God se Wet nie net die Tien Gebooie is nie. God se Wet is egter enige iets wat God in sy Woord beveel. Dit is God se wil. En Hy het dit vir ons gegee sodat ons nie sal wonder hoe ons lewe moet lyk ten einde aan Hom te behoort nie. God is heilig. Hy is totaal verwyder van sonde en van enige verderflikheid en onsuiwerheid. Hy roep ons as sy kinders om ook heilig te wees soos Hy heilig is (1 Petrus 1:16). Die Wet sê vir ons hoe om dit doen. Maar dan besef ons ook dat as ons die Wet hoor en ons lewe ondersoek, dat ons dit nie kan doen of gedoen het nie. Die Wet wys ons en ontbloot ons vir wie en wat ons is – van nature sondig in hart en lewe. Met die lees van God se Wet word ons op ons plek gesit en word ons geleer om God as Here oor ons lewe te erken en ons aan Hom te onderwerp. Die Wet is ‘n onontbeerlike deel van aanbidding – ‘n noodsaaklike deel van ons ontmoeting met God omdat dit wys wie God is en ook wie ons is.
  22. En wie is ons? Ons is sondige mense, kinders van God. Ons is vergewe, maar ons is nie volmaak nie. Ons gedagtes dwaal steeds en ons word daagliks met sondige praktyke gekonfronteer. Daarom kom ons na die erediens en as deel van aanbidding bely ons in nederigheid ons sonde. Belydenis is ‘n wonderlike gawe van God en aanbidding. Christene bely hulle sonde en bekering en geloof word daagliks hernu. Die daaglikse bekering deur daaglikse verootmoediging en berou en in gebed is ‘n uitvloeisel van ons gesamentlike aanbidding tydens die erediens op Sondae. Belydenis van sonde is wonderlike bevryding wat plaasvind. Om belydenis van sonde in aanbidding te ignoreer of te weerhou, is om mense gevange te hou. Deur belydenis word ware vrede beleef en gevind.
  23. Wanneer ons as gemeente, as geloofsgemeenskap, bymekaar kom in aanbidding, word ‘n spesifieke liturgie (deur die voorhou van God se wet en die geloofsbelydenis) gevolg en leer God ons die onderskeid tussen sy wet en die evangelie. Dit is baie belangrik dat ons as God se kinders hierdie onderskeid ken. Ons leer eerstens deur God se wet wat nodig is om gered te word. Ons leer van God se streng standaard vir ewige gemeenskap met Hom, en ons leer ook dat ons nie daardie standaard kan handhaaf of kan nakom nie. Maar dan leer ons ook van die heerlike goeie nuus. Ons besef dat ons nie deur die wet verlossing kan verkry nie, met ander woorde ons kan niks doen of enige bydrae maak tot ons verlossing nie. Ons leer dat ons op grond van ons sondige natuur nie enige hoop het om redding te verkry deur die Wet te onderhou (deur werke/dade, liefdadigheid, en so meer) nie, maar dat ons alleen deur die evangelie dit kan verkry. Die goeie nuus?Deur die evangelie leer ons dat God vir ons deur Christus die pad na redding moontlik gemaak het deurdat Christus die volmaakte offer gebring het deur in ons plek die straf vir die sonde volkome te dra (Rom 8:3). Hierdie wete en sekerheid laat ons as gemeente in dankbaarheid deur gebed en sang juig vir die onuitspreeklike genade wat ons as God se kinders ontvang. Die offer wat ons nou uit dankbaarheid gee, is ons totale lewe, aan God gewy. In Romeine 12:1-2 word dit so gestel: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”.
  24. Nou weer terug na die vraag, naamlik, wat gebeur as ons aanbid? Dis hierdie vraag (soos na verwys hier bo) wat Jonathan Landry Cruse in sy boek aanspreek en wat hy soos volg saamvat: “So what is happening when we worship? We stand before almighty God, the Judge, the one who gets the final say. We stand before Him and hear His laws read, and we recognize that we have broken them all. We are cosmic convicts. We stand condemned before this law. But then God pronounces the verdict: not guilty! We come to be joyfully assured of Christ’s once-for-all sacrifice, which atones for all our sin and all our guilt. In the old covenant, the cleansing cycle of worship meant people had to actually enact ritual cleanliness, and this included a lot of blood. For us in our new covenant worship, we hear about blood, but we don’t spill any. We hear about Jesus’s blood, which has freed us from our sins (Rev. 1:5), ransomed us from bondage (1 Peter 1:18–19), cleansed us from unrighteousness (1 John 1:7–9), and brought us near to God (Eph. 2:13).What could be better than that?”
  25. Kom ons gee aandag aan die prediking en die woordverkondiging tydens aanbidding. Dalk is dit ‘n vreemde gedagte vir sommiges, maar in ware prediking is Jesus Christus in der waarheid self aan die woord. God gebruik slegs die geroepe prediker as instrument om sy Woord te verkondig. Daarom is dit baie belangrik dat ons nie ons eie ‘gelykenisse’ en lessies en stories skep en gebruik asof dit ook God se Woord is nie. God se Woord is voldoende en om dit te probeer aanvul of selfs gelyk te stel met ander alternatiewe boodskappe is om werklik volgens my op baie dun ys te beweeg. So, waarmee is ons tydens prediking besig of waarmee hou ons ons besig? Probeer ons maar net die tyd omkry met ons eie gedagtes of selfs deur die selfoon se boodskappe te blaai? As Christus aan die woord is behoort ons mos ene ore te wees – gefokus. Christus is teenwoordig en Hy praat direk met ons as gelowige kinders van God. Dit mag dalk vergesog of vreemd klink, maar dis presies wat in hierdie deel van die aanbiddingsdiens gebeur. Dis die gepredikte woord wat ons vir God deur die krag van die Heilige Gees afsonder – sy kinders wat aan Hom behoort. Ons word hierdeur uit ons sondetoestand geroep tot verlossing in Jesus Christus alleen.
  26. ‘n Preek is nie ‘n motiveringspraatjie nie. Dit is nie ‘n seminaar wat handel oor selfhelp programme nie, of ‘n geleentheid waar mense in hulle gehoor gestreel word en oor hulleself moet goed voel nie. Dit is ‘n bonatuurlike oomblik waar God dooie mense uit die graf opwek. Dit is wat gebeur wanneer die Woord/Skrifte geproklameer en die evangelie gepreek en verkondig word. Dit is ‘n wonderwerk en besef en herken ons die wonderwerk wanneer God se Woord gepreek/verkondig word? Bo en behalwe die feit dat die preek God se wesenskenmerke, bybelse geskiedenis en teologiese waarhede moet insluit, moet preke gepreek en gehoor word wat die evangelie bevat – die goeie nuus van Christus en die weg van verlossing.
  27. Om saam te eet en feestelik te verkeer is ‘n belangrike deel van aanbidding. Dis ‘n gawe van God. God wil met sy kinders in gemeenskap tree en Hy wil saam met hulle feesvier. Dit is die toppunt van aanbidding en wat kan wonderliker wees as dat die heilige, almagtige Skepper van die heelal saam met ons in gemeenskap verkeer? Tog, vandat die sonde in die wêreld ingekom het, is dit net moontlik om met God in gemeenskap te wees deur die volkome werk van Jesus Christus. Ons kom na die tafel alleen deur die nuwe en lewende weg wat Christus vir ons deur sy lewe, dood, opstanding en hemelvaart bewerk het (Heb 10:20). Daarom noem ons hierdie aspek van ons aanbidding die sakrament van die heilige Nagmaal. Christus is self beide die gasheer en maal/ete. Ons kan nie die sakrament van die Nagmaal los van die evangelie verstaan nie. Die viering van Nagmaal is verseker die geleentheid waar ons weer opnuut in ons geloof versterk word, om ons weer te bemoedig en waar ons weer tot volharding op die geloofspad aangemoedig word. Maar boweal gaan die sakramente (met ingerip van die Heilige Doop) oor wat God vir ons gedoen het en steeds vir ons doen. Ons reaksie op hierdie aspek van aanbidding waar ons siele geestelik gevoed word, kan alleenlik verdere aanbidding wees – meer eer, waardering en danksegging en vir die hoop op die toekomstige bedeling waar ons in die goddelike teenwoordigheid van God feestelik sal verkeer.
  28. Ons lewe in ‘n wêreld waar ons daagliks met naamgewing te doen het. Ons identiteit en naam is konstant deur leuens onder druk. Ons word met leuens gevoer. Jonathan Cruse stel dit treffend soos volg: “The world is feeding us lies: telling us who we are, who we should be, and what matters most”. Eggo die woorde van die Satan toe hy Eva en Adam verlei het ook nie vir jou in jou gedagtes nie as jy oor hierdie aanhaling nadink nie? ‘n Besondere doel van aanbidding is juis om hierdie leuens en valse identiteite weg te was/spoel en ons ‘n anderste en deeglike beskouing en uitkyk op alles en onsself te gee. ‘n Belangrike punt of deel van aanbidding is waar ons geleer word wie ons werklik is – sondaarmense deur God uit hulle sondetoestand geroep, skoongewas deur die evangelie en vrylik vergewe, gelei deur God se Woord, en uitgenooi om saam met Hom in ‘n ewige maal/ete fees te vier. En dan na alles en met die wete dat ons verseker aan Christus behoort, kom God in die finale instansie en gee vir ons sy naam.
  29. Aan die einde van die erediens sien en hoor en ontvang ons die die seën van die Here. Ons ontvang hierdie seën deur middel van die predikant. Terloops, dis die dieselfde seën wat ons deur die doop ontvang. God herinner ons dat ons aan Hom behoort en dat ons vir altyd sy naam dra. God seën en versterk ons om ons vir die week en werk/taak te versterk – dit is vir die verantwoordelikheid om die werk van die evangelie te doen. Indien aanbidding vir ons wys wie ons in Christus is, dan sal ons ook weet dat dit saamgaan met ‘n roeping en taak. Dit vorm deel van God se plan met die wêreld en deur aanbidding van Sondag tot Sondag stap ons saam met God, saam met sy naam en dit is die seën wat ons aanmoedig om die opdrag wat Hy vir ons gee en gegee het, uit te voer. En alhoewel hierdie seën deur die predikant uitgespreek word, is dit inderdaad die werklike/ware woorde van God. Waaraan herinner dit ons? Dit herinner ons daaraan dat God almagtig is, dat Hy Skepper en verlosser deur Christus is. Hy roep ons en Hy stuur ons uit. Hy, die alfa en omega, het voorwaar die eerste en finale sê/woord – woorde van genade.
  30. Is jy met ontsag vervul en roep jy met bewondering uit wanneer jy die evangelie hoor en beleef? Is jy lief vir die Here Jesus Christus? Dan sal en moet jy sing! Die persoon en werk van ons drie-enige God laat ons nie anders as om te sing en te juig nie. Ons kan nie hieroor stil wees nie, want die woord van Christus verryk ons intern. Op grond van hiervan moet ons liedere gevul wees met die Woord en niks anders as die Woord nie – Woord-gesentreerde liedere wat weer Woord-gesentreerde gelowiges vorm. Dit is liedere wat op God gerig is en nie op mense nie – op die objektiewe waarheid van God en nie op die sentimentele en oorbeklemtoning van emosies en gevoelens nie wat op sy beurt goddelike karakter ondergrawe. Enige iets wat goed voel, is nie noodwendig die waarheid nie.
  31. Ons kom uit die erediens anderste as wat ons was toe ons die erediens betree het. Dis nie ‘n fisiese verandering nie. Die verandering vind in die siel plaas. Die verskil is sodanig dat dit aanvanklik nie eers deur die mense na aan jou waargeneem kan word nie. Vir die Christen wat in geloof kom om te aanbid, vind daar verwondering plaas en sal dit een of ander tyd en mettertyd sigbaar wees. Dis God se wil dat ons sal verander/transformeer en heilig sal lewe (1 Tes 4:3) – beter en beter. Uiteindelik het die verandering ook ‘n effek op die sigbare en hoe ons lewe. Maak dit nie jou opgewonde om die erediens by te woon nie? Onthou, ons aanbidding is gerig op God die Vader, deur die een Middelaar tussen ons en God, Jesus Christus, en deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. In die erediens en deur aanbidding leer ons elke lid van die Drie-Eenheid ken – God die Vader se liefde, oordadig deur die genade in Christus oor ons uitgestort en beleef deur die gemeenskap van die Heilige Gees.
  32. Om God in aanbidding te ontmoet en met Hom te vergader verg voorbereiding. Dit is so ‘n betekenisvolle en belangrike gebeure dat ‘n mens nie maar net vinnig en oorhaastig kan opdaag sonder om werklik na te dink oor wat aanbidding behels of waarom ons kerk toe gaan nie. Hoekom die voorbereiding? God is heilig! En God verwag van ons om heilig te wees en om gereed te wees om Hom te ontmoet. Dis ‘n opdrag van God. Eks 19:10-11). Hierdie “gereed wees” beteken selfs ook dat ons nie die Saterdagaand so laat kuier dat ons Sondagoggend moeg is en dan traag is om op te staan. Of, dat ons na klere soek en inderhaas moet skarrel om betyds te wees vir die erediens. Om gereed te wees, beteken ook dat die boodskap duidelik vir almal sal wees dat daar Sondag kerk toe gegaan gaan word, en dat dit met die regte gesindheid gedoen moet word. Meer nog! Die behoefte om kerk toe te gaan word gedryf deur ‘n versoenende houding teenoor mede-lidmate en om in gemeenskap rondom God se Woord te verkeer. Aanbidding gaan juis oor versoening. Dit is waar ons God se hart en die versoeningskrag van die evangelie beleef. Waar Adam en Eva uit die paradys verban is, weg van God se teenwoordigheid, stuur God sy Seun om ons weer na Hom terug te bring – na sy voete in gebed en wagtend op instruksie.

Ek het in bostaande 32 afdelings en beskrywings ruim gebruik gemaak van die kennis en werk van Jonathan Cruse, soos ek ook na verwys het. Daar is sekerlik baie ander bronne om te gebruik om oor aanbidding na te dink en gedagtes te formuleer. Maar wat het bogenoemde afdelings met Christelike onderwys en ouers se mandaat/opdrag te make? Volgens my het dit alles met Christelike onderwys te doen. Christelike onderwys begin in die huis. Verder, waar die erediens as aanbiddingsgeleentheid nie ernstig opgeneem word nie of nie getrou bygewoon word nie, het die idee van Christelike onderwys nie hoë aansien nie. En ek verwys nou spesifiek na die gesinsituasie of die siening van ouers. Uit my eie ervaring vanuit openbare onderwys het ek telkens vrae van voornemende ouers gehad wat soos volg lui: “Lees julle uit die Bybel tydens saalbyeenkomste? Open julle die dag met skriflesing en gebed?” My antwoord op beide vrae was dan ‘n positiewe “Ja”. Tog weet ons dat dit allermins die volle prentjie van Christelike onderwys is. Die vraag wat ek eerder aan ouers wil/moet vra, is: Wat is die aard van julle eie Christelike/Bybelgefundeerde onderwys by die huis op grond van julle aanbidding?

Wat ek dan hier bo probeer doen het, is juis om vir Christen gelowige ouers aan te dui dat hulle ‘n wye en diep beskouing van aanbidding moet hê, dit moet verstaan, dit moet besef, dit met die nodige erns moet bejeën en ons verbondskinders daarin moet begelei en omhoog na Christus moet lei. Ons aanbidding en die erediens bepaal tog week in en week uit hoe ons ons taak Bybel-gefundeerd in die huis en daarbuite by die skool en by die werk beskou. Ons is mos nie net sogenaamde Sondag of Kersfees, of Paastyd Christene nie? Ons kom na die erediens omdat ons honger en dors na geestelike voedsel om elke dag van die week uit genade te leef en God daardeur te verheerlik. Dit is elke verbondsouer se verantwoordelikheid om hulle kind/-ers van kleinsaf breedvoerig oor bostaande afdelings en beginsels te onderrig en in te lig. En ons as ouers kry hierdie beginsels in die erediens en deur aanbidding.

Dalk wonder jy oor bostaande afdelings en lyk dit vreemd en dalk wonder jy oor my as die skrywer/samesteller – my geloofwaardigheid. Dalk is u skepties, want dit is nog nooit vir jou so aangebied nie. En dalk is jou eie sienswyse op hierdie stadium of ingesteldheid eerder om die erediens bloot as ‘n samekoms van gelowiges te ervaar waar gebid, gesing en gepreek word en waar daar van tyd tot tyd doop en nagmaal bedien word. En dan kan ons byvoeg dit wat soms na die erediens gehoor word: “Die dominee het darem mooi vandag gepreek. Of, ek kon nie my oe oophou nie, want dis weer daardie dominee wat gepreek het”. En dit is dit. En tog, liewe leser, daar is beslis baie meer as die oppervlakkige sienings wanneer dit by ware aanbidding kom. Die vraag na alles moet eerder wees hoe ons as ouers vir ons kinders van kleinsaf leer oor die samekoms van gelowiges/kinders van God en wat daar gebeur. Hoe kan ons ons kinders in verstaanbare taal op hulle ontwikkelingsvlak en soos hulle ontvanklik word, leer oor ons ontmoeting met God. En hoe gaan ons die vrae wat ontstaan, beantwoord? Want verseker gaan daar vrae wees. En ken ons die antwoorde? En indien nie, waar kry ons ons antwoorde?

‘n Wonderlike tradisie wat ek as kind ervaar het, was toe my pa vir ons na aandete uit die Bybel gelees het en dan moes ons elkeen iets vertel van wat ons onthou het. Ek onthou dat ek dan oor en oor ‘n spesifieke versie of sinsnede in my kop herhaal het tot my pa dan op die ry afgegaan het en ons moes sê wat ons onthou. Sonder enige verwyt, dink ek vandag dat ons meer sou baat by ‘n gesprek oor die gelese deel uit die Bybel en hoe dit ons aanspreek ten opsigte van ons verantwoordelikhede, die lewe en daaglikse praktyk by die skool, op die sportveld, daagliks by die huis en ook wat ons verhoudings betref.

As ouers en as deel van die doopbelofte is dit ouers se plig, nee, opdrag/mandaat, om ons kinders soos hulle grootword na die erediens te bring om God te ontmoet. Ons mag hulle nie verhinder nie. ‘n Ontmoeting met God is sekerlik die diepste vorm van Christelike onderwys. Dit is tog waar ons instruksie kry en toegerus word. Met verwysing na Romeine 12:1-2, stel dr RC Sproul dit duidelik in sy grootse werk “The holiness of God” en ten opsigte van die vernuwing van ons denke, dat dit niks minder en meer is as onderwys nie. Hy vervolg dan met die kort en kragtige opmerking: “Serious education. In depth education. Disciplined education in the things of God. It calls for the mastery of the Word of God. We need to be people whose lives have changed because our minds have changed”. Daar is geen twyfel by my dat hierdie ernstige gedissiplineerde onderwys waarna Sproul verwys, primêr die ouers se opdrag en verantwoordelikheid is. Die woorde uit Deuteronomium 6:7 wat lui “Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan”, asook die woorde by die doopformulier waar die verbondouers hardop moet antwoord op die vraag: “Belowe u en neem u u voor om hierdie kind, van wie u die vader en moeder is, wanneer hy/sy dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig?”, is die ouers se opdrag en belofte.

Hierdie opdrag en belofte sluit na my mening in dat ouers onder leiding van die Heilige Gees en deur Christelike onderrig en onderwys ons kinders voorberei en lei om hulle as lewende heilige gawes uit God se hand aan Hom terug te gee, te “offer”, uit dankbaarheid vir dit wat Hy uit genade voorsien en voorsien het – sy geregtigheid. En om ons kinders sodanig te begelei, beteken ook dat ons as ouers self allereers en voortdurend ons self aan God se Woord moet onderwerp en Hom moet dien. Dit is ons sinvolle godsdiens (Rom 12:1). Hierdie “godsdiens” kan ook soos in die Engelse teks met “aanbidding” (worship) vervang word. Dit wys op ouers se verantwoordelikheid om in gehoorsaamheid te dien en God se lig op alle fasette van die lewe te laat skyn – die lig wat vanuit die erediens en aanbidding moet skyn, ook oor ons gesinne en ons kinders se opvoeding en onderwys. As ons na ons kinders se onderwys kyk, verg dit van ouers toewyding en opoffering. Dit vra na wat God se wil is met betrekking tot ons kinders se onderwys. Dit vra dat ons aan Christus se beeld gelykvormig word, om meer en meer (deur heiligmaking) soos Hy te dink. Minder van onsself en meer van Jesus Christus! Minder en minder van hierdie wêreld en meer en meer ‘n soeke na God se koninkryk.

Terug na die woorde van die doopformulier en spesifiek die woorde “… te laat onderrig”. Dit wys tog duidelik op die ouers se verantwoordelikheid om toe te sien/te sorg dat hierdie onderrig deur ander tot opbou van ons kinders se geloof moet wees en tot geestelike groei moet lei. Dit gaan hier oor geestelike volwassenheid wat insluit dat ons en ons kinders nie tevrede kan wees met net geestelike melk nie, maar moet honger en dors na geestelike vleis/vaste kos. Hoe kan dit gebeur as ons as ouers ons kinders net by die kerk af- en oplaai vir katkisasie sonder om self die erediens met ons kinders by te woon om God te ontmoet, sy Woord te hoor, Hom te prys met sang en lied, en van Hom die seën te ontvang en as sy kinders, gepantser met die Waarheid, in hierdie wêreld uit te gaan en beeld- en ligdraers te wees? ‘n Op- en aflaai kultuur wys voorwaar op die afwesigheid of gebrek aan die uitleef van die beginsel om jou liggaam as heilige lewende offer wat vir God aanneemlik is, in diens te stel. Ons as ouers kan nie ons kinders hierdie Christelik opvoedende en onderwysende beginsel ontsê of weerhou nie. Sonder dit beleef ons kinders nie ware aanbidding nie en kan daar ook nie nie van ware Christelike onderwys sprake wees nie. Dit begin in die huis. Verseker sterk woorde, maar ontleed en beoordeel (aan die hand van Rom 12:1-2) gerus die volgende aanhaling uit “Got Questions Ministries” se artikel “What is true worship?”: “This passage contains all the elements of true worship. First, there is the motivation to worship: “the mercies of God.” God’s mercies are everything He has given us that we don’t deserve: eternal love, eternal grace, the Holy Spirit, everlasting peace, eternal joy, saving faith, comfort, strength, wisdom, hope, patience, kindness, honor, glory, righteousness, security, eternal life, forgiveness, reconciliation, justification, sanctification, freedom, intercession and much more. The knowledge and understanding of these incredible gifts motivate us to pour forth praise and thanksgiving—in other words, worship!” Hoe kan ons nie in verwondering en in dankbaarheid hierteenoor staan nie? Hoe kan ons dit waag om ons kinders nie in hierdie rykdom van gawes nie te laat deel nie?

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sê nie dat ons kinders in afsondering moet leef en as’t ware uit die wêreld moet onttrek nie. Nee, wat ek sê, is doodgewoon dat ons kinders aan die voete van Jesus Christus die waarheid van kleins af moet leer en hoe om volgens Christus se beginsels te leef – met onderskeidingsvermoë wat op die pad van heiligmaking geoefen word om meer en meer aan Christus se beeld gelykvormig te word. Is dit te veel gevra om van ouers te verwag om hierdie ‘Christelike onderwys’ rondom die Woord in aanbidding binne die erediens te ontvang? Hoe anders gaan ons en ons kinders enige teenstand bied en staande bly in ‘n wêreld (met inbegrip van die openbare skoolsisteem) gekenmerk deur ‘n sinkretistiese omgewing? Wat word bedoel met sinkretisties? Ek glo dis vir vele ‘n onbekende begrip. In kort beteken dit die samesmelting van botsende lewens- en wêreldbeskouings. ‘n Persoon wat so ‘n lewensfilosofie nastrewe en beoefen, kan as ‘n sinkretis beskou word. Dit is iemand wat byvoorbeeld glo dat die Mohammedaan en die Christen beide by die hemel, maar net op verskillende paaie/maniere sal uitkom. So ‘n persoon wil hom-/haarself steeds ‘n Christen noem, terwyl hy/sy die akkommoderende houding handhaaf. Die sinkretisme is ‘n baie gevaarlike en verraderlike beskouing wat veral hedendaags baie sterker na vore getree het. Bekende begrippe/woorde vanuit die Christendom word steeds deur die sinkretis gebruik, maar vreemde idees en praktyke word bygevoeg of met nuwe inhoude gevul en/of met die Woord vermeng en op ‘n (subtiele) wyse wat byna geen wenkbrou laat lig nie. So byvoorbeeld wil hedendaagsie sinkretiste alle godsdienste en geloofsoortuigings in ‘n een-wêreld-godsdiens laat saamsmelt met ‘n nuwe onderliggende moreel etiese raamwerk. Sien ons dit raak?

Dink verder aan hoe Kersfees en Paasfees met nuwe inhoud gevul en/of vermeng is, soveel so, dat byna almal dit vier sonder om noodwendig Christus te ken en te aanbid en te eer vir die ware boodskap vanuit God se Woord. Hoe voed ons as ouers ons kinders Christelik op om die ware betekenis van Kersfees en Paasfees te begryp? Om die skeefgetrekte en verwarrende boodskappe vanuit die wêreld te eien, moet ons kinders die waarheid ken, maar moet daar by hulle die vrymoedigheid wees om antwoorde oor kwellende vrae by hulle ouers te kry. Sonder Bybelse rigtingwysers en sonder die anker van God se Woord, is ons eintlik besig om ons kinders vir die wêreld te “offer”.

Natuurlik sal ons kinders nie van meet af alles verstaan en die gevaarlike teorieë en ideologieë en valstrikke van die lewe eien nie. Maar dis juis hier waar ons opbouend met die nodige dissipline en met goeie effektiewe in gesprek/kommunikasie deurlopend met ons kinders moet tree en wees. Dit kan alleen gebeur indien ons besef dat aanbidding binne die erediens en die ontmoeting met God die geleentheid is waar ons versterkend na die wêreld kan gaan met vernuwende denke om ons roeping uit te leef en God te verheerlik. Daarom is dit belangrik dat ek net meld dat die aanbidding in die kerk ook ons eie aanbiddingspraktyke saam met ons gesin, asook ons eie persoonlike Bybelstudie- en gebedstyd in ons persoonlike verhouding met God kleur en bepaal. Ek wil dit waag om te sê dat sonder erediensbywoning, met inbegrip van ons kinders se katkisasieonderrig met sy onderskeie vertakkinge, kan daar nie werklik sprake wees van ‘n opbouende persoonlike verhouding met God nie. Hoe kan ons werklik ons Christenskap en belydenis in ons skool, werk en gemeenskap laat geld indien ons die gemeenskap van gelowiges in die kerk geringskat of bloot ignoreer en afskeep? Dis juis in en tydens die erediens waar gelowiges gevoed word met die geestelike brood en dan uitgestuur word om God se Waarheid en daarmee saam, sy wysheid en insig te gaan uitleef sonder kompromie te midde van ‘n wêreld waar die leuen en die viering van sonde hoogty vier. Wat is u as ouer se antwoord op sekere tendense, wanvoorstellings en versoekings uit die samelewing (ook in die klaskamer, op die speelgrond en deur die kurrikulum) en ander sosiale situasies waarmee ons gekonfronteer word? Gee ons vir ons kinders liefdevol perspektief vanuit God se Woord? As kerk van Christus is ons en ons kinders elkeen volgens sy/haar gawes tog instrumente in God se hand en moet ons gereed wees om ‘n antwoord te gee oor ons hoop wat in ons lewe (1 Petrus 3:13-22). Hoe reageer ons teenoor die vermaak en programme en aanloklikhede en gedrag van ons tyd en vanuit die kultuur en hoe lei ons ons kinders? Kom ons kyk na enkele voorbeelde:

  • Binne die skoolkurrikulum word aangedui dat die aarde nie geskep is nie, maar ontstaan het met verwysing na die evolusieteorie. Sondag na Sondag bely ons dat God die Skepper is en ons glo dit. Wanneer die skool/handboeke iets anders verkondig, is dit in stryd met ons geloof.
  • As pa en ma stap ons saam met ons kinders by ‘n winkel in waar die LGBTQ+ en ‘pride month’-agenda openlik gepropageer word. Ons kinders vra vrae en stel belang. Vermy ons die gesprek of kan ons op grond van ons kinders se opvoeding en Christelike onderwysing sinvol God se waarheid en beginsels teenoor mekaar bevestig – dit wat ons ook elke Sondag deur belydenis hoor en deel?
  • Iemand stel jou voor aan ‘n televisieprogram wat handel oor vyf welvarende huisvroue wat vir ‘n tyd in mekaar se geselskap is en ervarings deel. In die proses beskinder hulle mekaar, skel mekaar openlik en gebruik krutaal. Daar word selfs ‘n partytjie gereël om ‘n egskeiding te vier. En dit alles tot groot vermaak! Dis wanneer ons deur sulke ligsinnighede, duistere praktyke en selfverafgoding geteister word dat God se Woord duidelik in die erediens spreek met die woord “Maar”. Dit wys op die regte weg – die antitese/teenstelling van die verkeerde weg. Dit is dieselfde antitetiese of teenstellende ingesteldheid wat ons as ouers moet volg wanneer ons kinders na televisieprogramme en stories kyk, en wanneer hulle met sosiale media op rekenaar of selfoon besig is, of wanneer hulle boeke lees. En kinders moet kan verstaan hoekom dit ‘n probleem is. En soos ons kinders op die pad van geloofsgroei vorder en uiteindelik by belydenisaflegging en die pad daarna kom, behoort ouers saam die Here te prys vir die woorde/vraag uit Psalm 119 vers 9 wat vir ons verbondskinders rigting aandui en wat hulle aanspoor om die erediens en aanbidding van ons Here as heilig en noodsaaklik te beskou: “Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou?” En dan die antwoord: “Deur hom te hou aan u woord! 10 Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. 11 Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. 12 Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. 13 Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. 14 Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. 15 U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. 16 Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie”. Hierdie woorde uit Psalm 119 is uiteraard ook bedoel vir grootmense, want dis ook waarheen ons kinders op pad is – om as grootmense, geestelik volwasse, hulle roeping tot God se eer uit te leef.

[Met verwysing na die begrip “selfverafgoding”, wys ek op ‘n artikel wat in GotQuestions.org verskyn het en wat oor moderne vorme van afgode handel: https://www.gotquestions.org/idolatry-modern.html%5D

Ten slotte: Liewe verbondsouer, u is die primêre opvoeder en Christelike onderwys begin in die huis/gesin. Juis daarom moet ons tydens die erediens in aanbidding en in die gemeenskap van gelowiges met God se Woord geestelik gevoed word. Ons moet deur God se Waarheid gesterk word om die antitese as’t ware te word binne ‘n sinkretistiese wêreld. Ons gaan dit nie bloot regkry deurdat ons kinders rympies en mooi verhale memoriseer sonder om die diepte en ware betekenis en boodskap onderwysend vir ons kinders te leer nie. Ek reken u weet waarna ek verwys. Ek dink aan verhale soos die verlore seun, Jona in die groot vis, Dawid en Goliat, en so meer. Dit is verhale wat maklik net ‘mooi stories’ kan word sonder dat dit werklik die hart en verstand aanspreek en tref. Alleen deur ware aanbidding soos hierbo uiteengesit, kan ons en ons kinders die diepte van God se Woord beleef waarmee ons mekaar kan opbou, binne die gesin tussen man en vrou en tussen ouers en kinders en tussen kinders en kinders – tot eer en verheerliking van God drie-enig.

So, voor ons dus besluit of ‘n tipe skool met al sy fasette oorweeg, moet ons die basis reg lê en moet ons begin deur te bou op die belangrike hoeksteen – Jesus Christus. Voorwaar, ‘Christelike onderwys’ begin by die huis as opdrag/mandaat aan ons verbondsouers.

Groetnis!

Lewer kommentaar